Punt of emotikon?

Geplaas deur VivA-redaksie Vrydag 11 Mei 2018
Gepubliseer in VivA;

Hierdie blog is ’n uitgebreide, verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 11 Mei in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees.

Toe Hans Bennis, hoof van die Nederlandse Taalunie, dié week aan die Nederlandse Algemene Dagblad voorstel dat koerante en nuuswebwerwe naas gewone teks in hul berigte en artikels ook emotikons begin gebruik, was Twitter in rep en roer.

Tone

“Gebruik mense jonger as sestig nog emotikons?” vra ’n bekende professor kastig verbaas. “Kommunikasie met emoji’s? Dis apetaal!” sê ’n ander. Wat herinner aan die openingstrefwoord in die Instituut vir die Nederlandse Taal se internetwoordeboekie wat op 1 Mei as ’n geleentheidsboekie verskyn het om die internet se 25-jarige bestaan te vier, naamlik “aapstertgenerasie”: almal wat tussen 1990 en 2005 gebore is en met moderne kommunikasiemiddels soos die internet en e-pos (vandaar die aapstert, die teken @ in ’n e-posadres) grootgeword het.

Dat die internet binne ’n skrale kwarteeu omtrent elke aspek van miljoene mense se bestaan beïnvloed het, kan nouliks ontken word. Ook hoe ons deesdae met mekaar kommunikeer. Uit ons daaglikse kommunikasie, wat al hoe visueler raak, is kletssimbole nie meer weg te dink nie. Met foto’s en emoji’s in WhatsApp- en Snapchat-boodskappe, op Instagram, Twitter, Facebook, noem maar op, vind daar vandag gesprekke plaas waarvoor onlangs nog oproepe gemaak en e-posse en teksboodskappe gestuur is.

Ook die taal- en visuelekommunikasiekundige Neil Cohn wys op hoe emotikons en emoji’s geskrewe kommunikasie kan aanvul of verbeter. Soortgelyk aan die gesigsuitdrukkings en handgebare wat by gesproke taal belangrike inligting verskaf. Lig iemand sy of haar wenkbroue of knipoog die spreker? Dan weet die luisteraar: Wat gesê word, is dalk tergend, ironies of sarkasties bedoel.

By Bennis se voorstel moet ’n mens egter die verskil tussen emotikons en emoji’s in gedagte hou: Emotikons word met leestekens gevorm om emosies aan te dui, soos ’n glimlag :-) of ’n knipoog ;-), ongelukkigheid :-( of verbasing :-o. Die eerste emotikon was die laggende gesiggie, Engels se geel “smiley”, wat reeds van die 1960’s dateer en in die 1980’s en 90’s veral met die ravekultuur geassosieer is. 

Die Japannese woord “emoji”, daarenteen, hou nié met emosies verband nie, maar is ’n samevoeging van die woord “e”, wat ‘beeld’ beteken, en die woord “moji”, wat ‘karakters’ aandui.

Van die kunstenaar-historikus Lilian Stolk het pas, ook in Nederland, Het zonder woorden-boek oor die geskiedenis van emoji’s verskyn. As deel van haar navorsing het Stolk na Japan gereis, waar sy onder andere met Shigetaka Kurita gesels het, die man wat in 1999 die eerste emoji’s bedink het gewoon om groot hoeveelhede teks op klein selfoonskermpies te verminder. Kurita se oorspronklike prentjies was vir weerberigte bedoel: ’n sonnetjie, ’n wolk ...

Die res is geskiedenis: In Japan was dié prentjiesimbole so te sê oornag gewild, maar die emoji-tsunami het die res van die wêreld eers ’n dekade later getref – toe Apple in 2009 sy iPhone in Japan bekendstel, en Google sy Gmail, en die Japannese sê: H’n, nie sonder emoji’s nie!

In Japan het Stolk ook sesduisend emojigebruikers ’n vraelys laat invul. Uit dié respondente se antwoorde het geblyk dat ’n enkele emoji (nes baie woorde ook maar) dikwels ’n klomp verskillende betekenisonderskeidings kan hê. Soos byvoorbeeld die emoji van die meisie met haar arms in die lug.

Aan dié prentjie het Stolk se Japannese respondente nie minder nie as sewentien verskillende betekenisse toegeken. Sy is bly, sy juig oor iets, het sommige aangedui. Nee, dis ’n balletdanser, het ander gesê. Nog ander sien iemand wat met ’n probleem worstel en met die hande in die hare sit, of uit pure moedeloosheid die hande in die lug gooi.

Vir mense wat sukkel om emoji’s te ontsyfer, is daar reeds emojiwoordeboeke!

Een van die dae sal ’n mens selfs uit 2 000 Egiptiese hiërogliewe – die oorspronklik emoji’s! – op jou selfoon kan kies, is dié week berig.

Want al kan die ontvanger van ’n emoji nie altyd uitpluis wat presies die stuurder nou eintlik daarmee wou sê nie, bly dié prentjies supergewild.

Hoekom?

Want hulle bespaar nie net plek nie.

Masahide Yuasa, ’n Japannese neuroloog, het bevind dat ’n emojigesiggie dieselfde deel van ’n mens se brein aktiveer as dié deel wat werklike gesigte herken. ’n Laggende of kwaai emoji kan by die ontvanger daarvan dus dieselfde gevoel as regte vriendelikheid of stuursheid wek.

In Japan egter, het Stolk bevind, behoort die emoji-gier reeds tot die verlede. Op LINE, die Japanse weergawe van WhatsApp, stuur gebruikers deesdae, in plaas van emoji’s, vir mekaar groter prentjies, wat hulle ook self kan maak. Die kans is dus goed, reken sy, dat die emoji-gier ook by ons mettertyd gaan oorwaai.

Dalk is Bennis reg en verloop dit met emotikons wel anders? Want oordeelkundig gebruik, bly dié leestekengesiggies vir skrywers tog nuttige hulpmiddels. Ook dié onder sestig wat woorde en sinne in die juiste konteks wil plaas, emosies wil weergee wat hulle andersins moeilik uitdruk, of dalk net wil keer dat lesers, nogmaals, satire vir soetkoek opeet. ;-)

Of wat sê julle?

Lees 1014 tye Laaste modifikasie op Vrydag 11 Mei 2018 16:55

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK