Is ʼn poep abstrak? Abstrakte selfstandige naamwoorde en hoe om hulle uit te ken

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 31 Mei 2018
Gepubliseer in Nuus;

Kry nou anderdag ʼn navraag van ʼn leerder – hulle moes die verskillende soorte selfstandige naamwoorde in die klas identifiseer, en hulle het geleer ʼn abstrakte selfstandige naamwoord is ʼn ding wat jy nie kan sien nie. Nou wil hulle weet: Is ʼn poep ʼn abstrakte selfstandige naamwoord?

Die gender en die ouderdom van die navraer in ag genome, vermoed ek die vraag was meer ʼn poging om my te verbouereer as om inligting oor selfstandige naamwoorde te bekom. Dit verg ongelukkig (vir die navraer) meer as ʼn poep om my te verbouereer, maar daar is tog ʼn element van geldigheid in die navraag: Daar is, selfs by ervare praktisyns, verwarring oor watter woorde abstrakte selfstandige naamwoorde is en ʼn onkunde oor hoe om dit te identifiseer.

Die skoolvoorbeelde van abstrakte selfstandige naamwoorde wat ons almal geleer het, is natuurlik "liefde" en "haat". Dis akkuraat, want dis goed wat net in jou kop sit en wat jy net kan beleef, maar vir die meeste tieners is nie een van die twee ʼn abstraksie nie. (As jy met ʼn tiener in jou huis sit wat vir die eerste keer verlief is, of vir die hoeveelste keer moet detensie sit oor hy/sy in die klas gepraat het, sal jy ook nie dink liefde en haat is abstraksies nie.) Dit is dus nodig om met ʼn behoorlike beskrywing en toets vir abstrakte selfstandige naamwoorde vorendag te kom waarmee leerders hierdie woordsoort behoorlik kan identifiseer.

ʼn Abstrakte selfstandige naamwoord het twee onderskeidende eienskappe: Dit kan nie getel word nie, en dit kan nie sintuiglik waargeneem word nie. Albei moet geld.

Kom ons begin by die telbaarheid. Die implikasie van ontelbaarheid is dat so ʼn woord nie ʼn meervoud kan kry nie, want daar kan nie meer as een daarvan wees nie, en dat dit ook nie ná ʼn onbepaalde lidwoord (ʼn) kan staan nie, want daar kan nie net een daarvan wees nie. ʼn Soortnaamwoord soos "kat" is iets wat jy kan tel. Daar kan een kat of twee katte of honderde katte in ʼn huis wees, wat beteken dat ʼn mens ʼn sin kan maak soos "Daar sit ʼn kat op die vensterbank." Lesers weet almal dit beteken "een kat". Jy kan nie ʼn sin maak soos "Ek het vir die eerste keer ʼn liefde in my hart gevoel" nie. Jy kan wel skryf "Ek het vir die eerste keer die liefde in my hart gevoel". Liefde is nie telbaar nie, en jy kan nie een of twee of honderde liefdes voel nie.

Moet nou nie deurmekaar raak nie. As jy ʼn sin maak soos "Hy het deesdae ʼn liefde in sy lewe", beteken dit eintlik "Hy het deesdae ʼn geliefde in sy lewe". In hierdie sin verwys "liefde" nie na ʼn gevoel nie, maar na ʼn persoon. Persone kan ʼn mens tel – "liefde" in hierdie voorbeeldsin is dus nie ʼn abstrakte selfstandige naamwoord nie, maar ʼn soortnaamwoord.

Moet ook nie dwaal as daar ʼn maatnaamwoord voor jou abstrakte selfstandige naamwoord is nie. Dit is moontlik om maatnaamwoorde in te span en dit dan te laat lyk en klink asof die ding telbaar is, soos "ʼn sweempie jaloesie", "nie ʼn druppel liefde nie" of "ʼn tikkie hartseer". Hou mooi kop: In al hierdie gevalle slaan die onbepaalde lidwoord (en die telbaarheid) net op die maatnaamwoord ("sweempie", "druppel" en "tikkie"), nie op die abstrakte selfstandige naamwoord nie. Die jaloesie, liefde en hartseer is steeds nie telbaar nie.

Die tweede onderskeidende eienskap van ʼn abstrakte selfstandige naamwoord is dat dit nie sintuiglik waarneembaar is nie. Dit beteken ʼn mens kan dit nie sien, hoor, proe, voel of ruik nie. En net daar dop "poep" die toets. Al is jy hoe skelm met die loslaatslag, jou bure in die klas gaan "poep" een of ander tyd sintuiglik waarneem. Selfs jou temperamentele tiener se waarneembare reaksie op liefde of haat maak dit nie sintuiglik waarneembaar nie. Dis die simptome wat sintuiglik waarneembaar is, nie die kwaal self nie.

Hierdie onderskeidende eienskap is die manier waarop ʼn mens tussen abstrakte selfstandige naamwoorde en massanaamwoorde onderskei. ʼn Massanaamwoord benoem ook ʼn ding wat nie telbaar is nie (soos "sand", "suiker" en "vleis"), maar ʼn massanaamwoord is sintuiglik waarneembaar. Probeer maar jou volgende beker koffie sonder suiker inwurg, dan sal jy vinnig besef hóé waarneembaar dit is.

Met hierdie twee toetse tot ons beskikking, kan ons vinnig en akkuraat bepaal watter woorde abstrakte selfstandige naamwoorde is. Die vetgedrukte woorde in die volgende sinne is almal abstrakte selfstandige naamwoorde:

  • Daar is net ʼn handbreedte tussen trots en hoogmoed.
  • Die ironie is dat hulle eintlik dieselfde is.
  • Dit verg meer moed en deursettingsvermoë as waaroor die meeste mense beskik.
  • Die uitvloeisel van ongesonde liefde is jaloesie, besitlikheid, afguns en selfs nyd.
  • Hoekom moet ek altyd die slegte nuus oordra?
  • Is dit werklik net ongeduld, of bespeur ek ʼn tikkie onverdraagsaamheid aan jou kant?

Mag die abstraksie vir jou hierna helder wees.

VivA-groete

Sophia

Lees 2463 tye Laaste modifikasie op Donderdag 31 Mei 2018 11:42

2 Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel Sophia Kapp Donderdag 31 Mei 2018 13:24 geplaas deur Sophia Kapp

    Hallo Christiaan

    Ek probeer jou antwoord (hopende dat ek jou reg verstaan).

    Daar hoort nie kommas voor die aangehaalde sinne nie, oor die volgende redes:
    Dit is nie direkte rede nie. Die reël by die direkte rede is dat daar ʼn dubbelpunt voor die aangehaalde deel kom, byvoorbeeld:
    • Danie sê: “Daar sit ʼn kat op die vensterbank.”
    Die komma voor so ʼn stuk direkte rede is ʼn Engelse konvensie en is in Afrikaans verkeerd.

    Daar kom ook nie ʼn komma voor ʼn aanhaling nie. Dit is daar ook ʼn dubbelpunt, byvoorbeeld:
    • Greyling (2008:14) stel dit in sy inleidingshoofstuk: “Daar is geen rede tot kommer nie.”

    As jy voorbeeldmateriaal aanhaal (veral oor die taal self) plaas jy dit tussen aanhalings, of jy druk dit kursief of vet. In so ʼn geval pas jy net die voorbeeld in jou sin in op die gewone manier. Jy het geen leestekens buiten die aanhalingstekens nodig om dit te merk nie.
    • ʼn Mens spel “onmiddellik” met twee m’e en twee l’e.
    • Vind die werkwoord in die sinsnede “om ʼn tiener te wees”.
    • Die sin “Die bestuur moet herverkies word” is in die passief.

    Help dit?

    Groete

    Sophia

  • Kommentaarskakel Christiaan Botha Donderdag 31 Mei 2018 12:44 geplaas deur Christiaan Botha

    Hoe lekker lag ek nou. Baie dankie, Sophia. Wens ek het jou as my Afr. onderwyser gehad. My onderwyser herinner my aan die horingou grappie van die seuntjie wat vir sy juffrou gevra het of poep klonte maak. Ek glo jy ken die resen dit en dis my armsalige ou onderwyser: n soliede, grysgeskoende drol.

    Op n ander noot: Is dit nie gebruiklik om kommas te plaas na "soos" en "skryf" in die volgende twee sinne nie: Jy kan nie ʼn sin maak soos "Ek het vir die eerste keer ʼn liefde in my hart gevoel" nie. Jy kan wel skryf "Ek het vir die eerste keer die liefde in my hart gevoel" ?

    Ek weet nie waar jou antwoord gaan wys nie. Vir die wis en die onwis, stuur dit asb. ook na boesmanb@gmail.com.

    Groete

    Christiaan

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK