As hutsmerk magtiger as die swaard is

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Vrydag 06 Julie 2018
Gepubliseer in VivA;

Wat kan iemand vir jou sê wat só erg is dat jy daardie persoon iewers wil gaan aangee?

Dis die lakmoestoets wat my vriendin Suléne voorstel toe ek en sy vandeesweek sit en praat oor my vrees om binnekort weer te begin klas gee. Waarom? Want ek is bang vir milleniërs …

Ek is bang om op my PowerPoints voorbeeldwoorde uit Maleis of Nederlands in skuinsdruk te plaas, want dalk word ek aangekla van profilering van die Ander. (Dis nie verregaande nie. Die jong Filippynse skrywer Isabel Yap het onlangs eiehandig besef dat sy besig is met be-ander-ing (“othering”) as sy in haar Engelse fiksie die anderstalige woorde in skuinsdruk plaas. #ItalicsMustFall)

Ek is bang dat, wanneer ek vir hulle die morfologiese proses van inkorting verduidelik, ek nie die korrekte letters in die regte volgorde van die LGBTQQIP2SAA+-akroniem sal gebruik nie. Of sê nou maar ek spreek die “r” in “allomorf” nie duidelik genoeg uit nie?

Ek is bang om morfologiese verskynsels in verskillende dialekte aan die hand van voorbeelde te illustreer, want dalk word ek van kultuurtoe-eiening (“cultural appropriation”) aangekla. Of miskien juis die teenoorgestelde: Die woord “dialek” brandmerk my dalk as ʼn liberalistiese kommunis wat te veel klem lê op ʼn inklusiewe beskouing van Afrikaans.

Ek moet dalk nie meer die morfologie van manlike en vroulike persoonsname verduidelik nie, want dit etaleer dalk genderbinarisme wat iemand in die klas ongemaklik kan laat voel. Maar as ek dit uit die kurrikulum weglaat, maak ek my dalk juis skuldig aan ontkenningsideologie (“denialism”).

En ek is bang om hulle “gogga”, “bokkie” of “skapie” te noem, soos ek hulle – mý studentkinders – nog al die jare liefdevol noem. Vanmelewe se dae het ek sommer maklik vir ʼn sukkelende student wat onverwags ʼn toets deurgekom het ʼn drukkie gegee. Deesdae raak ek niemand meer aan nie. Dalk moet ek ook maar voortaan formeel volstaan met ʼn dames-en-here? Maar o wee, dan is ons terug by binarisme, by alliansieskap (“allyship”) en dat ek dalk nie bewus-empaties (“woke”) genoeg is nie. As ons Afrikaanse terme vir “snowflake” en “libtard” had, was ek dalk een van hulle?

Is ek regtig bang vir milleniërstudente? Nee, ek is eintlik woedend-kwaad vir die hutsmerkisme (“hashtagism”) van die bloed-en-vleesdorstige zombies op überlinkse en hiperregse Facebook en Twitter. Want dis hulle, nee, eintlik óns wat ʼn nuwe generasie van hipersensitiewe fanatici geskep het, ʼn hele wêreld wat mediageil en skuimbekkend sit en wag om met duimpie-af die wraakgierig internetgladiatore op mekaar los te laat.

Skrywer-joernalis Christopher Hitchens het gesê: “Those who are determined to be offended will discover a provocation somewhere. We cannot possibly adjust enough to please the fanatics, and it is degrading to make the attempt.”

In die 1970’s is ons gemuilband is deur wette en publikasierade. Ons spraak is in die 1990’s kortstondig bevry deur ʼn wêreldwyd volprese Grondwet. En nou? Nou word ons ingekerker deur ʼn tydsgees wat uiteindelik geleer het: Die hutsmerk is magtiger as die swaard. #hiephiephoera

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 06 Julie 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 616 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK