Taalkundefees in Kaapstad

Geplaas deur Jana Luther Dinsdag 10 Julie 2018
Gepubliseer in VivA;

Wat is taal? Waar kom taal vandaan? Hoe werk taal?

Die wetenskap wat hom met die aard en ontwikkeling van taal bemoei, met al die beginsels en fasette onderliggend aan taal, is die linguistiek.

Sonder taal sou omtrent geen menslike aktiwiteit kon plaasvind nie. Ons eenvoudigste denke, kennis van die geskiedenis, ons navorsing oor elke aspek van die wêreld en die heelal waarin ons ons bevind (liggaamlik, ekologies, geestelik), ons kulturele erfenis, saketransaksies, kommunikasie oor gesondheid, ons individualiteitsgevoel, die mens se gemeenskapsbewussyn, noem maar op. Dit alles berus op taal. 

Vir elke vorm van kennis is kennis van taal die alomteenwoordige grondslag. 

Die eerste internasionale kongres van taalkundiges is in 1928 in Den Haag gehou. Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat die taalkunde as ’n outonome studiegebied aangebied is. Tydens dié nooienskongres is ’n permanente internasionale komitee van taalkundiges (die Comité International Permanent des Linguistes, CIPL) in die lewe geroep. Sedert 1945 word die CIPL deur Unesco beskerm, die Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies.

Sedert 1928 vind ’n internasionale linguistiekkongres elke vyf jaar plaas. Ná die eerste een in Nederland het byeenkomste gevolg in Switserland (Genéve, 1931), Italië (Rome, 1933), en Denemarke (Kopenhagen, 1936). Die volgende kongres, wat in 1939 in België (Brussel) gehou sou word, is weens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog afgelas.

Ná die oorlog is die kongresse hervat. In 1948 het taalkundiges van dié tyd in Frankryk (Parys) vergader, in 1952 in die Verenigde Koninkryk (Londen), in 1957 in Noorweë (Oslo), in 1962 in die VSA (Cambridge, Massachusetts), in 1962 in Roemenië (Boekarest), in 1972 weer in Italië (die keer in Bologna), in 1977 in Oostenryk (Wene), in 1982 in Japan (Tokio), in 1987 in Duitsland (Berlyn), in 1992 Kanada (Quebec), in 1997 weer in Frankryk (Parys), in 2003 in Tsjeggië (Praag), in 2008 in Suid-Korea (Seoel), en in 2013 die tweede keer in Switserland (Genéve).

Vanjaar, in 2018, was dit Suid-Afrika se beurt.

Van 2 tot 6 Julie is die Internasionale Kongres van Taalkundiges (die International Congress of Linguists) vir die eerste keer op die Afrikavasteland aangebied. In die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (die Kiks, beter bekend as die CTICC). Hier het taalkundiges uit tientalle lande verlede week byeengekom en oor vyf dae, in 10 parallelle sessies, sowat 650 referate gelewer en altesaam 27 werkswinkels gehou. In aansluiting by die kongrestema: Die dinamiek van taal.

’n Legio onderwerpe is aangeroer – uit die historiese taalkunde; morfologie; sintaksis; taaltipologie; fonetiek en fonologie; psigolinguistiek; semantiek; pragmatiek; leksikografie; sosiolinguistiek; taalvariasie, taalverskeidenheid, taalverandering; die invloed van migrasie en globalisering op taal; situasies waarin verskillende tale met mekaar in kontak is; meertaligheid; taalonderrig en taalbeleid; ook gebaretaal. 

Genoeg om die beker te laat oorloop van enigiemand wat selfs maar enigsins in taal belangstel! 

Die kongres is bygewoon deur van die wêreld se voorste taalkundiges. En Suid-Afrikaanse navorsers – veral ook jong taalkundiges – het geskitter! Te veel om te noem, in die vrees dat ek iemand gaan oorslaan.

Besoek dus liewer self die webblad, icl20capetown.com, en kyk na die indrukwekkende program van 87 bladsye en 471 bladsye opsommings. Soek op Twitter die hutsmerk #ICL20 vir die intydse indrukke van kongresgangers, en hoor in die meegaande podsending ’n paar van hulle stemme.

Vir ’n heuglike taalkundeweek, puik georganiseer: Dankie aan die voorsitter van ICL20, prof. Rajend Meshtrie van die Universiteit van Kaapstad se linguistiekdepartement; die CIPL; die Suider-Afrikaanse taalkundeverenigings (LSSA, SAALA, ALASA, WOCAL en Afrilex); en die vriendelike personeel van Kaapstad se wêreldklaskonferensiesentrum.

 

Lees 544 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 10 Julie 2018 11:04

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK