Uitblinker

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 25 Julie 2018
Gepubliseer in Nuus;

Marlie Coetzee, VivA se raakvat-bestuurshoof, het onlangs haar MBA behaal en het ʼn spesiale toekenning vir ʼn projek ontvang. Ons het haar gevra om so ʼn paar vrae oor haar studie te beantwoord sodat ons met haar kan spog.

VivA: Vertel vir ons waaroor jou studie gegaan het.
Marlie: Ek en my man, Martin-David Coetzee, het vanjaar ons MBA-grade aan die NWU se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur verwerf. By tye was die MBA-studie veeleisend, maar dit is beslis die moeite werd.
V: ʼn Mens spesialiseer mos as jy ʼn MBA doen. Waarop het jy gefokus?
M: Ek het my skripsie oor Aardklop gedoen. Daarin het ek gefokus op feesgangers se persepsie oor die kwaliteit van produkte en dienste by Aardklop. Ek het ook ʼn model ontwikkel, onder andere geskoei op Maslow se hiërargie, van behoeftes en ander bemarkingsbeginsels. In my skripsie het ek spesifiek ondersoek ingestel na die korrelasie tussen feesgangers se persepsie van die kwaliteit van produkte en dienste en hulle bereidwilligheid om toegangskaartjies vir die Aardklop-terrein en -produksies te koop. Die Engelse titel vir die model wat ek ontwikkel het, is Understanding the correlation between consumers’ perception towards purchasing arts festival tickets.
V: Wat was die uitslag van die ondersoek? Is Aardkloppers positief of negatief oor die fees?
M: My navorsing het aangedui dat feesgangers van mening is dat die kwaliteit van produkte en dienste by Aardklop baie hoog is. Dis hoekom hulle steeds in groot getalle opruk Potchefstroom toe om die vertonings by te woon en om die feesterrein te besoek, al knou die ekonomie. Maar daar is tog kwessies waaraan organiseerders kan aandag gee om feesgangers se ervaring te verbeter en te verryk. Dis nie rede tot kommer nie, sulke "leemtes" bestaan maar in elke groot onderneming, en ek beskou dit gewoon as ʼn geleentheid om die aanbod te verbeter.
V: Is dit al werk wat jy oor Aardklop gedoen het? Ek het verstaan daar was nog ʼn projek.
M: Een van ons modules, Strategiese Bestuurstoepassing, het van ons vereis om in groepsverband ʼn volhoubare strategie saam te stel vir ʼn maatskappy van ons keuse.
V: Wag nou, wie is "ons"? Net jy en Martin-David?
M: Nee, ons groep het bestaan uit vier lede: ek (VivA se bestuurshoof), Martin-David (hy is ʼn ingenieurskonsultant), Steven Quinn (ʼn prokureur) en Quinton Barnes (ʼn rekenmeester). Ons promotor vir die projek was Prof. Ronnie Lotriet – programbestuurder van die MBA by die NWU se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur.
V: Waaroor het julle projek gehandel?
M: Ons het ook oor Aardklop navorsing gedoen. Ons woon almal in Potchefstroom, en ons is almal lief vir Afrikaans, die kunste en ons gemeenskap, en dit was ʼn natuurlike besluit om op Aardklop te fokus. Die projek vereis van studente om navorsing te doen oor die maatskappy, om swak- en sterkpunte te bepaal, geleenthede te identifiseer, 'n behoeftebepaling van gebruikers te doen en dan ook volhoubare planne ter verbetering, wat maklik implementeerbaar is, voor te stel.
V: Dis baie werk! Hoe het julle dit ervaar?
M: Ons groep beskou hierdie werk wat ons vir Aardklop gedoen het as die hoogtepunt van ons MBA-studie. Dit was vir ons ʼn geleentheid om aan die gemeenskap waarvan ons deel is, terug te gee. As ons ons werk goed gedoen het, het ons hopelik vir almal wat by die fees betrokke is, ook die besoekers, waarde toegevoeg.
V: Julle groep het wel besonder presteer. Vertel ons daarvan.
M: Ons is tydens die prysuitdeling by die MBA-glansgeleentheid aangewys as die groep wat hierdie jaar die beste maatskappyprojek gedoen het. Daarvoor het ons die Aspen Pharmacare-trofee ontvang vir die toppresteerders in Strategiese Bestuurstoepassing.

 

Baie geluk, Marlie! Ons is bevoorreg om jou saam met ons in VivA se span te hê.

Lees 1023 tye Laaste modifikasie op Woensdag 25 Julie 2018 08:34

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK