Dink aan nóg nuwes, behalwe googleloer ...

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Vrydag 03 Augustus 2018
Gepubliseer in VivA;

ʼn Gunstelingtydverdryf onder taalaficionado’s is die soeke na sogenaamde onvertaalbare woorde.

Skuinskoek, padkos, hartbeeshuis en rooibostee.

Gesoute vertalers of taalkundiges sal jou dalk gou vertel dat dit nie vreeslik interessant is nie. Ek is egter nog laf genoeg om iets sinnigs daarin te probeer soek.

My uitgangspunt? Die aantal nuwe woorde wat per jaar/dekade/eeu in ʼn bepaalde taal gemunt word, gee dalk ʼn aanduiding van die kulturele, kreatiewe en intellektuele innovasiekragdadigheid van daardie taal se land en mense.

My hipotese? In ʼn globaliserende wêreld word nuwe ontdekkings en uitvindsels toenemend in die Anglo-Amerikaanse omgewing gemaak en benoem. Ander tale loop dus toenemend (of dalk nog altyd?) agter Engels aan, hetsy deur die nuwe woorde te vertaal of net so oor te neem.

Dalk gee ek nie genoeg erkenning aan Sjinees, Russies, Frans, Spaans en Duits as wetenskapstale nie? Dalk registreer die Swede en Turke jaarliks honderde patente? En dalk vertaal die Griekse pers meer woorde uit Arabies as wat hulle self skep? Ek dink nie so, maar bly oop vir oortuiging …

Hoe lyk Afrikaans se innovasiebeleggings? Wat het ons oor die eeue heen ontdek of uitgevind en éérste benoem, sodat ander mense daarna die Afrikaanse woord moes vertaal of leen?

Dis maklik om weg te spring met inheemse plante en diere: fynbos, dawidjies en oupa-se-pyp; duiker, steenbok en klipspringer.

Op kulturele gebied is kosname voor die hand liggend: hertzoggies, roosterkoek en potjiekos. Speletjies is ʼn markante kategorie: bok-bok-staan-styf, kleilat en hopielê. (Iets soos kennetjie tel nie, want dis ʼn baie ou, internasionale spel.) Sakkie-sakkie, sokkie, langarm, vas dans en alle ander ekwivalente daarvan verdien spesiale vermelding. In Suid-Afrikaanse Engels is dit windsurfing.

In die kreatiewe leefwêreld wemel dit natuurlik van nuwighede. Dink sommer aan Coenie de Villiers se soldatehemel en pomelomaan; Anton Goosen se byeboerwa en liedjieboer; Breyten Breytenbach se woordstopseltjies en roekoerkoerborste.

Maar as dit kom by innovasies en die intellektuele leefwêreld (dus uitvindings en gedagtegoed), kras ons tot stilstand. Die eerste woord wat iemand op ʼn Facebookgroep ophaal, is … apartheid. Daarmee saam word ʼn hele klomp ander verbandhoudendes aangedra: tuisland, dopstelsel en dompas.

Met uitvindings kom ons op Facebook nie verder as hartbeeshuis, kakebeenwa, bekslaner, dolosblok en ventertjie nie. Anders as laasgenoemde tel die Rooivalk nie, want dit is ʼn handelsnaam wat vir ʼn spesifieke soort veghelikopter gebruik word.

Nuwerwets kan ek net aan googleloer dink. Dis anders as om te google, want as jy googleloer, dan soek jy iets blits-blits op en verwag die antwoord op die trefslagbladsy, sonder om verder hoef te klik.

As jy dalk aan nog inheemse uitvindings of gedagtegoed (dus nié diere, plante, kos en speletjies nie) kan dink wat oorspronklik in Afrikaans benoem is, laat hoor asseblief van jou.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 03 Augustus 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 706 tye Laaste modifikasie op Donderdag 16 Augustus 2018 15:40

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK