Is een woord genoeg?

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 18 Augustus 2018
Gepubliseer in VivA;

As daar klaar ’n woord is vir ’n ding, hoekom wil ’n mens nog ’n woord hê? “Venue” naas “plek”, “app” naas “toep”, “smoothie” naas “gladdejantjie”?

Want sinonieme maak ’n taal groter en sterker. Soos sy rykdom aan fyngenuanseerde sinonieme byvoorbeeld van Engels ’n groot, sterk taal maak.

Hoe meer woorde en frases ’n mens ken waarvan die betekenisse in ’n hoë mate ooreenstem sodat hulle mekaar in verskillende kontekste kan vervang, hoe fyner kan jy jou uitdruk.

Engels het sy woordeskat oraloor gaan haal, nes Nederlands, waaruit Afrikaans ontwikkel het. Van die Middeleeue af tot in die 17de eeu was Frans die taal wat beide Nederlands en Engels sterk beïnvloed het. Ook woorde uit ander Romaanse tale: Italiaans, Portugees, Spaans, dus ook Latyn, en woorde uit Klassieke Grieks is opgeslurp. Baie woorde wat Afrikaans via Nederlands gekry het, lyk dus ook op Engelse woorde uit daardie tyd. Taalpuriste wat dié geskiedenis nie ken nie, probeer hulle ná duisend jaar steeds vermy.

Afrikaans het talle sinoniempare waarvan die een Germaanse en die ander een Romaanse wortels het – “mening” en “opinie”, “verskoning” en “ekskuus”, “wedstryd” en “kompetisie” ... Vir baie Romaanse woorde (“ambisieus”, “formeel”, “kommunikasie”, “nommer”, “professor”, “universiteit”) het ons nie Germaanse sinonieme nie.

Hoewel woorde soos “doek” en “lap” min of meer dieselfde beteken, is alle sinonieme, nes ’n vadoek en ’n waslap, nie in alle omstandighede ewe bruikbaar vir dieselfde ding nie. Daar is altyd subtiele en minder subtiele verskille, veral wat register betref. Die regte woord is die een wat die beste pas by die konteks waarin dit gebruik word: pretensieus, deftig, formeel, informeel, sleng, skertsend, ironies, sarkasties, eufemisties, neerhalend, plat, vulgêr ...

Engels en Nederlands versamel stééds sinonieme van oral. Nes Afrikaans by die dominante taal waaraan hy taalhistories verwant is, woorde soos “app”, “boyfriend”, “funky”, “hip”, “lunch”, “nerd”, “smoothie”, “steak”, “wrap”, ensovoorts, bly leen. Taalsuiwerheid bly die norm, ja, maar taalverandering is ’n natuurlike proses en die norm is feilbaar.

In plaas van oordrewe op “taalsuiwerheid” aan te dring en jong mense se taalgebruik as onsuiwer te stigmatiseer: Hoe maak ons die vak Afrikaans vir kinders lekkerder? Wat meer kan ons doen om by kinders ’n leeskultuur én ’n woordeboekkultuur te vestig; sodat hulle woordeskat en hulle sinoniemskat saam met hulle leesvaardigheid kan uitbrei?

In woordeboekportale en in aanlyn en vanlyn toepassings is Afrikaanse woordeboeke en tesourusse vandag tot die beskikking van elke Afrikaansleerder wat tot ’n rekenaar en/of slimfoon toegang het. Baie selfs gratis. Terwyl almal dit skynbaar eens is dat die aanleer van woordeskat die grondslag van taalleer behoort te vorm: Waarom versuim soveel onderwysers en ouers steeds om kinders aan hierdie bronne bekend te stel?

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 27 April 2018 verskyn.

Lees 121 tye Laaste modifikasie op Saterdag 18 Augustus 2018 08:58

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK