Salpetus?

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 18 Augustus 2018
Gepubliseer in VivA;

“As jy in die Vrystaat bergklim en voorouers se grafte besoek, sal jy op natuurskatte soos die salpetus afkom.” Dié sin in ’n graad 10-Afrikaans Addisionele Taal-handboek het dié week minstens een Afrikaansonderwyser en haar leerders laat kopkrap.

“Salpetus?” kom die e-pos.

Nie een van die 47 woordeboeke in VivA se Woordeboekportaal weet raad nie. Nie die HAT nie; nie die WAT nie. Nie die AWS, of die tesourus, of die spreekwoordeboek nie. Nóg die Afrikaanse Wiktionary, nóg die Afrikaanse Wikipedia. “Ongelukkig is daar geen resultate vir ‘salpetus’ nie,” berig Pharos Aanlyn. Google bring “omtrent 7 resultate”, maar in tale waarvan ons g’n snars verstaan nie.

Ten slotte fantaseer ons maar oor wat ’n salpetus moontlik sou kon wees, want dié woord – daarvan is ons taamlik seker – bestaan (nog nie) in Afrikaans nie. ’n Raaiskoot is dat dié “salpetus” dalk “salpeter” moes gewees het, wat dan moontlik kan verwys na klipsweet: ’n benaming vir die bruinswart stof wat soms in klipskeure en -holtes en onder oorhangende rotse aangetref word, gevorm uit soute in die urine van dassies, en soute, soos kalk- en mangaansoute, uit die rotse self; ook sure en organiese stowwe uit plantreste, dikwels vermeng met die reste van swamgroeisels en verrotte oorblyfsels en uitwerpsels van insekte wat deur die dassies en hul uitwerpsels aangelok word.

Dié episode het my aan soortgelyke flaters laat dink. Soos die een in die vyfde uitgawe van die HAT, wat in 2005 verskyn het, byvoorbeeld. Oor dié glips het g’n haan ooit gekraai nie, maar toe ons een oggend omblaai, toe staan dit daar. Dié definisie op bladsy 905, die eerste bladsy van die letter “R”, by die eerste betekenisonderskeiding van “raad”: “Wat ’n mens kan bedink as ’n uitweg uit ’n malachite, as enigeen van ’n aantal moontlikhede, of as middel om iets te bereik.”

Huh? Ek gaan delf in die argief; vind eindelik die regte stel bladsye van die vierde uitgawe, met verbeteringe in wyle prof. Francois Odendal se handskrif. Van 1972 af tot kort voor sy 79ste verjaardag het hy aan die HAT gewerk. Hand op papier. Ek moet mooi kyk. Sowaar. Daar staan dit: “malachite”. Of nee. Wag. “Wat ’n mens kan bedink as ’n uitweg uit ’n ... moeilikheid!” 

Danie Botha, dink ek was dit, van 1972 tot 2002 fiksieredakteur by die ou Tafelberg, of dalk Louise Steyn, redakteur van kinder- en jeugboeke, wat die storie vertel het van “Mietsie bak koek”. ’n Prag-volkleurkinderboek wat in die tyd van die legendariese, puntenerige produksiehoof mnr. Jürgen Fomm drukker toe is. Toe die bokse met 2 000 eksemplare afgelewer en oopgemaak word, staan daar in vrolike letters op die omslag: “Mietsie kak boek”. Die “b” en die “k” omgeruil!

“Wie die skuld hê waar die fout?” soos Sheila Cussons in Hera se kombuis sou vra.

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad.

Wie sal ons die sondebok maak? Die woordeboekmaker? Die setter? Die illustreerder? Die omslagontwerper? Die redakteur? Die proefleser? Die drukduiweltjie?

Soos die fout wat doelbewus in ’n tapyt ingeweef word om te wys die wewer is nie volmaak nie, so laat uitgewers ook soms ’n stekie glip.

As dit niemand skade berokken nie en die leser laat glimlag, is dit miskien glad nie so erg nie.

 

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 9 Augustus 2018 verskyn.

Lees 81 tye Laaste modifikasie op Saterdag 18 Augustus 2018 17:27

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK