Proe hoe soet ’n ghoukom smaak

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 25 Augustus 2018
Gepubliseer in VivA;

“Laat jou verhemelte die woorde proe.” Dit sê T.T. Cloete? In “Verhemelte” in sy bundel Met die aarde praat (1992). En Job 12:11: “Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte kos proe nie?”

Daaraan dink ek vandag. Die Elektroniese WAT voor my oop. Die letter "g" van die CD-ROM-uitgawe. Gelok deur die WAT se woorde van die week: “ghoef”, “ghoeliegoen”, “ghoema”. 

Ek laat my dikwels deur die WAT verlei. Woorde van allerlei soorte het ek nodig soos kos. Vandag rol ek my tong om die suigklapklanke van Namakwaland.

 

 

Ek luister na Coenie; “proe hoe soet ’n ghoukom smaak”; vind van Kamieskroon tot Kommagas, tussen ghwarriebos, g(h)narrabos en ghneitjies, ghabessies, ghommabos en ghaap, die rielende vygies van die Khoi-Khoin se Nama-gu-a-land, ’n karnaval van diere:

Die ghabera – suigklank op die eerste lettergreep. Die geelvaal akkedis wat soms ook ghaberietjie heet.

Die ghaip, of gheip. In Standaardafrikaans die maanhaarjakkals, wat in streektaal ook verskeie ander name het: aardwolf, erdwolf, nadroe, neip, ghie, ghob, ...

Ghallaghielies is paddavissies. Die heel kleintjies, ghallaghielietjies, of ghallaghoetjies.

Die ghamtap met sy waaierstert se ander naam is grootgemsbokmuis.

Die ghannaghoetjie, ook ghallaghoetjie, is die blinkswart toktokkie wat met sy agterlyf teen die grond klop-klop. Die padlopertjie met die wit kolletjie, die “briefie”, onder sy maag, wat hom nog ’n naam – briewedraertjie – besorg.

Oor die ghartjie, of gharretjie, die stokstertmeerkat of graatjie, en die kleingrysmuishond, het Gerhard verlede week geskryf.

Die dghikghei, kortweg ghei, of dikdei, is ’n vet, geelbruin akkedis.

Ghoenghoentjie is ’n klipsalmander.

Die ghongghoep, of ghorghorra, ’n duisendpoot.

Met die uitsondering van “ghallaghielie” dalk (oor die herkoms waarvan die WAT nie leiding gee nie), kom al die woorde hier bo uit die Khoi-taalgroep. ’n Groot aantal van hierdie leenwoorde is onder “gh-“ in die WAT opgeneem, wat beteken dat die meeste van hulle met ’n klapkonsonant, of in ’n paar gevalle selfs twee klapkonsonante uitgespreek behoort te word.

Daar word aangevoer dat ruweg ’n driekwart van die woorde in Khoi met ’n klikklank begin.

Van hierdie klikke is lateraal, soos die tongklik wat ’n mens soms hoor by iemand wat ’n perd aanspoor. Ander klapklanke word gemaak met die punt van die tong teen die boonste, harde gedeelte van die verhemelte – wat ’n geluid voortbring wat nogal klink soos dié van ’n kurkprop wat uit ’n bottel getrek word.
Dis dus te verstane waarom daar by van die leenwoorde met “gh-” dikwels ook verwys word na ’n vorm met “k-”. Want Afrikaanse tonge suig en klap nou maar een maal nie so maklik nie.

In die meegaande podsending doen ek my bes om dit reg te kry, maar moedertaalsprekers van Khoi gaan waarskynlik lê soos hulle lag. Presies hoe elke klap moet klink, dit weet net die gebore en getoë Namakwalander.

Met “k” as beginletter sê plantname soos “kaambessie”, “kambietjie”, “kam(m)assie”, “kammiebos”, “kannapatat” darem heelwat makliker. En so staan hulle natuurlik ook ’n beter kans om in ander variëteite van Afrikaans opgeneem te word.

’n Hele aantal ontlenings uit Khoi is ook opgeem by “n”: “nabba”, “namtap”, “narra”, “neipjakkals”.

Die WAT is enig in sy soort. Die enigste omvattende woordeboek van Afrikaans – van die Kaap, Namakwaland, tot by die Gariep; deur al nege provinsies, tot in Namibië.

Sonder hulp kan die WAT nie voortbestaan nie. Elke boekdeel, CD-ROM, subskripsie wat verkoop word, elke donasie is vir sy voltooiing deurslaggewend.

Die sukses van die WAT se Borg ’n Woord-kompetisie, waarin ’n mens vir R100 enige Afrikaanse woord kan “koop”, behoort ’n mens dus bly te maak. 

Ek het ook by die WAT ’n woord gekoop. Wat was dit nou weer? Ek soek die sertifikaat, die stuk papier met die enkele woord daarop. Ek kry dit nie. Dit skeel my min.

Want sien: Vir die skamele prys van vyf woorde het ek, vir my, die hele WAT gekoop.

Op ’n enkele CD-ROM, en in VivA se aanlyn app, op ’n slimfoon wat pas in die palm van my hand, dra ek oral waar ek gaan al 13 boekdele, meer as 8 300 bladsye, meer as 200 000 trefwoorde saam, en nog baie meer. Van Afrikaans in al sy geure. Wat ek na willekeur op my tong kan proe.

Jy kan ook. In VivA se Woordeboekportaal. By viva-afrikaans.org.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog het op 24 Augustus 2018 in Beeld verskyn.

Lees 1425 tye Laaste modifikasie op Saterdag 25 Augustus 2018 14:29

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK