Vanwaar kom "poenankies" dan, Gehasi?

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Vrydag 31 Augustus 2018
Gepubliseer in VivA;

“Sê nou jy glo jy is dom, vet en lelik, dan sal jy nie ver in'ie lewe kom'ie, al dink anner mense ok jy's vreeslik poenankies.”

Só preek Zita vir haar sustertjie in Anzil Kulsen se 2006-debuutroman.

Poenankies beteken ‘oulik’ of ‘fraai’, ʼn lekker alternatief vir die slengwoord cute. Dis ʼn ou bekende woord in die suideliker en westeliker vorme van Afrikaans, maar het eintlik eers onlangs meer bekendheid in die res van die land begin geniet. In die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls word poenankies vir die eerste keer as Standaardafrikaans erken.

As jy ʼn oningewyde poenankies-gebruiker soos ekke is, is dit belangrik dat jy van ʼn paar taalkundige aspekte van die woord kennis neem.

  1. Fonologie: Die klemtoon in die woord is op die eerste lettergreep. Jy spreek dit POE-nang-kies uit, en nie *poe-NANG-kies of *poe-nang-KIES nie.
  2. Morfosintaksis: Die woord is in sy wese ʼn byvoeglike naamwoord wat ná die werkwoord in ʼn sin staan (predikatief), maar nooit vóór die naamwoord nie (attributief). Jy sê dus Die olifantjie is poenankies, en nie *Die poenankies(e) olifantjie nie.
  3. Morfosintaksis: Die HAT beweer dat jy poenankies ook as bywoord kan gebruik (sê nou maar iets soos Die kindertjie loop alte poenankies vir woorde), maar ek kry nêrens dié bywoordelike gebruik in korpusse nie. Bly dus liewers by X is poenankies – dan is jy veilig.
  4. Morfologies: As byvoeglike naamwoord moet poenankies eintlik ook trappe van vergelyking kan neem. Maar nee, ek kry ook geen bewyse in korpusse vir *poenankieser en *poenankiesste, of *meer poenankies en *mees poenankiese nie. Die waarskynlik rede sal flussies blyk.
  5. Sintakties: Ofskoon ʼn mens sinne van die soort X is poenankies kry, is die patroon eintlik altyd iets soos X is so / tog te / alte / vreeslik / lekker / poenankies. Geen wonder poenankies is sku vir trappe van vergelyking nie, want sy buurwoorde dui alreeds op ʼn soort affektiewe intensivering.

Maar vanwaar poenankies, Gehasi?http://namakucell.blogspot.com/2016/12/sirih-pinang.html

Geen etimologiewoordeboek sprak ʼn sprook oor die herkoms van die woord nie. Ek vra en snuffel rond, en uiteindelik kom die bekende skrywer en historikus Dan Sleigh tot my redding met ʼn aanneemlike verklaring.

In Indonesies verwys die woord pinang (ook pineungpining of penang in van die ander omliggende tale) na ʼn soort kouding wat al eeue lank in daardie geweste gebruik word. Dit bestaan uit die neut van die arekapalm (Areca catechu) wat met gebluste kalk gemeng word en dan in ʼn blaar van die betelpeperplant (Piper betle; ook bekend as betel, siri of sirih) toegedraai word. Die gebluste kalk (meestal afkomstig van koraal of skulpe) is noodsaaklik om die arekoline (ook geskrywe arekolien of arekalien – een van die chemiese bestanddele in die arekapalmsaad) te hidroliseer in arekaïne (ook arekaïdien, arekaïen of metielguvasien – ʼn alkaloïde (ook alkaloïed) wat ʼn sterk onderdrukker vir die heropname van gamma-aminobottersuur is).

Om die chemiese brouseltjie enigsins mondelings aanneemlik te kry, word dit dikwels gemeng met naeltjies, heuning, gemaalde neute, vrugte, soethout, pruimtabak, en so meer.

Die pinang (in Afrikaans betelpruim en in Engels paan) is dan so groot soos 'n druiwekorrel wat jy as ʼn soort opkikker kou: verfrissend, energiegewend en hongerstillend, maar veral ook effens verdowend (en dus potensieel verslawend). As jy betelpruim kou, kleur dit jou speeksel bloedrooi en, met langdurige gebruik, ook jou tande. En met rooi speeksel en tand is dit natuurlik ʼn hink-stap-sprong na een van die potensiële newe-effekte van betelpruim, naamlik tandvleiskanker. 

Nou, in 1710 kom Jan van Riebeeck se kleindogter Johanna Maria uit die Ooste in die Kaap aan. Dit smaak ons sy was lief vir betelpruim, want sy skryf in ʼn brief aan haar pa, Abraham van Riebeeck (wat toe nog in Batavia woon), dat sy “een pinanckie wel wense soude te mogen hebben, tot vervrissing van de mont” (D.B. Bosman (red.:), Briewe van Johanna Maria van Riebeeck en ander Riebeeckiana, Amsterdam,1952, p.77).

Die woord pinanckie wat sy gebruik is waarskynlik die verkleiningsvorm van pinang, en selfs die gemiddelste van astrofisici sou kon uitwerk dat ons maklik deur klankverandering van pinanckie na poenankie kon vorder.

Maar ons ken in Afrikaans nie poenankie nie – slegs poenankies. Waar kom daai -s dan vandaan? Wel, hy is myns insiens eintlik deel van die -ies-agtervoegsel wat ons ook kry in saggies, stilletjies, mooitjies, liefies, ensovoorts, maar ek is oop vir oortuiging dat dit andersins gewoon ʼn meervouds-s sou kon wees, soos in koninkies, torinkies en dorinkies.

ʼn Belangrike skakel in dié etimologiese uitleg, is Dan Sleigh se teorie dat die woord pinang uitgebreid toegepas moes gewees het op enigiets wat lekker, aangenaam, troostend, gerusstellend en welgevallig is. Só gesien, kan ons maklik verklaar dat die woord deur betekenisverbleking naderhand slegs verwys na iets wat oulik en fraai is, soos ons dit vandag ken.

Maar vir hierdie deel van die teorie – dat pinang of pinankie na enigiets lekkers of aangenaams kon verwys – kort ons nog konkrete bewyse. As jy dalk iewers iets opspoor wat ons kan help om die raaisel finaal op te los, laat hoor gerus van jou.

Luister gerus na die uitgebreide podsending oor verskillende aspekte van die woord poenankies.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 31 Augustus 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 429 tye Laaste modifikasie op Vrydag 31 Augustus 2018 07:01

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK