Die baie groot raaisel (vir my) omtrent baie

Geplaas deur VivA-redaksie Donderdag 13 September 2018
Gepubliseer in VivA;

Deur G. (Ollie) Olwagen

Sou ’n hoëfrekwensiewoord soos baie nie veel eerder uit ’n Dietse oord in die oorwegend Dietse kern van Afrikaans ingekom het nie, eerder as uit die Ooste om die Hollandse seer en veel uit ons taal te “verdryf”? Só vra die skrywer van hierdie blog, ’n joernalis wat baie graag die mening van kenners wil hoor – trouens, van elkeen wat meen dat hy of sy ’n kundige bydrae hieroor te lewer het . . . 

Ek het sowat twintig jaar gelede (toe ek my eie familiegeskiedenis intens nagevors en selfs vir nuut opgespoorde Ollie-verwante op die ou familieplaas in Nedersakse gaan kuier het) agtergekom dat hulle in hul “Platduits” die woord bannig (met verwante uitsprake) het wat presies oorstem met die Afrikaanse woord baie.

Veel later sou ek ook oorgenoeg inskrywings op die internet vind waar die Noord-Duitsers, ondanks hul verdwynende Platduitse dialekte, blykbaar steeds bannig sou gebruik soos ons baie gebruik:

All bannig up sin Kerfstock hebben (al baie op sy kerfstok hê)
De See is vundaag bannig rohig (die see is vandag baie rustig [kalm])
Dat was bannig höög, di to möten (dit was baie goed om jou te ontmoet)
De lesten Stopen sünd bannig swoor (die laaste stappe is baie swaar [moeilik])
Mi dücht dat Weder vundaag bannig störmsch (vir my lyk die weer vandag baie stormagtig)

Omdat ek grootgeword het met die “feit” dat ons ons baie van die Oostere banja(k) sou gekry het via die Maleise slawe en die lingua franca op die seeroete om die Kaap, het ek naderhand gewonder of vroeëre taalgeleerdes nie kon gefouteer het deur die Maleise woord as die hoofbron van ons baie-woord aan te wys nie (“miskien” met beïnvloeding deur taamlik geluidende woorde in die Nederduitse taalkontinuum, het hulle te kenne gegee).

Ek het nie nagenoeg die baie navorsingswerke (of die tyd!) wat vir ’n wetenskaplike studie nodig sou wees nie, maar merk tog dat Boshoff en Nienaber in hul Afrikaanse Etimologieë reken dat ons baie “moontlik eers in die 18e eeu in Afrikaans ontleen (is) aan Maleis”.

Na my gevoele (of eintlik ’n breë waarneming waarvoor ek wel nog nie stawende syfers kon opspoor nie) was die agttiende eeu juis die tyd toe die Kaap so oorspoel is deur ’n horde VOC-werkers uit die Noord-Duitse gebiede dat hulle nie anders kon nie as (ook as Afrikaanse stamvaders) ‘n beduidende stempel op die jong ontwikkelende Afrikaanse spreektaal van daardie tyd af te druk.

Só sou die oordrag van hoëfrekwensiewoorde (soos baie) myns insiens tog eerder in die intieme familiekringe (waar ’n Noord-Duitser met ’n Hollandse meisie sou trou) plaasgevind het as vanuit die slawekwartiere na die huishoudings. Dit wil nie sê dat die invloed van die “slawetaal” op Kaaps-Afrikaans nie ook beduidend sou wees nie. Maar baie word immers baie, baie meer gebruik as enige ander Oosterse woord (soos bobotie of piering).

Ek sien in die uitgebreide boekereeks Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, wat deur GISA in Stellenbosch uitgegee word, net ’n oorweldigende “see” van Noord-Duitse aankomelinge as ’n mens hulle tot die 1700’s reduseer. My navrae by GISA oor presiese syfers aangaande VOC-werkers aan die Kaap wat in die 1700’s afsonderlik van Nederland en die Noord-Duitse gebiede gekom het, kon ongelukkig nie direk beantwoord word nie en ek is na ’n ander kenner verwys. Met dié kon ek ook nog nie praat nie.

Maar ek het dié week lukraak boekdeel 11 met die name Scho-Sny uit my boekrak getrek en begin om die Kaapse manlike aankomelinge van spesifiek die 18e eeu uit ’n enkele greep te sif. In die klein greep van twintig 18e-eeuse name was daar:
2 uit Nederland
1 uit Denemarke
1 uit Pole
1 uit “Calbe aan de Saale” (ek weet nie waar dit is nie!)
15 uit die Duitse gebiede.

Goed, hierdie grepie is nie naastenby genoeg om enige bevinding te regverdig nie. Maar, glo my, ek sien dié oorwig van Noord-Duitsers in die 18e eeu regdeur SAG as ek so bolangs kyk. Het iemand wat hier lees nie dalk ’n eksemplaar van dr. Heese se Herkoms van die Afrikaner waarin die nodige syfers dalk gevind sou kon word nie? Of ’n ander naslaanwerk hieroor? (Net nie die oues soos die geslagregisters van De Villiers [en Pama], of Colenbrander se De Afkomst der Boeren nie, want ek dink daar is te veel in hulle gevind wat nie met latere navorsing strook nie!)

Eindelik wonder ek ook of die gewraakte(!) banja(k) uit die Ooste nie maar self net ’n vervorming van ’n Nederlandse/Noord-Duitse/dialektiese soort bannig is wat in die skeeps- en slawetaal vermeng geraak het nie, gegewe Nederland se uiters lang verbintenis met sy Batavia in Asië.

En of bannig in Europa uiteindelik nie ook maar net ’n ander vorm van menig/mannig is nie?

Baie en menige uit dieselfde nes?

Dit klink mos glad nie so onwaarskynlik nie!

Lees 1148 tye Laaste modifikasie op Donderdag 13 September 2018 00:48

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK