“Sneupe vol sneus”

Geplaas deur Jana Luther Donderdag 20 September 2018
Gepubliseer in VivA;

 

hennepUit “bhang”, die Indiese naam vir Cannabis sativa (volgens Facebook ook “omkyktwak”) het die Konstitusionele Hof dié week vir bostrekkers die benoudheid gehaal.

Met sy kenmerkende regop stingel en uitwaaierende tandjiesblare is dié eenjaarkruid die bekendste soort van ’n plantgeslag inheems in die gematigde streke van Asië. Wanneer sy blare, blomme en takkies gedroog en gerook, gekou, of in wateraftreksels gedrink word, kan oormatige gebruik lei tot verslawing: cannabismus, of kannabisme.

Voor Jan van Riebeeck in die Kaap voet aan wal gesit het, was dié kruid van Portugese seevaarders by die Khoi-Khoin al as “(mak)dagga” bekend. Dit het hulle aan hul eie “daXa-b”, “wildedagga”, herinner.

Wanneer makdagga nie gerook of as “medisyne” gebruik word nie, is dit tegnies “(Indiese) hennep”; die manlike en vroulike plante onderskeidelik “somer-” en “winterhennep”. Somerhennep groei vinnig, maar verwelk gou nadat dit geblom het. Winterhennep blom lank en word (naas vlas) gekweek vir die stingelvesels waarvan matte, toue en lap geweef en visnette gevleg word. Van gemaalde hennep word fyn papier gemaak. Die saadjies lewer olie en voëlvoer. Vandaar die uitdrukking “so plesierig soos ’n klomp mossies wat in ’n daggabos gewei het” vir mense wat buitengewoon plesierig en luidrugtig is.

Van iemand wat baie gelukkig lyk, word gesê: “Hy lyk soos ’n mossie in ’n daggasak.”

’n “Daggapit” is nie net die saadjie of vruggie van die daggaplant nie; dit is ook die naam vir ’n soort voëltjie.

Vir dagga het Afrikaans baie name: “aaptwak”; “boom”; “duiwelasem” (uit Namakwaland); “dwaalbos” (die ou Griekwanaam); “ganja” (uit Hindi); “ghonnaghoet” (uit George se wêreld); “ghwa”, of “ghwaai” (van die Zoeloe- en Sothowoord vir tabak, maar in San oorspronklik dagga); “gras”, “groenvoer” (in die omgewing van Kaapstad opgeteken); “haasgras” (in Theunissen); “hoendervoet” (by Montagu); “pot” (uit Engels); “rooibaard” (vir die blomme); “wit pyp” (met Mandrax gemeng).

“Elektriese spinasie, giggelgras, karatetwak, laggras, papegaaislaai, rondkyktwak, wildepietersielie,” haal Herman Lategan op Facebook uit roekeloos.co.za aan. “Tarzan-twak”, voeg Ellen Botha by: “Hy kon ook mos lekker rondswaai.”

Dagga van swak gehalte is “majat”. “Vrotblare” of “muggiepoep”, sê Sarie (29 Januarie 1986).

’n Pakkie dagga is ’n “kaartjie”; ’n tuisgemaakte sigaret ’n “pil(letjie)”, ’n “daggapil” of “(dagga)zol”. Pille word gedraai, gerol, geswaai.

Naas “bhang” heet makdagga in Indië ook “hasjisj” (uit Arabies). Die oorsprong van “marijuana” is Mexikaanse Spaans.

Teenoor die inkommer, makdagga, het Suid-Afrika sy eie wildedagga – verskillende inheemse Leonotis-soorte: klipdagga, knopdagga, koppiesdagga, malkopdagga, perdedagga, rooidagga, rooipootjiedagga, stranddagga, velddagga.

Van wildedagga word tee gemaak; gedrink vir hoofpyn, koors, longaandoenings, verkoue, griep … Uitwendig word dit gebruik om wonde te ontsmet; aan insekbyte en skerpioensteke gesmeer om die pyn te verlig. Wanneer die blare en jong stingels soos tabak of deur water gerook word, het dit op die roker ’n soortgelyke kalmerende uitwerking as makdagga.

As daggapyp het die Khoi en die San die dop van ’n korterige wildsbokhoring gebruik. So ’n horingpyp het uit ’n klei- of seepsteenkop bestaan wat met 'n rietjie verbind is aan die dop, wat met water gevul is. Deur ’n rietjie in ’n gaatjie in die dop is die rook ingesuig deur die water, wat dit laat afkoel het, en van die vlugtige aktiewe bestanddele in die water laat kondenseer het.

Nog ’n soort daggapyp is ’n grondpyp; in die aarde gemaak deur ’n hopie klam grond om ’n kleinerige voorwerp vas te druk. Wanneer die voorwerp uitgetrek word, bly ’n dieperige, loodregte holte (die pypkop) in die grondhopie agter. Die kop van die pyp word verbind aan ’n ondergrondse tonneltjie, wat aan die kant van die hopie uitmond, of aan 'n mondstuk, soos 'n stuk fluitjiesriet of murgbeen. In die holte word ’n stopsel dagga aan die brand gesteek. Die roker, wat op sy of haar knieë staan, suig die rook borrelend, gorrelend deur ’n mond vol water in en blaas dit saam met die water, gewoonlik langs ’n stokkie, uit.

Saam met so ’n gegorrel was dit dat daar baiemaal ook prysliedere opgeklink het – sogenaamde daggarympies wat halfpratend, halfsingend onder die rook voorgedra is: “onsamehangende sinnetjies, soms met vreemdklinkende woorde, brokstukkies van volksvertellings en raaiseltjies, dikwels ook nog ou Nederlandse woorde en uitdrukkings”, sê die WAT. “Soms is van hierdie skeppings so dikwels herhaal dat dit deur ander geleer en nagesê is sodat geharde daggarokers later ’n hele skat daarvan opgebou het.”

In Die rooi lappieskombers (1997), ’n versameling volkskwatryne wat Pieter W. Grobbelaar uit die volksmond versamel het, is ’n hele versameling sulke daggaryme opgeteken. “Klein tarantaal, / Ester an staal! / Sneupe vol sneus, / Snodderige knie!”

In sy reis deur Afrika, Wys my waar is Timboektoe (1997), wys Hennie Aucamp ook op die “surrealistiese tradisie” in die Afrikaanse poësie van dié “versies” wat “sonder ’n duidelike tussenkoms van die rede geskep is” (1997:196).

Deur ’n daggabril beskou, lyk die wêreld anders, ja. So, loop maar lig vir raaisels praat.

Luister ook na die podsending.

 Hierdie rubriek het in gewysigde en verkorte vorm in Beeld van 21 September 2018 verskyn.

Beeld logo

 

Lees 1283 tye Laaste modifikasie op Vrydag 21 September 2018 12:00

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK