VIVA SE BLOGS

Vele tale speel dalk in op 'baie'

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Saterdag, 29 September 2018
Gepubliseer in VivA;

Uit meer as 910 000 unieke woorde in die Taalkommissie se ~50-miljoenwoordkorpus, lê die woord baie op die 61e plek. Om dit konkreet te maak: As baie aan die Comradesmaraton moes deelneem, sou hy om ʼn tweede plek in die resies meeding. Lekker vinnig, dus.

Soos talle Comradesatlete ook buitelanders is, so word ook dikwels veronderstel dat baie deel is van Afrikaanse se sogenaamde uitheemse stratum. Om kort pad te neem: Dié teorie sê dat baie uit die Maleise woord banyak (oftewel banjak) wat “baie” beteken, ontstaan het. Om van banyak tot by baie te kom, moet jy net die [n] in die middel en die [k] aan die einde laat val. Finish en klaar, ons hoef nie verder te soek nie.

Oudjoernalis Ollie Olwagen krap egter onlangs in ʼn blog op VivA se webwerf ʼn ander teorie oop waarvan ek nie eers bewus was nie. In sy navorsing na die Olwagens se familiegeskiedenis het hy agtergekom dat die gebruik en betekenis van die woord bannig in Platduits presies met onse baie oorstem. Byvoorbeeld: “All bannig up sin Kerfstock hebben” (Al baie op sy kerfstok hê); of “De See is vundaag bannig rohig” (Die see is vandag baie rustig).

Ollie toon aan dat die Kaap in die agttiende eeu oorspoel is deur hordes VOC-werkers uit die Noord-Duitse taalgebied; hy argumenteer dat hulle tog ʼn beduidende stempel op die jong ontwikkelende Afrikaanse spreektaal van daardie tyd moes gehad het, veral in die oordrag van hoëfrekwensiewoorde soos baie. Hy sluit af deur te vra of die Maleise banyak nie dalk selfs ʼn leenwoord uit Platduits via agtiende-eeuse Bargoens is nie.

Terwyl ek in die geskrifte van taalgeleerdes rondkrap, kom ek agter dat daar ʼn derde teorie oor baie is, naamlik dat dit ʼn vervorming is van die Franse woord bien wat onder andere “goed/mooi; ʼn klomp” beteken en wat weer stam uit die Latynse bene (“goed”, soos in die Engelse benefactor of benevolence).

Watter een van hierdie drie teorieë wen?

Wel, ek het ʼn vierde teorie, naamlik dat hulle almal wen! Sien, vanuit ʼn bepaalde moderne taalkundeteorie word die mening gehuldig dat mikroveranderinge en -invloede tot die ontstaan van nuwe konstruksies bydra. Die feit dat daar in dieselfde tyd aan die Kaap drie eendersklinkende woorde (banyak, bannig en bein) was wat uit drie verskillende tale (Maleis, Platduits en Frans) gekom het en ongeveer dieselfde beteken het, het ingespeel op die skep van die nuwe woord baie.

Dieselfde soort patroon kan ons sien in talle ander konstruksies, waaronder ons dubbele ontkenning; die verbale hendiadis (loop en …); ons pa-hulle/-goed; ensovoorts.

Soos in die Comrades geld ook in die taalkunde: Dit gaan nie oor wen of verloor nie, maar eerder oor wie almal op watter manier deelgeneem het.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 28 September 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 2717 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK