Kraaie

Geplaas deur VivA-redaksie Vrydag 12 Oktober 2018
Gepubliseer in VivA;

Deur Pieter Bosman

kraaiWanneer ’n mens na die volksname van voëls kyk, val dit op dat daardie voëls wat gewoonlik naby mense leef, heelwat verskillende noemname het. Dink aan die bokmakierie, janfrederik, tiptol, ensovoorts.

Die uitsondering op hierdie reël is die kraai. In Suid-Afrika het die drie inheemse kraaie elk slegs een alternatiewe noemnaam: swartkraaikoringlandkraai; witborskraaibontkraai (mantelkraai); en withalskraairinkhalskraai.

(’n Volksnaam vir neushoringvoëls is boskraaie, hoewel hulle nie aan kraaie verwant is nie.)

Wat bygelowe en spreekwoorde betref, is dit gans en al ’n ander storie. Miskien koppel mense slegs meer bygelowe aan uile. Dit is ook opvallend dat bygelowe oor kraaie nie uitsluitlik negatief is nie. So, byvoorbeeld, is daar hierdie kenmerkende Engelse bygeloof: Een kraai beteken slegte geluk; twee, goeie geluk; drie, gesondheid; vier, rykdom; vyf, siekte; en ses, die dood.

In Die Brandwag van 4 Oktober 1940 lees ek die volgende tergrympie, soos opgeteken deur dr. Abel J. Coetzee: “Die swartkraai het die boer afgeluister toe hy laas met die ossewa swaargelaai verby is dorp toe, en nou koggel hy hom uit: Haal uit die oog! Haal uit die oog! Potberg! Potberg! Hothou! Hothou! O . . . die wa val om!”

Van die vele Afrikaanse spreekwoorde wat na kraaie verwys, kan ek nie altyd die logika volg nie. Waarom so maer soos ’n kraai, geen kind of kraai nieof so warm dat die kraaie gaap? Daar is heelwat voëls wat afkoel deur vinnig deur die mond asem te haal, byvoorbeeld watervoëls.

Dan kry ’n mens ’n kraaines, wat elkeen wat begin hengel, terdeë begryp, en wat ook die naam is vir die uitkykpunt boaan die mas van ’n seilskip.

Dink ook aan kraaiplooitjies, wat die vervaardigers van grimeermiddels so mildelik uitbuit.

As opportunistiese omnivore het kraaie ’n yslike voordeel bo uitsluitlik saad-, vrugte- of insekvreters. Dit verklaar tot ’n groot mate hulle algemene verspreiding deur die land. In The South African Year Book 19021903 vind ek (die bydrae is waarskynlik deur Alwin Haagner geskryf): “Crows are among the less numerous birds.” Daarenteen is daar ’n skrikwekkende artikel in Landbouweekblad, 14 Januarie 2016, waarin berig word van ’n boer van Paternoster wat binne net drie maande 21 ooie en oor die 30 lammers moes keel afsny omdat kraaie hul oogballe uitgepik het.

Volgens dr. John Fincham, bydraer tot die Suider-Afrikaanse Voëlatlasprojek (Sabap), wat tellings van witborskraaie en ander roofvoëls in die ses jaar sedert 2009 aandui, het kraaigetalle in ál ses dié jare die totale getal van alle ander roofvoëls oorskry. Die kraaie se sterk bevolkingsgroei word toegeskryf aan talle nuwe voedsel- en vogbronne wat oor die jare vir hulle beskikbaar geraak het, onder meer weens verstedeliking en boerderyuitbreiding.

Die Shonawoord chikungubaya, vir die witborskraai, verwys na twee gesigte; waarskynlik om die vermeende geslepenheid van dié voël aan te dui.

Lees 822 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK