Gawies, japies en brawe Hendrikke

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 19 Oktober 2018
Gepubliseer in VivA;

mansname

In baie, veral ouer Afrikaanse uitdrukkings word mense in die algemeen, en ook diere en gepersonifieerde dinge, met veel gebruikte mansname aangedui; dikwels vergesel van ’n historiese, anekdotiese of tiperende bynaam of van.

“Ek is Daantjie Donderbos; daar waar ek trap, daar bars die grond.” Die naam van die outydse eenskaarploeg in dié raaisel is eens ook as benaming gebruik vir iemand wat onverwags iets groots vermag het. “Klein Daantjie Donderbos”, is spottend teenoor ’n kind gesê, of van iemand wat spog met krag of vermoëns wat hy duidelik nie het nie.

Wie aanhou en aanhou met ’n ding, hou aan “tot by oom Daantjie in die kalwerhok” (of “tot by oom Japie in die kamer”, sê die WAT). “Sy sal haar seun tot by oom Daantjie in kalwerhok verdedig, want sy glo hy is onskuldig.”

“Daantjie Knakstert” is ’n skertsende benaming vir die duiwel; nes “Karel Grootoog” en “Karel Klipvoet” ook. “Daantjie Langverwag”, of “Daantjie Onverwag”, het die gewoonte om onverwags êrens op te daag. 

Die WAT vertel ook van Stadige Daantjie, en van Vrolike Frans.

Hoe iets gebeur, weet dikwels die Frits alleen: “Die Frits weet.”

“Hoe lank gaan jy nog besig wees? Wanneer maak jy klaar?”

“Magtig, Frans! Ek sê mos vir jou: Ek weet nie.”

Pleks van dié eufemistiese “Frans” het ’n oudkollega gereeld laat hoor: “Gits, Frits.” Ook in ’n taamlik formele vergadering, eendag; ooglopend tot die binnepret van die US se wyle prof. Fritz Ponelis.

Interessant is die uitdrukking “brawe Hendrik”. Anders as wat dit vandag dalk klink, is dié Hendrik nie dapper, soos die Engelse “brave” te kenne sou gee nie, maar juis die teenoorgestelde. Van hoe die betekenis van ’n woord soms verskuif, is “braaf” ’n goeie voorbeeld: Oorspronklik – in Nederlands – was ’n “brawe Hendrik” voorbeeldig en goed, met die bygedagte, selfs, van skynheiligheid.

“Gawies” en “Jape” (veral met ’n kleinletter) word gewoonlik as ietwat onervare afgemaak (“plaasjapies”, “dorpsjapies”), of aan die ander kant dalk as verwaand, of onbeskaafd (“stadsjapies”, “rowwe jape”). “Vir my lyk hy goor! 'n Regte ou jaap,” haal die WAT vir Anna M. Louw aan.

Is jy met een idee behep? Pasop dat dit jou nie dalk die bynaam “Jakob Eensnaar” besorg nie. Wees liewer “die ware Jakob” (na aanleiding van die verhaal in Genesis 27, waar Isak oor sy seun Jakob ’n seën uitspreek onder die indruk dat dit sy eersgeborene, Esau, is). Die “ware jakob” (ook deesdae gewoonlik met ’n kleinletter geskryf) is die regte persoon; die regte, egte, juiste ding.

“Jakobus”, kortweg “Koos”, het in die verlede dikwels as eufemisme vir ’n kamerpot gedien. “In die gastehuis waar ons oorgebly het, was daar ’n jakobus, ’n koos, onder die bed.”

Behaal iemand sukses en raak hy as gevolg daarvan dalk ’n bietjie verwaand, sou die ou mense dalk snork: “As koos ore kry, dink hy hy’s ’n blompot.”

Oor “Jan” skryf wyle Johan Spies in die destydse “Taalskatkis”-rubriek van Die Burger: “Sowat van Janne het jy nog nooit gesien nie ... Dit lyk of daar ’n Jan-naam is vir elke dier en ding”: “Jan Alleman” (ook “Jan en alleman”); “Jan Burger”; “Jan Balie”; “Dom Jan” en “Slim Jan”, in menige volksverhaal; “Jan Dromer”; “Mal Jan (onder die hoenders)”, vir ’n man alleen tussen ’n klomp vroue; “Jan Laventel”; “Jan Niemand”; “Jan Pampoen”; “Jan, Piet, Paul en Klaas”; “Jan Rap en sy maat”; “Jan Pikbroek”, skertsend vir ’n matroos; “Jan Publiek”; “Jan Salie”; Jan Taks; Jan Toontjies, vir ’n ystervark ... 

Om van die vele uitdrukkings met “Janne” nie te praat nie: “Liewer bang Jan as dooie Jan”; “liewer lui Jan as dooie Jan”; “van Jan Toekie se dae af”; “met Jan Tuisbly se karretjie ry”; en nog meer.

“Klaas blaas die fluitjie / Gooi sy ma met ’n kluitjie. / Klaas blaas in die hoogste nood, / Gooi sy ma met ’n beespens dood”, lui ’n uitskelrympie, uit die WAT.

In die Roggeveld is “Klaas Naald” een van die name vir ’n rooijakkals; ook “Klaas Vos”, en “Klaas Vossie”. Vir Boerneef is dié kalant “Klaas Skaapvanger”.

“Klaas Vakie” is die verpersoonliking van die slaap; “Klaas Vaakpraatjies” is onsin.

Een van die mees voorkomende mansname, as benaming vir ’n persoon, gewoonlik voorgestel in situasies waarin hy, sonder om dit te wil, deur sy aard of optrede die laglus prikkel, is “Koos van der Merwe”. Wie ken (nie) ’n Van der Merwegrap (nie)?

Oor die ander “Kose” kan julle maar self in die WAT gaan lees. En oor die WAT se 553 “Piete”!

Let op
AWS 2017By baie van die voorbeelde hier bo het die verband met die oorspronklike persoon of saak al tot so ’n mate vervaag dat die gevolglike selfstandige naamwoord nie meer die kenmerke van ’n ware eienaam vertoon nie, maar ’n verwysende of toespelende waarde en ’n soortnaamwoord- of massanaamwoordvormende funksie verkry het. Na hierdie proses verwys taalkundiges as “eienaamverbleking”, en reël 9.23 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS 2017: 59-60) sê: ’n Verbleekte eienaam, met inbegrip van ’n nieletterlik of figuurlik gebruikte soortnaam wat op ’n eienaam berus, begin gewoonlik met ’n kleinletter.

Omdat eienaamverbleking egter ’n proses is (vergelyk reël 9.23, opmerking b), is dit nie altyd moontlik om presies te bepaal of ’n eienaam inderdaad al dermate verbleek het dat die verband met die oorspronklike persoon of saak reeds volkome vervaag het, en dat die betrokke eienaam dus definitief met ’n kleinletter moet begin nie. Hoewel die Woordelys in die AWS slegs die skryfwyse met ’n kleinletter aanbied, word dit nie as ’n skryffout beskou as een gebruiker in so ’n geval ’n hoofletter gebruik en ’n ander ’n kleinletter nie. Die aanbeveling is wel dat indien ’n eienaamverbleking met ’n kleinletter begin, dit ook in afleidings en samestellings met ’n kleinletter geskryf word, en omgekeerd.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 19 Oktober 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 1743 tye Laaste modifikasie op Vrydag 19 Oktober 2018 17:08

4 Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel Adriaan Roux Maandag 22 Oktober 2018 15:45 geplaas deur Adriaan Roux

    Jana, dankie dat jy die saak so mooi uiteensit. Dankie dat jou eie taagebruik onberispelik is. n Mens kan sien dat daar moete gedoen is met die artikel in die geheel gesien.

    Dr. Adriaan Roux

  • Kommentaarskakel Adriaan Roux Maandag 22 Oktober 2018 15:45 geplaas deur Adriaan Roux

    Jana, dankie dat jy die saak so mooi uiteensit. Dankie dat jou eie taagebruik onberispelik is. n Mens kan sien dat daar moete gedoen is met die artikel in die geheel gesien.

    Dr. Adriaan Roux

  • Kommentaarskakel VivA-redaksie Vrydag 19 Oktober 2018 16:56 geplaas deur VivA-redaksie

    Mooi!

  • Kommentaarskakel Pieter Bosman Vrydag 19 Oktober 2018 16:49 geplaas deur Pieter Bosman

    In een van my gunsteling boeke as kind (in die vyftigs van die vorige eeu), “Verandering van Spyse” deur Dawie, word kostelik vertel van twee agtertangers wat vir die eerste keer see toe gaan vir vakansie. Die dorp se naam: Kooswater!

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK