Opdrag 1: ’n Sterk taalbasis dra by tot die ontwikkeling van taal en denke

Geplaas deur Jana Luther Maandag 22 Oktober 2018
Gepubliseer in VivA;

kurrikulumWat het kinders nodig om op te groei tot volwassenes wat tot die samelewing bydra, ekonomies selfstandig is en leef met selfvertroue? In Nederland is dit van die vrae wat gestel word in ’n grondige ondersoek na die nasionale kurrikulum vir primêre en vroeë sekondêre onderwys.

Wat werk; wat werk nie? Wat moet behou word; wat moet verander? Wat moet bykom; wat moet laat vaar word? Hoeveel ruimte moet skole gegun word om self te kan aanvul, in ooreenstemming met hul visie, leerlinge en omgewing?

 

Dit moet Curriculum.nu nou vasstel – ’n gesamentlike inisiatief van onderwysinstansies, skoolleiers en skole.

Vir altesaam nege leerares is ontwikkelingspanne saamgestel wat die bestaande kurrikula krities bekyk; navors en nadink oor wat kinders in die laer- en hoërskool moet weet en kan doen. Die vakke wat hersien word, is Nederlands, Engels, Moderne Vreemde Tale, Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid, Digitale Geletterdheid, Burgerskap, Liggaamsoefening en Sport, Kuns en Kultuur, Mens en Samelewing, en Mens en Natuur. Saam met elke span werk daar ook ’n aantal skole, en die gehalte van die proses word deur die insette van wetenskaplikes gewaarborg.

Die oorhoofse doelstellings van die kurrikulumspanne is:

  • groter kohesie van opvoedkundige inhoud;
  • ’n gladder oorgang van een leerfase na die volgende; van voorskoolse na primêre onderwys, laerskool na hoërskool, sekondêre na verdere onderwys, met leerbane wat beter bymekaar aansluit;
  • ’n kurrikulum wat minder “oorlaai” is;
  • groter duidelikheid aan skole oor wat elke leerder moet leer, asook hoeveel ruimte vir hul eie interpretasie gelaat word (die ideaal is sowat 30 persent); en 
  • ’n beter balans in die hoofdoelwitte wat vir onderwys gestel word. 

Vir Nederlands as skoolvak in die toekoms het die kurrikulumbeplanners verlede week ’n dokument vrygestel waarin sewe kernuitgangspunte – “7 grote opdrachten” – vir taalonderrig gestel word. Hierop kan enigiemand wat wil, nou reageer.

Ná afloop van dié proses sal finale doelwitte geformuleer word.

Die sewe “opdragte” vir die vak Nederlands is:

  1. ’n Sterk taalbasis dra by tot taal- en denkontwikkeling.
  2. Outonome taalgebruikers werk lewenslank aan hul taallerende vermoë.
  3. Op skool word tale en taalvariëteite erken en benut.
  4. Die bedrewe taalgebruiker kommunikeer doelgerig.
  5. Die bedrewe taalgebruiker verwerk (digitale) inligting krities.
  6. Die bevordering van lees en literêre vaardigheid prikkel leerders om lesers te word en lesers te bly.
  7. Eksperimentering met taal en taalvorme stimuleer die kreatiewe proses.

In Neerlandistiek, die aanlyn tydskrif vir taal- en letterkundige ondersoek, neem die Nederlandse taalkundeprofessor Marc van Oostendorp dié stellings een vir een onder die loep. Met sy toestemming vertaal en deel ek hier wat hy oor elkeen skryf. Want hoe lyk ons eie ideale vir Afrikaans as skoolvak in die toekoms?

Gesels gerus saam.

♦  ♦  

 

Opdrag 1: ’n Sterk taalbasis dra by tot die ontwikkeling van taal en denke

Deur Marc van Oostendorp
(My vertaling)


Interessant van Opdrag 1 is dat dit die aandag vestig op die ontwikkeling van denke. Ek vind dit baie goed. Die onderwysers motiveer in hul toeligtende teks dié uitgangspunt egter nie baie breedvoerig nie. Hulle fokus veral op taalontwikkeling soos die ontwikkeling van woordeskat en ingewikkelder sinsbou, want dit maak allerlei kennisbronne toeganklik, sê hulle tereg. Leerders moet daarom leer om allerhande tekste te lees – die beplanners wys gelukkig daarop dat dit natuurlik óók oor die eie taal en letterkunde kan gaan.

Tog behels dit alles nog geen denkvaardigheid nie. Vir my is die taal net so interessant as ’n instrument vir dink.

Natuurlik is die mens ’n dier; natuurlik kan hy ook sonder taal dink – maar dan byvoorbeeld in beelde, of in danspassies. Alleen die mens help die taal vorm gee aan bepaalde gedagtes, en omdat hulle dié vorm het, is die mens waarskynlik die enigste dier wat oor sy eie gedagtes én dié van ander kan nadink. Ek dink: “Ek wil nie na daardie partytjie toe gaan nie”, en vervolgens kan ek dink: “Waarom het ek nie lus daarvoor nie?"

Daar is ’n gesegde wat lui: “Slordig skryf, is slordig dink”. Daarvan glo ek min in die gewone interpretasie (dat ’n spelfout daarop dui dat die skrywer ’n warkop is), maar daar is wel deeglik allerlei aanduidings dat mense hulle gedagtes kan orden deur dit wat hulle dink, goed en duidelik neer te skryf, of deur wat hulle dink, uit te spreek, al is dit ook net teenoor hulle self. En dat ’n mens op nuwe maniere kan leer dink deur oor die gedagtes van ander na te dink – en hierin speel taal ’n belangrike rol.

In hierdie sin is goeie ontwikkeling van die taal nie net voordelig vir kommunikasie (waarby altyd ook ander mense betrokke is) nie, maar ook om self min of meer ingewikkelde gedagtes te kan vorm, en om emosies, gevoelens te kan ontleed. Ook al is daar niemand anders in die nabyheid nie, is dit steeds nuttig om taal te hê. En in dié sin het die kurrikulumspan selfs nog meer gelyk as wat hulle dit eksplisiet stel: Werk aan die taal van ’n leerling is ook werk aan haar denke.

Lees 781 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 23 Oktober 2018 08:16

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Pieter Prinsloo Maandag 22 Oktober 2018 17:09 geplaas deur Pieter Prinsloo

    Prima!!!
    Ons kan loop leer by die Nederlanders oor taal, taalbelangrikheid, taalbeskerming, taaluitbouïng en allerhande ander taalgoeters en -dinge! ?

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK