Opdrag 2: Outonome taalgebruikers werk lewenslank aan hul vermoë om taal te leer

Geplaas deur Jana Luther Dinsdag 23 Oktober 2018
Gepubliseer in VivA;

kurrikulum2Vir Nederlands as skoolvak in die toekoms het kurrikulumbeplanners verlede week ’n dokument vrygestel waarin sewe kernuitgangspunte – “7 grote opdrachten” – vir taalonderrig gestel word. In Neerlandistiek, die aanlyn tydskrif vir taal- en letterkundige ondersoek, neem die Nederlandse taalkundeprofessor Marc van Oostendorp dié stellings een vir een onder die loep. Met sy toestemming vertaal en deel ek hier wat hy oor elkeen skryf. Want hoe lyk ons eie ideale vir Afrikaans as skoolvak in die toekoms?

Praat gerus saam. 

Opdrag 2: Outonome taalgebruikers werk lewenslank aan hul vermoë om taal te leer

Deur Marc van Oostendorp
(My vertaling)

 

Die goeie ding omtrent hierdie “groot opdrag” is dat die taal nie gesien word as ’n statiese feit nie. ’n Mens kan in ons huidige tyd nie van kinders verwag om op skool ’n aantal reëls uit hulle kop te leer nie (byvoorbeeld, so skryf ek ’n netjiese brief: hier moet die aanhef kom, so moet die slot lyk, as oor ’n paar jaar niemand meer briewe skryf nie, maar met video’s om poste moet aansoek doen).

’n Mens leer op skool hopelik nie veral dinge wat in die volgende paar jaar nog nuttig gaan wees nie, maar dinge waarmee jy in jou lewe vooruit kan kom. En daarvoor moet jy aanpasbaar wees; bereid wees om voortdurend te verander.

Ek sou in die formulering van hierdie opdrag effe minder klem gelê het op “leer”. Bowendien staan daar in die huidige teks streng gesproke nie net dat mense hul hele lewe lank moet leer nie, maar dat hulle aan hul vermoë om te leer, moet bly werk. Dis wel veel gevra. Omdat ek ook nie so mooi weet wat die woord “outonoom” in hierdie formulering beteken nie, lyk dit vir my handig om die opdrag te vereenvoudig tot:

Taalgebruikers bly lewenslank buigsaam in hul taal.

’n Mooi aspek van taal as instrument is dat dit so soepel is: ’n Mens kan dit by allerlei situasies aanpas, ook by situasies wat volkome nuut is. Juis hierdie aspek maak taal vir sommige mense ook lastig: Vanaf ’n bepaalde leeftyd word ’n mens af en toe gekonfronteer met taal waaraan jy vroeër nie gewoond was nie, en kort voor lank kom jy agter jy hou nie daarvan nie, begin dit dalk selfs vir jou voel asof alles agteruitgaan; verval. Omdat jy terselfdertyd niks aan dié voortdurende veranderlikheid van die taal kan doen nie – dit is nou maar eenmaal geheel en al buite die mens se beheer – is dit ’n resep vir frustrasie. Jy kry onherroeplik die gevoel dat alles na die hoenders gaan. Dus is dit beter om mense maar liewer te leer hoe om dié wisselvalligheid te hanteer.

Wat is nodig om so ’n buigsame taalgebruiker te word? Volgens my in die eerste plek: kennis. Hoe om ’n aansoek te skryf wat in die jaar 1998 deur maatskappye aanvaar is, dié kon ’n mens wel op jou duimpie geleer het, maar om ’n werklik buigsame taalgebruiker te wees, moet jy begryp hoe taal inmekaarsit; hoe dit werk. En hoe dit nie werk nie. Alleen as jy ’n grondiger begrip van jou instrument het, kan jy daardie instrument, voortdurend, ’n leeftyd lank, gebruik in ’n voortdurend veranderende konsert (waarvan niemand ’n program het nie).

Dit bied ook kanse vir die integrasie van wetenskaplike insigte in die onderwys, want so word die beste insig in wat taal is op ’n natuurlike wyse verkry; hoe taal inmekaarsteek en hoe taal werk. Elke taalgebruiker bestee byvoorbeeld ’n deel van sy of haar lewe aan onderhandelings oor norme: Is dit gepas om in hierdie of in daardie omstandighede dit of dat te sê? Is dit duidelik, só gestel? Vind mense hierdie of daardie vorm nie dalk steurend nie? So ’n gesprek kan ’n mens net voer as jy insig het in die struktuur van taal en van taalgebruik.

Om hierdie groot opdrag uit te voer, moet elke onderwyser en skool dus hul leerlinge met ’n goeie kennisbagasie laat vertrek – insigte waarmee hulle vir die res van hulle lewe aan hul taal kan verstel. Die kennis wat aangebied word verskil natuurlik; van die kleuterskool na die laerskool; van die laerskool na die hoërskool; van sekondêre na verdere onderwys en opleiding. Maar sonder ’n bietjie begrip van die menslikste van alle instrumente, die taal, kan ons nie van mense, hul lewe lank, “outonome” al dan nie taalgebruik verwag nie.

Lees 523 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 23 Oktober 2018 09:06

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK