Opdrag 4: Die bedrewe taalgebruiker kommunikeer doelgerig

Geplaas deur Jana Luther Donderdag 25 Oktober 2018
Gepubliseer in VivA;

kurrikulum4Vir Nederlands as vak het kurrikulumbeplanners verlede week ’n dokument vrygestel waarin hulle sewe kerndoelwitte – “7 grote opdrachten” – uiteensit vir toekomstige taalonderrig op skool.

In Neerlandistiek, die aanlyn tydskrif vir taal- en letterkundige ondersoek, bespreek die Nederlandse taalkundeprofessor Marc van Oostendorp dié opdragte afsonderlik. Met sy toestemming vertaal en deel ek hier wat hy oor elkeen skryf. Want hoe lyk die ideale vir Afrikaans in die klaskamer van die toekoms?

Voeg gerus jou gedagtes by.

Opdrag 4: Die bedrewe taalgebruiker kommunikeer doelgerig

Deur Marc van Oostendorp
(My vertaling)

Van die sewe tekste wat die ontwikkelingspan onderwysers geskep het, is hierdie groot opdrag helaas minder goed geskryf. Dit is nie sleg nie; dit is die produk van ’n tussenfase, en die span het duidelik eers aan die inhoud gewerk, maar die formulering is af en toe omslagtiger. Hoekom is hierdie opdrag nie “Die leerder leer goed kommunikeer” nie? Hoe verskil “doelgerig kommunikeer” van gewoon “kommunikeer”?

Tog noem die teks hierdie doelgerigte kommunikasie “die vernaamste doel van taalonderrig” – en nie byvoorbeeld selfuitdrukking, of samewerking, of die insameling van kennis vir die genot daarvan nie. Alle groot vakopdragte het tot op sekere vlak die oogmerk om mense “effektief” te maak, en minder om hulle gelukkig of ryk te laat word, maar by dié groot opdrag is dié oogmerk die duidelikste.

Daar is weinig teen in te bring, al sou ek persoonlik die een en ander eerder as emansiperend beskou, en ’n bietjie minder as funksioneel. En ek sou dit alles effens, mmm, effektiewer formuleer, en ’n bietjie minder omslagtig: Nie “Die jong kind stem sy taalregister af op die taalgebruiksituasie, byvoorbeeld, in ’n spelsituasie” nie, maar “Jong kinders pas hulle taal by die situasie aan, byvoorbeeld wanneer hulle speel”.

Nou raak ’n belangrike element in die formulering verskuil:

Leerlinge leer in watter taalgebruiksituasie watter taalregister gepas is en leer daardeur die regte keuses maak wanneer hulle self kommunikeer. Daarby raak hulle bewus van die uitwerking wat taalmiddele op die denke, optrede en opvattings van ander kan hê.

(Ook dit is ’n bietjie omslagtig. Ek sou sê: “Leerlinge leer watter taalvorm wanneer gepas is en kan dus die regte keuses maak. Hulle weet watter effek dié keuses op die denke en optrede van ander kan hê.”)

Die vervolgsin is dan: “Hierdie insigte verkry hulle deur oor die taalgebruik van ander en oor hulle eie taalgebruik na te dink”, en dit lyk ’n bietjie vreemd. Dit suggereer dat ’n mens dié soort dinge eintlik alles self moet uitvind, terwyl daar tog alles en nog wat reeds oor bekend is: Dik boeke is geskryf oor wat werk, en nié werk nie, en ’n mens sal aan leerders, in die hoër grade, tog liefs ook iets van dié teorievorming kan oordra. Dit is ’n tradisionele funksie van die onderwys: dat ’n mens nie alles self hoef te bedink nie, maar dat jy kan leer uit wat ander voor jou reeds ontdek het, en dat jy so op die skouers van reuse kan staan.

Hierdie groot opdrag is in ieder geval belangrik in dié sin dat dit sou kon help om ’n teenswoordige klagte oor (sekondêre) onderwys, in die mate wat dit geregverdig is, uit die weg te ruim, naamlik dat dit vervelig is en op te veel foefies gebaseer word. Dié groot opdrag stel daarteenoor dat ’n mens vaardighede moet grond op insig, en dit is wins. Voeg daaraan toe dat ’n mens by dié insig ook kan voortbou op die insigte wat geslagte en generasies voor jou in die retoriek, in navorsing oor die werking van taal verwerf het, en jy het ’n besonder mooi verloop van die onderrig van die taal as vak.

Daarby sou dié groot opdrag nie alleen maar vir die taalklas moet geld nie. Goed leer kommunikeer, goed leer praat, skryf, lees en luister, kan ’n mens nie deur alleen maar van die taal ’n aparte vak te maak nie, maar doen jy deur dit permanent met allerlei soorte vakinhoud te oefen. Dis nie alleen maar ’n belangrike taak vir die taalonderwys nie, maar vir alle onderwys.

 

Lees 957 tye Laaste modifikasie op Donderdag 25 Oktober 2018 09:08

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK