Projekte help sprekers van Stille Afrikaans

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Vrydag 26 Oktober 2018
Gepubliseer in VivA;

Stille Afrikaans: die Afrikaans van mense wat gesien maar nie gehoor word nie, van mense wat so dikwels in ongekose stilte moet leef. Die Stille Afrikaanses is blinde en dowe mense, of mense wie se sig en gehoor op só ʼn wyse geïnhibeer word dat hulle nie Afrikaans op dieselfde ongekniehalterde maniere as die gemiddelde Afrikaanssprekende kan gebruik nie.

Hoeveel doen ons as taalgemeenskap vir dié deel van ons gemeenskap? Byvoorbeeld, as jy ʼn skrywer is, eis jy die oudioregte van jou blitsverkoper by jou uitgewer op en lees jou boek dan self as vrywilliger voor by onder andere die South African Library for the Blind?

Het jy al daaraan gedink dat ʼn gebrek aan Afrikaanse onderskrifte by TV-programme en films dowe Afrikaanssprekendes die voorreg ontneem om sulke media in hulle moedertaal te geniet? As jy vandag doof word, gaan jy nie weer ʼn Afrikaanse sepie in Afrikaans kan geniet nie – slegs in Engels.

Twee onlangse Afrikaanse projekte is hartverwarmend.

Die vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit en die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester se Byderhandprojek bied innoverende, interaktiewe leeservarings waardeur plek en literatuur op grensverskuiwende maniere ervaar kan word. Sowel visueel gestremde as siende persone gebruik ʼn kombinasie van konkrete en digitale koppelvlakke (soos braille-instruksies, bordjies met QR-kodes en ʼn digitale koppelvlak waarin van spraaktegnologie gebruik gemaak word) om deur die multisensoriese tuin by die Pionierskool te beweeg. Plante in die tuin is gekies met die fokus op reuk en tas; die paadjies is uitgelê met verskillende teksture; buitelugmusiekinstrumente nooi mense uit om saam te speel en musiek te maak. Sentraal tot dié ervaring is tien tuin- en kinderverse deur William Rowland, Hans du Plessis, Bernard Odendaal, Daniel Hugo, Floris A. Brown en Franci Greyling. Van die verse word aangevul deur musiekverwerkings, vertalings en tipografiese animasies sodat gebruikers die werke op ʼn verskeidenheid maniere kan ervaar.

In ʼn ander projek het ʼn seun van die Nuwe Hoop Skool in Pretoria vroeër vandeesmaand vir die eerste keer ʼn seunstem gekry om via ʼn tablet met ander te kommunikeer. Voorheen moes Alexander Avenant vir lief neem om met die kunsmatige stem van ʼn volwasse man te praat, aangesien daar nie ʼn Afrikaanse seunskunsstem beskikbaar was nie. Danksy die WNNR en drie vlytige seuns van Constantia Park Laerskool wat ure en ure se stemopnames geskenk het, kan Alexander (en tallose ander seuns soos hy) nou vir die eerste keer soos regte-egte Afrikaanse seuns klink.

Bemagtigingstegnologieë ontwikkel met rasse skrede, maar is en bly duur – veral vir ʼn klein mark soos die Afrikaanse mark. As jy dink jy kan dalk op een of ander manier bydra tot bogenoemde projekte of tot die ontwikkeling van ander sulke Afrikaanse tegnologieë, stuur gerus ʼn e-pos aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 26 Oktober 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 250 tye Laaste modifikasie op Vrydag 26 Oktober 2018 15:32

2 Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel Gerhard van Huyssteen Saterdag 27 Oktober 2018 08:04 geplaas deur Gerhard van Huyssteen

    Wow, Ria, uitstekend! Doe zo voort.

  • Kommentaarskakel Ria Kotze Vrydag 26 Oktober 2018 17:44 geplaas deur Ria Kotze

    Baie dankie vir hierdie rubriek. Op 'n baie klein skaal het ek in Namibia met 'n skrywersgroep begin - een van my idees waarmee ons al weggespring het - is om gedigte en kort stories op fotovideos vas te lê - waar die foto die storie vertel - iemand dit voorlees en die woorde op die skerm verskyn.

    Dit is wel nog 'n absolute huis-projek wat deur gewone mense aangepak word. Geen groot en indrukwkkende toerusting nie - sommer net gewone video-editors. En ons werk nog daaraan om dit perfek te kry - maar van ons pogings is reeds daar.

    Al hierdie kort voorlesings word op ons YouTube kanaal geplaas en is gratis vir aflaai, lees en luister. Laat weet as ons op enige ander manier kan help. Kyk gerus op die kanaal Die Namib Skryf -https://www.youtube.com/channel/UC0uuq7ZsbTo95UeVQfjwxsw?view_as=subscriber

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK