Deur Marc van Oostendorp
(My vertaling)
’n Voor die hand liggende vraag hier is: Waarom sou leerders eintlik lesers moet word en/of lesers moet bly? Die opstellers van hierdie opdrag kom daarvoor met ’n hele boel redes, waaronder die volgende:
- (...) Tot ’n groter mate as die lees van alledaagse tekste, lei die lees van literêre tekste tot ’n stadiger leestempo, waardeur hierdie tekste dieper nadenke kan stimuleer.
- Literêre tekste laat meerdere interpretasies toe en bied insig in wat in iemand anders se kop aangaan. Dit kan tot empatiese vermoë bydra en genuanseerder kommunikasie en optrede tot gevolg hê.
- (...) Ten slotte het werk met letterkunde ’n gunstige uitwerking op taalvaardigheid, woordeskat en leerprestasie in die algemeen.
Dit is alles funksies buite die literatuur self: Jy gaan beter leer nadink, raak empatieser en genuanseerder wat jou handelinge betref, jou woordeskat brei uit, en jy vaar ook beter op skool. So word die lees van letterkundige tekste as ’n soort kragoefening voorgestel: Baie gesond vir die liggaam en ledemate, al is dit nie noodwendig pret nie. Dit is waarskynlik nodig om die bose buitewêreld van die belangrikheid van letterkundeonderrig te oortuig, maar die uitwerking daarvan is lastig om te bewys (al is daar wel gedeeltelik aantoonbare resultate).
Maar in hierdie hoekie van die internet kan ek miskien tog wel ook daarop wys dat die belangrikheid van die letterkunde tog veral lê in die letterkunde self: Stories laat ’n mens sien dat daar alternatiewe is, maak dit vir jou moontlik om dié alternatiewe te beleef. Verhale lig ’n mens uit die enorm klein wêreldjie van jou brein. Danksy stories kan ’n mens jou af en toe ook in ander wêrelde begeef. Verhale gee aan ons lewens struktuur. Ons lewe is in dié sin ’n verhaal, en daardeur kan ’n mens jou lewe beter begryp; as jy weet wat ’n verhaal is; wat die beperkinge is van ’n verhaal.
Dit geld ook vir gedigte, wat dit moontlik maak om die taal buite die alledaagse werklikheid te plaas. In emosionele en ander oomblikke […] wend baie mense hulle tot verse, en dit is nie om dowe neute die geval nie. Dikwels is daar by iemand ’n behoefte aan die buitepersoonlike stem wat ’n vers laat klink. Dit is nie sommer niks nie, en ook nie iets waardeur jy bloot “stadiger leer lees” nie. Dit is iets baie waardvols in die menslike bestaan.