Deur Marc van Oostendorp
(My vertaling)
Ek is bly dat hierdie opdrag daar is. In ’n reaksie op my eerste stukkie oor die sewe opdragte skryf Marc Kregting:
Dit lyk vir my na ’n onverdoeselde ideologiese boodskap wat lynreg na ‘die neoliberalisme’ toe lei. Vir my is kreatiwiteit vernietigend, terwyl hier na iets gebruikersvriendelikers gestreef word, ’n soort pasgemaakte pop, ens. Dit word gewoon ‘vernuwend’ genoem en wil bo alles ’n aanwins wees en nuttig gebruik kan word, eerder as om die veelbesproke ‘kritiese’ burger groot te maak.
Miskien word die kreatiwiteit in hierdie opdrag inderdaad ’n bietjie voorbeeldig aangebied, en nie as die verwoestende natuurkrag wat dit ook kan wees nie, wat die mens meevoer na allerlei idees wat heeltemal buite die sosiaal aanvaarbare val, wat waansinnig is, en daarom ook gevaarlik – in elk geval vir die bestaande orde, waarvan dit die grense oorskrei.
Hierdie soort kreatiwiteit is natuurlik nie met die onderwys te versoen nie, want dit beteken tog ook altyd om jong mense in te lei in wat die mensdom op die oomblik seker dink te weet. Onderwys veronderstel ’n sekere mate van orde, en van aanvaarding van dié orde. As volwassenes het ons uitgevind dat die wêreld sus en so inmekaarsteek; as jy wil saamkom in dié wêreld wat ons geskep het, kan jy ons dit in jou kop laat afdruk.
Tog, of daarom, dink ek dis goed dat hierdie opdrag daar is, maar paradoksaal ook. Natuurlik nie om bo alles “vernuwing” voorop te plaas nie, dit wil sê vernuwing binne die bestaande raamwerke, maar om aan elke jong mens ’n voorsmaak te gee van die gevaarlike krag wat volgens my uiteindelik die belangrikste is wat jy kan ontdek.
'n Mens kan, dink ek, nie ’n gelukkige mens wees as jy nie kan bloei – floreer, gedy – nie, as jy geen eie bydrae kan lewer tot die wêreld om jou nie, aan die mense in die wêreld nie, as jy niks kan maak nie, as jy alleen maar ’n pieksel is in ’n rekenaarspel, volledig bepaal deur omstandighede buite jou eie wil. ’n Mens wil werk, maar nie in die sin van bloot net die opdragte en take uitvoer wat ander aan jou oplê nie, maar deur ook self die werklikheid so ’n bietjie na die regte kant toe te druk.
Waarby elkeen gelaat word om self uit te vind wat vir hom of haar “die goeie kant” is. Dit lyk vir my na kreatiwiteit.
Om kinders dit te laat aanleer, is moeilik. Maar dit is ook uiters belangrik.