Boslansters

Geplaas deur Jana Luther Sondag 04 November 2018
Gepubliseer in VivA;

In VivA se Taalwerkersforum vra George du Bruin onlangs: “Wie ken die woord boslanster” vir iemand wat in die Bosveld woon? Waarop Jeanette Ferreira-van Jaarsveld antwoord dat sy in die Laeveld met dié woord grootgeword het. Toe ek Vrydag daarna verwys in Beeld se rubriek Woordwisseling, kry ek van prof. Fransjohan Pretorius ’n e-pos met dié interessante stukkie geskiedenis. Hy skryf:

Dit klop dat Jeanette Ferreira in die Laeveld met die woord boslanster” grootgeword het. Ek sal verduidelik waarom Laeveld” so belangrik is.

Jy sal weet dat die wisselvorme “boslanser” en “boslansier” reeds in 1956 in Deel 1 van WAT verskyn met die volgende verklarings:

1 (skertsend) Takhaar uit die Bosveld, gew. ’n ruwe, minder beskaafde persoon; tor: Hy is ’n egte ou boslanser.
2 Boer uit die Bosveld met groot, onversorgde baard wat onverskrokke dapperheid aan die dag gelê het in die Vryheidsoorlog.
3 Bewoner van die Bosveld.
4 Naam deur genl. Ben Viljoen gegee aan lafhartige burgers wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog met hul vee na die Bosveld gevlug het i.p.v. op kommando te bly.

Verswyg maar dat die persoon wat vir hierdie inskrywing verantwoordelik was, slordig is deur “Vryheidsoorlog” en “Tweede Vryheidsoorlog” in dieselfde inskrywing aan te gee.

My navorsing oor jare het vir my geen “boslanster” of aanverwante spelling vóór die Anglo-Boereoorlog opgelewer nie. Ek het hom vir die eerste keer in primêre dokumente oor die Anglo-Boereoorlog opgetel, en spesifiek in die betekenis wat Ben Viljoen bedoel (soos 4. in WAT).

Ek aanvaar persoonlik die verklaring 1. van die WAT, maar slegs gedeeltelik, soos ek sal verduidelik. Beslis aanvaar ek nie 2. of 3. nie, want dit druis in teen wat ek (soos Ben Viljoen) as sy eintlike betekenis beskou.

Waar kom die woord dan vandaan?

Uit die Anglo-Boereoorlog.

Die woord “lansier” (Engels “lancer”, wat dus meestal deur die Boere as “lanser” gebruik is) het eers in die Anglo-Boereoorlog aan die Boere bekend geword, en wel toe die 5th Lancers en die 5th Dragoons met hul lanse (lang steekwapens soos in gimkana) die vlugtende Boere (waaronder ook Hollanders en Duitsers) tydens die Slag van Elandslaagte op 21 Oktober 1899 gejaag en verskeie gedood het. Daarna was die Boere geweldig bang vir dié lansers.

Maar ek neem hom verder: Tussen Junie en September 1900 het die meeste Transvaalse kommando’s ooswaarts langs die Delagoabaaispoorlyn teruggeval. Ná die Slag van Bergendal (21-27 Augustus) het hulle in die Laeveld beland, en daarna deur die Bosveld na Pietersburg uitgewyk.

Baie burgers het nie meer kans gesien vir veg nie en die wapen amptelik by die Britte neergelê – die “hendsoppers”. Maar ’n klompie van die burgers wat moedeloos geword het, wat nie weens die verskroeiedeaardebeleid hulle beeste wou verloor nie en ook nie amptelik by die Britte wapen neergelê het nie, het eenvoudig die Bosveld en (in die winter) die Laeveld binnegetrek, en daar met hul vee geskuil.

Op ’n manier was hierdie burgers nuttig vir die kommando’s, want die offisiere kon teen ’n kommandeernota vir terugbetaling ná die oorlog van hulle waardevolle vee opeis. Dié veeboere is deur die bittereinder-burgers “boslansers” of “boslansters” genoem. “Boslansiers” het ek nie teëgekom nie, as ek reg onthou. Die t in “boslansters” is ’n boeremanier van praat en nogal argaïes.

En ons kan die ontstaan van die woord mooi dateer. 

Staatsekretaris F.W. Reitz het mos ’n paar gedigte op kommando geskryf. (In die laaste twee jaar van die oorlog het die ZAR-regering op die Oos-Transvaalse Hoëveld en in die Laeveld rondgeswerf.) Op 29 Desember 1900 het generaals Ben Viljoen en Chris Muller ’n Britse garnisoen by Helvetia, noord van Machadodorp, in ’n verrassingsaanval verslaan. Die Boere het ’n Britse kanon gebuit, wat hulle terstond die “Lady Roberts” genoem het – na lord Roberts, wat ’n maand tevore die Britse opperbevelhebberskap aan lord Kitchener oorhandig het, se vrou, lady Roberts, wat hom na Suid-Afrika vergesel en in Melrose-huis in Pretoria gebly het.

Dis hier waar F.W. Reitz toe sy bekende gedig “De ‘Lady Roberts’” geskryf het. Dit moes ná Helvetia (29 Desember 1900) en voor 25 Januarie 1902 gewees het, want Viljoen is daardie nag onder ietwat verdagte omstandighede krygsgevange geneem, en hy het uit die Afrikanernasionaliste se helde-album geval. Tydens die skryf van die gedig was hy nog ’n held in Reitz se oë. 

Soos met van Reitz se ander opbeurende gedigte, soos “De Mielie Pit”, is ook “De ‘Lady Roberts’” onder die burgers (waarskynlik hoofsaaklik van die Oos-Transvaalse kommando’s) versprei, en op die musiek van die liedjie “The Irish Emigrant” van Gerard Bakker op kommando gesing. Dit is in die eerste FAK-Sangbundel opgeneem en verskyn steeds in die FAK-Sangbundel, vierde uitgawe, vyfde druk van 2001.

Hier staan die Lady Roberts: Hoera vir Ben Viljoen!
Hoera vir Gen’raal Muller! want hul’t die ding gedoen.
Die trekboer en boslanser, die kom haar hier beskou,
dan sê hul: Alle wêreld! Waar kry jul die ou vrou?

Dan sê ons! die ou Lady is ’n nuwejaarspresent
wat Ben Viljoen gestuur het vir ons ou President.
Dan word die trekboer wakker en trek weer met sy goed,
die arme ou boslanser, die kry dan ook weer moed.

Lord Roberts is al huistoe. Die veldheer het getrap;
sy vrou het hy laat blywe: sy hou van mieliepap.
Van al ons arme mense brand hy die huise af.
Die mans kan hy nie win nie, dus moet hy vrouens straf.

Maar sy ou Lady Roberts, wat lidiet uit kan stort,
stuur hy Helvesia toe en sit haar in die fort.
Daar, dag hy, is sy veilig, want die verdekste Boer
lê maar net agter klippers met sy verdekste roer.

Lees 197 tye Laaste modifikasie op Sondag 04 November 2018 20:32

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK