'Awesome' het al in 1990's kop begin uitsteek

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Vrydag 09 November 2018
Gepubliseer in VivA;

Dit is kennelik onwelvoeglik en veral ongevraagd om kritiek op Afrikaanse “kuns”-films uit te spreek. Daarom sal ek maar liewer nooit in die openbaar sê dat ek ʼn paar keer verveeld op my horlosie gekyk het toe ons onlangs Kanarie gaan kyk het nie. Aangesien hierdie nie ʼn fliekrubriek is nie, mag ek dus maar skromeloos oor die taal van Kanarie praat.

ʼn Reuseuitdaging vir enige draaiboekskrywer of regisseur wat ʼn periodefilm maak, is die taalgebruik.

Byvoorbeeld, in ʼn film soos Krotoa kan die filmmaker in wese nie die taalgebruik van 350 jaar gelede perfek weergee nie. Benewens die feit dat ons nie regtig weet hoe die taal toe geklink het nie, sal weinig mense dalk enigsins die film kon volg as ʼn mens wél die taal van daardie tyd sou gebruik het.  Boonop kan ons breine maklik ons agterdog jeens nonhistoriese taalgebruik tydelik opskort, ten einde die sprong te maak tussen ʼn historiese persoon en die karakter wat deur ʼn akteur op die skerm uitgebeeld word.

Dit sou wel vreemderig (en potensieel grapperig) wees as ʼn karakter in Krotoa iets soos “Is jy van jou trollie af, Janneman?!” sou uitroep. ʼn Kontemporêre gehoor sou gewoon kon aanvoel dat hierdie uitdrukking ʼn kontemporêre ene is. Wanneer dit in ʼn serieuse periodedrama voorkom, staan dit seerooglik uit as ʼn sogenaamde anachronisme – iets wat teen (“ana-”) die tyd (“chronos”) indruis.

Film- en TV-man Gerrit Joubert wys my daarop dat veral talige anachronismes eintlik juis opval in films wat tegnies en ontwerpsgewys besonder getrou aan ʼn tydsperiode is. Omdat alles in die film – musiek, kostuums, die stel, kleurskakerings, alles – jou na ʼn ander tydperk meesleur, spring die geringste dingetjie wat uit plek is jou dan makliker in die oog. Só gesien stel die uitstekende filmmaker dus as 't ware vir hom-/haarself ʼn wip.

As iemand wat selwers ʼn tiener in die 1980’s was, het Kanarie se makers myns insiens uitstekend daarin geslaag om die periode besonder akkuraat uit te beeld. ʼn Paar talige anachronismes in Kanarie het my egter opgeval:

  • My gunstelingmoment in die film is wanneer Germandt Geldenhuys se karakter gil: “Mal vir Mimi!” Ek het voorheen al ietsie geskryf oor die “mal vir X”-konstruksie en aangetoon dat dit ʼn redelik resente konstruksie in Afrikaans is. Die waarskynlikheid is baie klein dat dit in 1985 bekend sou wees.
  • Schalk Bezuidenhout se karakter kom van Villiersdorp in die Wes-Kaap. Toe hy sy mond die eerste keer oopmaak, spring Schalk se kenmerkende geronde “a” (soos in “my mô is Afrikôôns”) dadelik in my oor. Die bekende Afrikaanse fonoloog, prof Daan Wissing, sê dat ons met stelligheid kan aanneem dat ʼn jong man uit Villiersdorp in 1985 nié sy a’s so sou rond nie. Vandag miskien-miskien, maar nie toe nie.
  • Die opvallendste anachronisme vir my is egter wanneer een van die karakters ʼn “awesome” laat val. Vir my is die ge-“awesome”-ry in Afrikaans ʼn verskynsel van die nuwe millennium. ʼn Blitsopname op Twitter bevestig my gevoel: Slegs 11% van die respondente dink dat dit ʼn verskynsel is wat voor 2000 in Afrikaans begin nesskop het.

Maar dan bring ʼn dieper gegrawe verrassende feite vorendag. Korpusdata van geskrewe Afrikaans toon dat “awesome” al hier in die middel 1990’s plek-plek begin kop uitsteek het, wat impliseer dat dit waarskynlik wel al in die 1980’s in gesproke taal voorgekom het. Kyk byvoorbeeld na die volgende aanhaling uit Die Burger van 6 Junie 1994: “Dis hul eerste ateljee-plaat in sewe jaar en klink so professioneel, swaarwigtig, dramaties en doodgewoon ‘awesome’ soos altyd.”

Harde feite bring nuwe insigte. As die vermeende anachronismes nie so anachronisties is as wat ek aanvanklik gedink het nie, dan is Kanarie ook dalk awesomeër as my eerste indrukke.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 09 November 2018  verskyn.

Beeld logo

Lees 938 tye Laaste modifikasie op Vrydag 09 November 2018 09:13
Meer in hierdie kategorie: « Boslansters Aasvoëls »

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK