Aasvoëls

Geplaas deur VivA-redaksie Sondag 11 November 2018
Gepubliseer in VivA;

Deur Pieter Bosman

aasvoëlHeelwat voëlname is beskrywend van die voël se voorkoms of gedrag. Dink aan oranjeborsboslaksmankwikstert, bronsvlerkdrawwertjie, bontkiewiet, ensovoorts – almal name wat amper “vanselfsprekend”, hoewel ietwat verbeeldingloos, is. Aasvoëls se naam val in hierdie groep. Hulle vreet “aas”; met ander woorde, iets wat reeds dood is. Taalkenners is onseker of die woord aasvoël ’n Afrikaanse skepping is, aangesien dit onbekend in Nederlands is (die woord gier word gebruik), tog bestaan die woord Aasvogel wel in Duits. Hoogdrawende Afrikaanssprekers gebruik ook “gier”.

Aasvoëls word beskou as roofvoëls, maar hulle is eintlik reinigers van die veld omdat hulle van karkasse ontslae raak. Iemand het eenkeer van hierdie sanitêre korps gesê: “Hulle staak nooit nie!”

’n Teenstrydigheid is die hoofsaaklik vegetariese witaasvoël, wat meestal van die neute van oliepalmbome leef. Wanneer hulle wel lus voel om hul diëet te verander, sal hulle self vis vang, en nie soos ander aasvoëls wag om op ’n dooie dier te aas nie. Dit verklaar waarskynlik hulle alternatiewe volksnaam, bontseearend, maar die naam vaalaasvoël word ook soms gebruik.

Vir die Egiptiese aasvoël kry ons ’n volksnaam witkraai, wat eintlik ’n direkte vertaling van die Namakwa‑Khoi !Urĭ-goráb is (letterlik “wit” en “kraai”). Hulle sal, soos ander aasvoëls, ook op karkasse aas, maar hulle gewoonte om ’n klip te gebruik om ’n volstruiseier te breek om sodoende die voedsame inhoud by te kom, is vir baie jare deur geleerdes beskou as die enigste voorbeeld van ’n gereedskapgebruiker buiten die mens. Vandag weet ons natuurlik dat baie voëls en heelwat primate gereedskap benut.

Egiptiese aasvoëls vreet ook, buiten die reeds genoemde aas en (volstruis)eiers, insekte en kleiner soogdiertjies, voëltjies en reptiele, sowel as die mis van (verkieslik) roofdiere. Dit kan ook die ontlasting van mense insluit!

Baardaasvoëls se diëet is, streng gesproke, ook nie “aas” nie, aangesien dit eintlik uit die beendere bestaan.

As ons teruggaan in ons geskiedenis, in die tyd toe die algmene vervoermiddel ’n ossewa was, vind ons dat die span osse bestaan het uit ’n groep diere elkeen met ’n persoonlikheid en individuele voorkoms. So het elkeen ook ’n spesifieke naam gehad, gewoonlik gebaseer op die dier se voorkoms (en soms gedrag). Dus kry ons, onder andere, Witvoet, Geelbek, Janbruin en Bles. Maar dikwels ook Aasvoël. Dit dui daarop dat die naam eintlik verband hou met “as” – die kleur – eerder as “aas”.

In Johannesburg is die hoogste punt ’n koppie tans bekend as Northcliff, vroeër bekend as Aasvoëlkop. Trouens, die NG Gemeente daar gebruik hierdie naam.

Daar is twee Aasvoëlberge in Suid-Afrika – een in die oostelike Vrystaat en die ander een in die Oos-Kaap.

Lees 965 tye Laaste modifikasie op Sondag 11 November 2018 19:25

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK