Dikstertmerries en feite soos koeie

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 16 November 2018
Gepubliseer in VivA;

perdDie vertakking van die taalwetenskap wat die oorsprong van woorde naspeur, hul eerste, oudste, betekenisse en verdere ontwikkeling, word die etimologie genoem. Wonder jy oor die herkoms van ’n Afrikaanse woord? Soek dan in die EWA, die WAT se Etimologiewoordeboek van Afrikaans, of in die groot Nederlandse etymologiebank.nl.

Teenoor dié spesialiswetenskap wat etimologiese speurvernuf vereis, staan die volksetimologie van Jan en alleman; gewone mense wie se tonge, in die verlede dalk meer dikwels as vandag, oor vreemde woorde gestruikel het: nuwe name vir nuwe dinge; goeters van elders; woorde uit ander tale; wetenskapsterme; vaktaal. Spontaan en heeltemal onwetenskaplik het ons voorouers tongknopers dikwels by hulle eie taal, hul eie variëteit, hul eie, unieke praatmaniere aangepas.

In die WAT is baie sulke klankmatige vervormings opgeneem. Party kom al uit Nederlands; ander uit verskillende tye in Afrikaans se geskiedenis; baie is vandag nog net historiese vorme.

Die Franse “eau-de-cologne” was Oumagrootjie se “oliekolonie”. Die bakkop-“koperkapel” eens Portugees se “cobra de capello”, die “kobra met die bakkie”.

In die volksmond het “Oos-Indiese gras” “eendjiesgras” geword; “Oos-Indiese kweek” “eendjieskweek”, ook “steentjieskweek” genoem; en “Engelse doring”, “enkeldoring”. “Kanferfoelie” is van “caprifolium”, in Latyn “bokblaar”, afgelei; “katjiepiering”, vir die immergroen lekkerruik-gardenias, van hul Maleise naam, “katjapiring”.

Vir “avokadopeer” is daar “advokaatpeer”. Vir verbeelsiektes – in plaas van die patologiese “hipochondrie” – “ipekonders” en “hipokonders”. Vir “cod liver oil” in die WAT ook “godliewerolie”.

As die seewater by Mosselbaai en George langs terugtrek en dié “draw back” vir visvang ’n ongunstige toestand skep, sê die manne in die skuite: “Ons gaan nie vandag vis nie, die see is ‘droëbek’.”

Stoere Boere het die Britse “Empire” spottend-sarkasties tot “Empaaier” verdraai; “thank you for your kindness” moedswillig tot “dankie vir jou kaiings”.

By ’n skouerophalende “ouer” garde op Stellenbosch, waarskynlik in die 1950’s, ’60’s, hoor die WAT vir “das ist mir ganz egal”, Duits se “dis vir my om ’t ewe”: “Dis my kansiekaal.”

“Arrie-warrie” as tot-weersiens-groet, skertsend uit die Franse “au revoir”, hoor ’n mens vandag nie eintlik meer nie. Gee iemand jou “die binnevet van die boud” kry jy grappenderwys “the benefit of the doubt”. Die hele “boksendais”, ook “boksemdais” – almal, alles bymekaar – is dobbelstene in hul houertjie; Engels se “box and dice” vir die gooi.

In die Paarl, Stellenbosch, Porterville, Piketberg kry Afrikaans se “dikstertmerrie”, die WAT – “dikstertmerrie” ’n volksetimologiese verdraaiing van “dictionary” – die woord “kaliefa”. Uit “kaliber”: “Ek is nie van sy kaliefa nie”; “Jy’s nie my kaliefa nie”; “Hierdie kaliefa twak rook ék nie”.

Van die plegtige Rooms-Katolieke “kerkmis” het ons nog “kermis”, en “kothuis” vir “cottage”. Ander onlangse verdraaiings ontlok doelbewus ’n glimlag: “bekdrywer” uit “back-seat driver”, “briekdans” uit “breakdance”, “spietkop” uit “speed cop”; ja, ook “potgooi” uit “podcast”.

Taalkundiges voer aan dat volksetimologie hoofsaaklik uit onkunde spruit. Ook dat nuwe volksetimologieë in ons inligtingseeu nie eintlik meer voorkom nie. Is dit ’n feit soos ’n koei (’n “fait accompli”)? Of ken julle nog varser voorbeelde? Laat weet vir ons. By viva-afrikaans.org/varsgebek.

’n Verkorte vorm van hierdie bydrae het ook in Beeld van 16 November 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 326 tye Laaste modifikasie op Vrydag 16 November 2018 09:54

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK