Direkte en indirekte rede: ’n gedwaal in die duister

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 22 November 2018
Gepubliseer in Nuus;

As daar nou een onderwerp is waarmee daar in Afrikaansonderrig kleigetrap word, is dit die direkte en indirekte rede. Die redes daarvoor is veelvuldig én veelvoudig, maar die oerdwaling het gekom, vermoed ek, by die behoefte om “maklike” reëls te skep waarmee kinders “maklik” onderrig en “maklik” geassesseer kan word. Intussen het hierdie “maklike” reëls so ver van die werklikheid verwyder geraak dat ’n hele geslag taalgebruikers glo hulle kan die taal van hulle harte en monde en sinne nie beheers nie. Dit maak van hulle vreemdelinge in hulle moedertaal, en ons verloor nie net hulle belangstelling nie, ons verloor hulle entoesiasme en hulle passie vir die taal.

 

Maar goed, kom ons begin by die begin: Waarom moet leerders leer hoe direkte en indirekte rede werk? Omdat sekere tekste en kontekste van die skrywer vereis om ’n spreker se woorde oor te vertel of te rapporteer. (In Engels is “reported speech” ’n sinoniem vir “indirect speech”.) Direkte rede word byvoorbeeld by uitstek in fiksietekste gebruik. In tekste soos koerantberigte, rubrieke, notules en verslae raak aanhalings van iemand se direkte woorde al hoe minder bruikbaar. Wat meer is, selfs in fiksietekste is daar soms geleenthede waar die verteller vir die leser vertel wat ’n karakter gesê het. Die probleem is net: Die aard van die indirekte rede verskil na gelang van die teks, en dis hier waar die skoolreëls leerders liederlik in die steek laat.

Ek vermoed almal weet waarna ek verwys as ek van “skoolreëls” praat. Elke skoolhandboek het hulle en almal lyk min of meer soos die voorskrifte in hierdie Wikipedia-artikel: ek word hy of sy, ons word hulle, hier word daar, gister word die vorige dag, ens. Leerders leer dié lysie omskakelings soos papegaaie en siedaar, indirekte rede onder die knie. In die eksamen is daar ’n vraag soos die volgende:

 

Skryf die volgende sin oor in die indirekte rede:
Piet vra vir Jan: “Kom jy môre hiernatoe?”

 

En dan pas die leerder die omskakelings toe en kom vorendag met:

 

Piet vra vir Jan of hy die volgende dag soontoe gaan.

 

Juffrou sien na, regmerkie (of meestal nie), almal slaak ’n sug van verligting, blaai verder en troos hulle daaraan dat hulle gedoen het wat die leerplan vereis.

 

Maar dan kom ’n arme siel wat verder gedink het as wat die reël lank is by die Taaltannie uit en vra: “Maar hoekom kan dit nie wees Piet vra vir Jan of hy môre hiernatoe kom nie?" En dan sê die Taaltannie: “Dis reg so, dit kan ook.” Grootskaalse verwarring, want wat nou van die reëls, en wat nou van die eksamen?

 

Kom ons vergeet net ’n oomblik van Wikipedia en die handboek en die skoolreëls en voorskrifte, en kom ons kyk net of ons kan bepaal hoe die taal werk. (En ons hou terselfdertyd in gedagte dat taal die reëls maak; die reëls maak nie die taal nie.)

 

Konteks A: In ’n fiksieteks is daar twee karakters, Piet en Jan. Die outeur van die teks laat hulle gesels en skep dialoog om die gesprek weer te gee. In die dialoog is daar, benewens die karakters, ’n derdepersoonsverteller. Die teks lyk so:

 

Piet vra vir Jan: “Kom jy môre hiernatoe?”

 

In hierdie sin is Piet vra vir Jan die verteller se teks. “Kom jy môre hiernatoe?” is Piet se dialoogbeurt, wat in die direkte rede geskryf word.

 

Later in die teks besluit die skrywer om nie direkte rede vir die dialoog te gebruik nie, maar om die gepraat deur die verteller weer te gee. Dit lyk so:

 

Piet vra vir Jan of hy die volgende dag soontoe kom.

 

Konteks B: In ’n fiksieteks is daar twee karakters, Piet en Jan. Die storie word uit Jan se oogpunt vertel, en Jan is ook die eerstepersoonsverteller. Piet kry sy dialoogbeurt, maar Jan se reaksie word nie in die direkte rede geplaas nie, want Jan se reaksie is eerstepersoonsvertellerteks.

 

"Kom jy môre hiernatoe?" vra Piet.

Piet vra vir my of ek môre hiernatoe kom. Hiernatoe! Is hy mal?!

 

Konteks C: Tydens ’n kerkraadsvergadering moet die voorsitter, Piet, met die ondervoorsitter, Jan, reëlings tref. Die sekretaris, Koos, moet die verloop van die gesprek notuleer.

 

Piet vra vir Jan: "Kom jy môre hiernatoe?"

 

In die notule skryf Koos:

 

Piet vra vir Jan of hy die volgende dag hiernatoe kom.

 

(Ja, dis hiernatoe, want kerkraadsvergaderings word altyd in dieselfde plek gehou en die notule word voorgelees in dieselfde plek as waar die vergadering plaasgevind het.)

 

Konteks D: ’n Joernalis doen ’n ondersoek na korrupsie. Hy besoek die kantoor van die wyksraadslid en hoor hoe die raadslid, Piet, vir sy adjunk, Jan, vra:

 

“Kom jy môre hiernatoe?”

 

Die joernalis skryf in sy berig:

 

Piet het vir Jan gevra of hy die volgende dag soontoe gaan.

 

Wat probeer ek hiermee illustreer? Twee goed:

  1. Geen mens kan van enige taalgebruiker, hoe bevoeg ook al, verwag om te besluit wanneer hier of daar, hiernatoe of soontoe, nou of toe, gister of die vorige dag, môre of die volgende dag van pas is sonder om die konteks (wat insluit vertellersperspektief, wie “ek” is, waar “hier” is en wanneer “nou” is) en die tekstipe (roman, drama, berig, verslag, notule, verklaring, dagboek, rubriek) te gee nie. Enige toets- of eksamenvraag wat dus lui “Skryf die volgende sin oor in die indirekte rede” doen die leerders onreg aan.
  2. In Engels word tekste by verstek in die verlede tyd geskryf. In Afrikaans word fiksietekste en notules by verstek in die historiese teenwoordige tyd geskryf. Berigte, verslae, dagboeke en verklarings word in die verlede tyd geskryf. Geen mens kan van enige taalgebruiker verwag om te weet watter tyd om by indirekte rede te gebruik as die gebruiker nie weet in watter tekstipe die indirekte rede aangewend gaan word nie. Rigiede nasienriglyne oor teenwoordige tyd wat teenwoordige tyd en verlede tyd wat verlede tyd bly sonder dat daar uitdruklik aangedui word vir watter soort teks die omskakeling gedoen word, verontreg ook die leerders.

 

Afgesien van al hierdie kwessies word die rede waarom leerders die konvensies met betrekking tot direkte en indirekte rede moet aanleer, myns insiens heeltemal uit die oog verloor. Om van hulle te verwag om vreemde, gemaakte sinne vol strikke en vangplekke volgens ’n formule na kunsmatige, onbruikbare taalbousels om te skakel, is ’n steriele oefening. Ek weet van geen volwasse taalgebruiker wat in die “regte lewe” so moet sit en sinne omskakel nie. Taalgebruikers moet in die “regte lewe” tekste kan genereer, en hulle moet weet hoe dialoog, tyd en bywoordelike bepalings in verskillende soorte tekste hanteer word.

 

In fiksie hanteer ’n mens dialoog hoofsaaklik in die direkte rede. Aspirantskrywers se grootste tegniese flater is dat hulle groot dele van die teks deur die verteller laat vertel in plaas daarvan om dialoog te skep. Dit is baie sinvoller om vir kinders ’n stuk vertelde teks in die indirekte rede te gee (die verkeerde styl) en dan vir hulle te sê om dialoogbeurte met direkte rede vir die karakters (die regte styl) te skep. As hulle die leestekens reg aanwend (kyk hoofstuk 13 in die Afrikaanse woordelys en spelreëls) en weet hoe om die historiese teenwoordige tyd reg te gebruik, het hulle die vaardigheid bemeester om stories te skryf. Al wat hulle dan kortkom, is lewenswysheid en ’n goeie plot.

 

In ’n notule gebruik ’n mens ook die historiese teenwoordige tyd, maar alles word in die indirekte rede geskryf. Dit is baie sinvoller om vir leerders ’n woord-vir-woord-gesprek te gee (of nog beter, ’n opname te speel soos wat dit in die werklikheid gebeur) en te sê hulle moet dit weergee as ’n punt in ’n notule.

 

Gee vir hulle dieselfde gesprek en sê hulle moet ’n kort berig skryf. In ’n koerantberig word die dialoog hoofsaaklik in die indirekte rede gegee, met hier en daar ’n aanhaling om ’n belangrike uiting uit te lig. Maak seker hulle wend die verlede tyd reg aan en dat hulle die bywoordelike bepalings reg hanteer.

 

Gee dieselfde gesprek en vra vir ’n verslaggie. Een paragraaf. Verlede tyd, indirekte rede.

 

Vergeet van formules. Vergeet van die uitvangmentaliteit. Vergeet boweal van omskakeling, dis ’n onnatuurlike, wêreldvreemde ding. Die vaardigheid wat jong skrywers moet aanleer, is om van die begin af geskikte stylkeuses vir die toepaslike dokument te maak en dan die styl mooi konsekwent toe te pas. Hulle moet die leestekens reg gebruik en hulle moet die regte tyd kies om die teks in te genereer. Met die werkwoorde mooi netjies op hulle plek en die bywoordelike verwysings na tyd en plek akkuraat gekies vir die konteks en die teks. As hulle dit alles gedoen het, verdien hulle 100%. Gee dit vir hulle. Maak hulle lus vir skryf en entoesiasties vir die taal waarin hulle elke dag, sonder kennis van ’n enkele reël, ’n barshou kommunikeer.

 

Nee, dis nie so maklik as om vir hulle ’n bladsy met ’n formule op te stel en hulle dit soos ’n trop skape te laat leer nie. Maar ek vra my af wat die waarde van formules soos dié in handboeke en op Wikipedia is, as dit a) nie werklike taalgebruik weerspieël nie, en b) niemand oplei om enigiets sinvols met die taal te doen nie. Ons moet dalk op ’n punt besluit of ons hier is om kinders soos skape deur ’n graad te jaag en of ons hier is om hulle iets te leer. Want die tragiek is dat daar slim kinders is, bevoegde kinders, kinders met talent en aanvoeling vir die taal en met groot harte en ’n brandende passie wat hulle op papier wil uitstort, maar wat tot moedelose en verbouereerde stomheid geslaan word deur reëls wat geen verband met die werklikheid toon nie. En so verloor ons die volgende geslag se Louws en Van Heerdens en Breytenbachs, want hulle kies eerder ’n beroep wat sin maak as een wat bestaan uit “Skryf die volgende sin in die indirekte rede oor”.

 

Iets om aan te herkou in jou igloo.

 

VivA-groete
Sophia

Lees 917 tye Laaste modifikasie op Vrydag 23 November 2018 08:27

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK