Kom ons kyk eers suiwer taalkundig na die vraag.
Oorspronklik is die woord natuurlik ʼn samestelling: p**p + h*l, net soos p**psak of donkieh*l. Suiwer op grond van die betekenis is daar dus ʼn sterk saak voor uit te make dat p**ph*l die korrekte spelling is.
Waarom los Max (en ander mense) dan die “h” weg? As gevolg van sinkopee ter wille van konsonantklustervereenvoudiging. Hou vas, ek verduidelik.
Die konsonantkombinasie “...ph...” in die middel van die woord is moeilik om uit te spreek. Om dit te vereenvoudig, skrap ons een van die konsonante (die “h”), sodat daar slegs ʼn “p” oorbly: p**ph*l word p**p*l.
Vreemd? Hoegenaamd nie! ʼn Woord soos kermis was eens kerkmis; die oorspronklike boekpens het verander in boepens; vaatdoek het vadoek geword. Só gesien is p**p*l eintlik volkome natuurlik en voorspelbaar.
Wat moontlik inspeel op hierdie spelvorm is dat ons ander kragwoorde het wat ooreenkomste toon met p**p*l. Dink aan f*kk*l en b*gg*r*l, wat beide voorbeelde van verdraaiings is. Dalk kry ons nog eendag ʼn suffiks -ol om woema aan ʼn woord te gee: As jy moeg is, kan jy sê jy het ʼn moegol; as jy naar is, is jy naarol. Baie suf? Dan voel jy suffol. Ek noem maar wat ...
Is Max die enigste ene wat so klakkeloos op die uitspraak af skrywe? Kom ons kyk wat in werklike taalgebruik gebeur.
Uit groot teksversamelings (korpusse) is die waarskynlikheidsverhouding p**ph*l tot p**p*l = 65:35. As ʼn duimsuigreël kan ons sê dat spelvorme met ʼn verhouding tussen 50:50 en 70:30 vir alle praktiese doeleindes wisselvorme is. In die spraakmakende gemeenskap is p**ph*l en p**p*l dus sonder meer wisselvorme.
Wat ook glashelder blyk, is dat p**ph*l in alle soorte tekste – formeel én informeel, geredigeer én ongeredigeer – voorkom, terwyl minder as 5% van die p**p*lle in romans en koerante aangetref word. Ook dit is volledig voorspelbaar: Ons weet dat ons as skrywende volk skryf soos wat ons praat, en ons is daarom kenmerkend progressief en anargisties in ons taalgebruik.
Die les? Ná al die jare is Max du Preez gelukkig nog steeds in woord én daad ʼn liberol.
Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 23 November 2018 verskyn.