Oor ape wat nie weet hulle dra goue ring nie

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Vrydag 07 Desember 2018
Gepubliseer in VivA;

Al dra ʼn aap ʼn goue ring, hy is en bly ʼn lelike ding.

Spreekwoorde soos dié verkondig altyd een of ander waarheid of lewensles wat so ongeveer universeel geldend is. Hoe so? Want dit word baseer op waarnemings en stereotipes wat ʼn groot deel van die gemeenskap ken en herken, juis omdat dit so ʼn algemene verskynsel is.

Byvoorbeeld, ons almal ken een of ander Anghela in Sandton wat eintlik maar ʼn doodgewone Engela van Makwassie is. Sy’t ʼn tweetal onderskeidings in matriek behaal en haar toe in die Groot Stad as een of ander prokureur of binnenshuise ontwerper loop kwalifiseer. En nou is sy verhewe bo Makwassie. Sy is o, so hip en verlig en vertel graag hoe sy en haar Gay Vriend weer die afgelope Saterdag ge-shop het tot sy drop. In liberale geselskappe verwys sy ook gragies na haar Black Friends, ofskoon foto’s van hulle op haar art deco-skoorsteenmantelrak ontbreek.

Sy is ʼn aap met ʼn goue ring.

Want vanaand in haar binnekamer, as sy en Manlief half formeel en deur-die-jare-verwyderd in die bed klim ná nog ʼn suksesvolle aand waar hulle gemaak guitig met dié mengelmoes van mense moes meng, hang haar Makwassieonderrok enkellengte onder haar nagkabaai uit.

“Og, ek kan nie gló Wimpie en Jean het ons na hulle troue toe genooi nie! Hoe gaan ons uit nou weer uit dié ene kom? Ons verskonings raak op.”

Want sien, Anghela se hipgeit en verligtgeit strek net só ver. Dis ʼn gil as sy saam met Wimpie kan gaan shop, of as Jean gratis en op humoristiese wyse huis-en-tuinwenke uitdeel. Watwo sy haar seën oor ʼn “moffietroue” sal uitspreek, want “die Bybel sê immers ...” Lank vergete is hoe sy vroeër vanaand, toe sy deftig en intelligent met die Sandtonse Elite gekoketteer het, ten minste drie keer onbybels was.

Die haan kraai drie maal skaam, want ʼn aap kan nie haar aapgeit wegsteek nie, selfs al dra sy ʼn goue ring.

Terug na die taalkunde: Aangesien spreekwoorde dikwels metafories en beeldend is, kan ʼn mens op die beeld voortborduur om dieper insig in die menslike aard en toestand te kry.

Uiteindelik gaan dit tog nie oor die feit dat jy ʼn aap is nie, nie waar nie? Liewe aarde, die meeste mense in my kenniskring – ekke ingesluit! – is meer aap en minder mens. Ek kom ook van ʼn Makwassieplek af, het ook maar in die Groot Stad gaan studeer. Dat ek ook maar net soos Anghela/Engela niks anders as ʼn aangeklede aap is nie, is gewoon nie weg te redeneer nie.

Maar dit gaan oor die ring, o wee, die ring.

Die aap wat nie wéét sy dra ʼn goue ring, daai aap is ʼn geváárlike ding.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 07 Desember 2018  verskyn.

Beeld logo

Lees 1018 tye Laaste modifikasie op Vrydag 07 Desember 2018 17:56

2 Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel Christine Marais Dinsdag 15 Januarie 2019 10:12 geplaas deur Christine Marais

    Bietjie laat met my kommentaar, maar baie raak gesê, Gerhard!

  • Kommentaarskakel Em Steyn Sondag 09 Desember 2018 21:56 geplaas deur Em Steyn

    Baie dankie vir 'n vermaaklike artikel, al sukkel ek 'n bietjie om die kloutjie by die oor - of die ring by die aap - te bring.
    Op 'n ander trant: Wil jy nie asseblief ook taalkundig oor die woord "Kersfees" skryf nie? Soos hoe die "Christus" van die fees 'n "Kers" geword het. Ek wonder of ons die woorddeel "Kers" nog so oorvloedig sou gebruik het as dit "Christus" gebly het. Stel jou voor: Christusboom, Christusete, Christuspoeding, Christusinkopies, Christuspartytjie... selfs Christusvader!
    Vriendelike groete

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK