Titseltjies en druppeltjies

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 14 Desember 2018
Gepubliseer in VivA;

katpootjieOm groothede te meet, gebruik die wêreld op enkele uitsonderings (soos die VSA) na, sedert 1960 die praktiese, eenvormige metrieke stelsel: die Système International d’Unités, Internasionale Stelsel van Eenhede, kortweg die SI‑stelsel, wat werk in veelvoude, subveelvoude en desimale van tien. In Bylae G van die elfde (2017-)uitgawe van die AWS word die metingseenhede van dié stelsel in besonderhede behandel. Maar vir kleinhede word van toeka, en steeds, ook ander, lukraker eenhede gebruik: ettertjies, flentertjies, rapsies, druppeltjies. Dié lys is lank.

Maak die gat ’n aksie groter. Mik ’n fraksie laer. Laat sak die raam ’n ietsie; nog so ’n ietsie(tjie). ’n Rapsie meer, minder, hoër, laer. Is die een ’n raps groter as die ander, is vinkel nie meer koljander nie. Die ou op die punt sien ons wil verby, maar hy sit sy sit, verskuif nie ’n aks nie.

Sussa drink haar tee met ’n druppeltjie suurlemoen; Boeta (op Robertson en Albertinia) verkies syne met ’n êtjie – ’n titseltjie – melk. In Vaalharts heet dié titseltjie ’n “ettertjie”.

Vir ’n bietjie vloeistof of halfvaste stof hoor ’n mens dikwels ook “lekseltjie”; soms “lekkie”: ’n lekseltjie koffie; ’n lekkie heuning, konfyt. Die mure kort ’n lekseltjie verf.

’n Brokkie sjokolade. ’n Flentertjie kaas, of papier of oorskietlap. ’n Kerfie biltong. ’n Klontjie suiker. ’n Smeerseltjie botter op jou roosterbrood. 

Klokslag Sondag spog Jean op Facebook met borde boordevol boerekos. ’n Ietsie hiervan, daarvan; ’n bietjie van dit, van dat. Tamatieslaai met ’n skeutjie asyn; groenbone met ’n rapsie peper. Maar nie ’n happie, proesel, skeppie of porsie is ons beskore nie. Nie ’n morseltjie vleis, flerts aartappel, flertsie pampoen, of flirtsie wyn nie. Nóg ’n sopie, nóg ’n doppie, nóg ’n bokhaelskoot brandewyn.

“Katietsie”, of “tietsie”, vir ’n “baie klein bietjie”, kry die WAT uit die Paarl. ’n Titsel rooipeper. ’n Titseltjie wasabi. ’n Titsie sjerrie. Net ’n “katspoegie”. Wat ook ’n “entjie” kan wees: Hulle woon ’n katspoegie van die strand af. Moontlik, sê die WAT, “na aanleiding van die betreklike skaarsheid van mondvog by ’n kat”, of dalk na die kort, sissende, ploffende spoeggeluid wat katte soms maak.

Van die Bokkeveld, onder meer uit Nieuwoudtville, kom “katspoortjie”. Vir die klein hoeveelheid van iets wat ’n mens kan optel deur jou vingers in ’n “katpootjie” bymekaar te bring: ’n katspoortjie koffiepoeier. Vandaar ook “grypie” – ’n grypie sout, wat effens meer is as ’n “knippie”, of “knypie”: soveel as wat ’n mens tussen jou duim en voorvinger kan vat.

“Krieseltjie”, soms “grieseltjie”, ook “krummeltjie”, word dikwels in die negatief gebruik: In die huis was daar nie ’n krieseltjie kos nie; in die blik nie ’n krummeltjie brood nie; in die kas geen sikkepit meer nie.

As die laaste bietjie op is, is daar sikkepit.

Die meeste van hierdie woorde wat letterlik ’n bietjie aandui, leen hulle natuurlik ook ruim tot figuurlike gebruik.

“Antie Poppie ... kan Mietjie nog so ’n klein druppeltjie by ons kom speel?” vra Gerty in Sjane van Aswegen se kinderboek Mietjie.

Van die astrofisici Margaret Geller en John Huchra skryf Gideon Joubert in Die groot gedagte: “Hulle het galaksies ondersoek in ’n happie hemelruim.”

’n Mens kan ’n aks te nuuskierig wees, of ’n aks te streng; nie ’n aks toegee nie.

Aan die ander kant moet ’n mens soms ’n fraksie fermer wees.

Sy manier van stap is doelgerig, selfs ’n titseltjie militêr, maar bespeur ek ’n skeutjie senuagtigheid?

Was sy ernstig, of het ek ’n rapsie spot gewaar?

Wat ek dink, skeel hom duidelik nie ’n aks nie. Hy gee duidelik nie ’n flenter om nie.

Nou ja, vir sulke sikkeneurigheid voel ek sikkepit. 

As ’n mens die dag sikkepit voel, voel jy vere.

Hierdie blog het in verkorte vorm ook in Beeld van 14 Desember 2018 verskyn.

Beeld logo

Lees 888 tye

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Pieter Bosman Vrydag 14 Desember 2018 20:52 geplaas deur Pieter Bosman

    As my net ' n baie klein bietjie van iets inskep (of wil hê), het ons altyd gesê: "Net genoeg vir die hol tand."

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK