Krokodilvoëltjie

Geplaas deur VivA-redaksie Maandag 07 Januarie 2019
Gepubliseer in VivA;

Deur Pieter Bosman

 I

In ’n artikel oor “Soorte neste wat voëls kan maak”, wat in ’n ou Landbouweekblad verskyn het (en ek bedoel óúd, gedateer 29 Maart 1922!), lees ek van “... die krokodilvoëltjie wat haar eiertjies in die sand lê en dit toeskop as daar mense in die nabyheid kom”.

Nou ja, wat op aarde is ’n krokodilvoëltjie? Dit klink asof die skrywer, ene P.R.G., aanvaar dat almal weet wat dit is. Miskien het die lesers van sowat honderd jaar gelede dit geweet, maar in 2018 het ek geen benul nie en kan ek nie aan P.R.G. skryf en om inligting vra nie.

Wat ek wel kon kry, is in ’n Brandwag van 4 Februarie 1938, waarin dr. G. Eloff skryf van ’n “bosluisvoël of krokodilvoël ... wat leef van die bosluise op beeste”. Maar die vee-reier of bosluisvoël maak ’n nes en broei nie net eenvoudig op sand nie. (Om nie te praat van die foutiewe bewering van die “leef van die bosluise op beeste” nie!)

Van die voëls wat nes maak op die sand, is daar die geelborsstrandkiewiet, wat ook die eiers toeskop onder die sand wanneer dit die nes verlaat. Maar nêrens kry ek enigsins ’n verwysing na hierdie voël as ’n “krokodilvoëltjie” nie.

Daar is ’n voël in Egipte, wat blykbaar ’n verbintenis met krokodille het, naamlik die nylkiewiet (Pluvianus aegyptius), in Engels die Egyptian plover. Volgens oorlewering tree hierdie kiewiet glo as tandarts vir die krokodille op en klouter selfs binne-in hulle oopgesperde bekke rond om stukkies kos uit hul tande los te pik. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus, wat in die vyfde eeu voor die huidige jaartelling geleef het, het reeds hierdie bewerings gemaak. Maar in omtrent al die naslaanwerke wat ek gebruik het, is dit ten sterkste betwyfel. Dog, danksy ons hedendaagse tegnologie kan ons vandag hierdie gedrag op die internet sien, soos in die insetsel hier onder. Op die internet is ook verskeie foto’s deur verskillende fotograwe hiervan te sien – google “crocodile bird”.

Dit lyk my ek is nou genoodsaak om te aanvaar dat dit die nylkiewiet is waarna P.R.G. verwys het, toe hy van ’n “krokodilvoëltjie” geskryf het.

 

Lees 812 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK