Bruide-'gom' klínk net baie na kleef

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Vrydag 01 Februarie 2019
Gepubliseer in VivA;

 Vra Cules Hammann onlangs in ’n gesels-e-pos: “Waar kom die woord ‘bruilof’ vandaan?” Nie twee dae later nie duik ’n vraag oor die herkoms van “huwelik” iewers op Facebook op. Smaak my iewers het iemand ʼn broek vol planne ...

Vir die geleentheid waar twee mense mekaar trou beloof, het ons in Afrikaans ten minste vier sinonieme: “troue”, “egverbintenis”, “bruilof” en “huwelik”. Lekker uitspattig en #balketoe!

 “Troue” is die maklikste van die klomp, want die wortel wat van dié eeueoue instelling veronderstel word, sit herkenbaar in die afgeleide woord: dat mense trou aan mekaar moet wees. Vertrou mekaar en wees getrou aan mekaar, dan is jy getroud.

Nou moet jy nie dink dat dieselfde soort onderliggendheid te krye is in ons woord “eg” nie, wat hier beteken dit nie “onvervals” nie, maar eerder “wettig”. ʼn “Egverbintenis” is dus ʼn wettige verbintenis van twee mense, en jou “eggenoot” is jou wettige, egte lewensmaat.

“Bruilof” is  ʼn samestelling van “bruid” en die woorddeel -lof. Waar “bruid” vandaan kom, weet nugter, maar al van die vroegste tye af verwys dit na ʼn jong, pas getroude vrou. Haar manlike eweknie is ʼn “bruidegom”, waar die -gom-deel niks met kleefmiddel te make het nie, maar “mens” of “man” beteken, soos ons ook kry in die Engelse bridegroom.

Ons sou wou dink dat die woorddeel -lof in “bruilof” te make het met lofsange vir die jong, pas getroude vrou, maar nee, nee, nee: Dit hou eerder verband met die Protogermaanse  *hlaupan-  wat “loop” of “dans” beteken het. Is ʼn bruilof dan die bruid se dans? Dit sou fraai wees, maar helaas verwys “bruilof” na die stapvoetse optog vanaf die bruid se huis na haar nuwe huis (ʼn gebruik wat kennelik steeds in tradisionele Chinese kulture beoefen word).

Om “huwelik” te verstaan, moet ons eers “hu” (of dan in Nederlands “huwen”) onder die knie kry – ʼn stam wat ons ook kry in woorde soos “ongehude” (“ongetroude”) en “hubare” (“in die mark, nog nie op die rak nie”). Die Protogermaanse wortel *hīw-beteken “wat tot die huishouding behoort”. Om iemand dus te hu, is om hom/haar tot die huishouding te voeg.

Die -lik-gedeelte in “huwelik” is oneindig interessant. Dié deeltjie lyk soos die agtervoegsel wat ons kry in woorde soos “dadelik”, “onmiddellik” of “gruwelik”. Maar watwo, dié dele het niks met mekaar te make nie! Die -lik van “huwelik” (soos ook die -lock van die Engelse wedlock) se verste spoor is die Protogermaanse woord *laik wat “spel, sprong” sou beteken het. Hieruit het die betekenis “dans” in onder andere Goties ontstaan, sodat ʼn huwelik dus eintlik letterlik beteken “dans wanneer iemand tot jou huishouding toegevoeg word”. #weerbalketoe

(Terloops, dieselfde -lik maak ʼn kameeverskyning as -lig in “weerlig”. Daardie -lig verwys nie na ʼn uitstraling of so iets nie, maar na ʼn dans wat in die lug sigbaar is. O die dans van ons Suster ...)

Klink dit alles te ingewikkeld? Iemand op Facebook het ʼn veel eenvoudiger verklaring vir die herkoms van die woord “huwelik”. Wanneer ʼn pas getroude vrou vir die eerste keer in haar nuwe huis inloop, sê sy gewoonlik goed soos : “Huwelik ʼn nuwe yskas hê, huwelik ʼn bank hê, huwelik ʼn nuwe kamer laat aanbou ...”

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 01 Februarie 2019  verskyn.

Beeld logo

Lees 1079 tye Laaste modifikasie op Vrydag 01 Februarie 2019 07:03
Meer in hierdie kategorie: « Koffieklets Hempie-raak-my-nie »

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK