Die begin of die einde – waarheen met die werkwoord?

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 07 Februarie 2019
Gepubliseer in Nuus;

Het jy al hierdie reël vir ʼn kind geleer: As jy meer as een werkwoord in die sin het, skuif die werkwoord na die sinseinde? Indien wel, moet jy nou eers jou rooi pen neersit en hierdie blog lees.

Die reël soos dit hier bo staan, is een van daardie skoolreëls waarmee kinders "vinnig en maklik" deur ʼn eksamen gedrukgang word. Dit werk natuurlik vir die eksamen, maar dit werk ongelukkig nie vir die lewe nie, want ek kry kort-kort ʼn gefrustreerde navraag van ʼn leerder wat gerooipen is oor die posisie van werkwoorde in opstelsinne. Die arme kind voel in haar gebeente sy gebruik haar moedertaal reg, maar haar opstel verdrink in sintaktiese skandvlekke, aangebring deur ʼn onderwyser wat toegewyd in die eselsbrug glo. En dit raak dan my werk om te troos en te bevestig haar taalaanvoeling is darem nie so sleg nie en dat die eselsbrug nie die ganse taal is nie. Want sien, dis die waarheid, maar dis net die helfte van die waarheid. En sonder die volle waarheid word goeie taalgebruikers van die wal in die sloot gehelp.

 

So werk die reëls:

 

In Afrikaanse hoofsinne met gewone sinsvolgorde, is die tweede sinsposisie vir die werkwoord gereserveer. (Vir diegene wat iewers taalkunde geloop het: SVO-volgorde.) Dit beteken ons maak hoofsinne wat so lyk:

  • Die leerders skryf eksamen.
  • Die onderwysers merk opstelle.
  • Die ouers besoek die skool.
  • Die skoolhoof kners op sy tande.

 

As daar medewerkwoorde saam met die hoofwerkwoord in die hoofsin voorkom, skuif die hoofwerkwoord na die sinseinde:

  • Die leerders het eksamen geskryf.
  • Die onderwysers gaan opstelle merk.
  • Die ouers wil die skool besoek.
  • Die skoolhoof sit op sy tande en kners.

 

In bysinne skuif die hoofwerkwoord (en al die medewerkwoorde) na die sinseinde:

  • ... dat die leerders eksamen skryf.
  • ... dat die onderwysers opstelle merk.
  • ... dat die ouers die skool wil besoek.
  • ... dat die skoolhoof op sy tande sit en kners.

 

Tot nog toe werk ons skoolreël piekfyn. Die "probleem" duik op by komplekse sinne. Want nou is daar by verstek meer as een hoofwerkwoord in die sin, en dit beteken jy gaan met ʼn konstruksie sit waar daar ʼn klomp hoofwerkwoorde soos ʼn sosatie aan die einde van die sin ingeryg word.

 

By neweskikkende hoofsinne is dit nie ʼn probleem nie, want die hoofwerkwoorde skuif nie anders as wat dit sou skuif as die twee sinne apart gebly het nie. Die voegwoord kom net by:

  • Die leerders skryf eksamen, en die onderwysers merk opstelle.
  • Die ouers wil die skool besoek, maar die skoolhoof sit op sy tande en kners.

 

Dis wanneer daar hoofsinne en bysinne in die komplekse sin is dat die werkwoord ʼn klits word wat nie sy sit wil kry nie. Want ʼn komplekse sin kan so gemaak word dat ʼn mens nie weet waar die sogenaamde sinseinde is waar die werkwoord moet land nie – is dit nou die einde van die hoofsin of die einde van die bysin waarvan ons praat? Kom ek illustreer dit met ʼn voorbeeld.

 

Gestel ons het ʼn hoofsin

  • Die onderwysers het die opstelle gemerk

en ʼn bysin

  • wat die leerders in die eksamen geskryf het.

 

As ons hierdie twee sinne kombineer en ons pas daardie hoofwerkwoord-aan-die-sinseinde-reël nougeset toe, lyk ons komplekse sin so:

  • Die onderwysers het die opstelle wat die leerders in die eksamen geskryf het, gemerk.

 

Dit is daardie opeenhoping van werkwoorde aan die sinseinde wat die meeste gebruikers pla. Want hierdie sin is nog verteerbaar, maar ʼn mens kry met dié benadering naderhand monsters soos die volgende:

  • Manchester United sukkel steeds om die vorm, waarvoor die formidabele Sir Alex se span wat feitlik elke jaar in die Kampioeneliga se eindrondte gespeel het, bekend was, te herwin.

 

As jy hoegenaamd ooit met skryfwerk te doen het, sal jy weet: ʼn Skrywer is altyd heel eerste in diens van die leser. Enige skrywer se oogmerk is om die inhoud van die boodskap so doeltreffend moontlik aan die leser oor te dra. Sinne soos die laaste voorbeeld is nie doeltreffende kommunikasie nie, maak nou nie saak hoe "taalkundig korrek" dit is nie.

 

Die bron wat jy kan aanhaal om jou uit hierdie woordwip te red, is Norme vir Afrikaans van WAM Carstens (2011). Op pp 52-53 bespeek hy hierdie dilemma uitvoerig en sê hy uitdruklik:

Dit gaan hier in wese om gevalle wat in stryd is met die natuurlike uitdrukkingswyse van die taal. Die probleem kan grootliks oorbrug word deur die werkwoord – in veral langerige sinne – meer na vore te plaas. Dit sal (i) beter kommunikasie meebring, terwyl (ii) die taalstruktuur ook natuurliker daar sal uitsien.

 

In die geval van ons monstersin, kan ons dit so oorskryf:

  • Manchester United sukkel steeds om die vorm te herwin, waarvoor die formidabele Sir Alex se span bekend was wat feitlik elke jaar in die Kampioeneliga se eindrondte gespeel het.

 

Let mooi op: Geen taalbeginsel word hier oortree nie. Die werkwoorde staan steeds aan die sinseinde, maar hulle staan aan die sinseinde van die onderskeie hoof- en bysinne, nie noodwendig aan die sinseinde van die komplekse sin nie.

 

Is dit dan nou verkeerd om ʼn sin te skryf soos die volgende?

  • Die onderwysers het die opstelle wat die leerders in die eksamen geskryf het, gemerk.

 

Glad nie. Maar dis nie verkeerd om dit so te skryf nie:

  • Die onderwysers het die opstelle gemerk wat die leerders in die eksamen geskryf het.

 

Waarvoor ek hier skerm, is ʼn klakkelose vasklou aan ʼn skoolreël ten koste van taalvaardige kinders wat vlot skryf, reg skryf, stilisties gemaklik skryf, en dan in ʼn rooi see van skande moet verdrink. Moenie regte taal verkeerd merk nie. Moenie vaardige kinders se vlerke knip nie. Ons plig as opvoeders is per slot van rekening nie net om die traes en die treuriges deur die graad te sleep nie, maar ook die uitblinkers aan te spoor om ʼn nuwe geslag skrywers, digters, liedjieskrywers, navorsers en joernaliste te word wat glo dat dit steeds vir hulle moontlik is om skitterwerk in hulle moedertaal te doen.

 

VivA-groete

 

Sophia

Lees 1456 tye Laaste modifikasie op Donderdag 07 Februarie 2019 12:15

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK