Hempie-raak-my-nie

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 08 Februarie 2019
Gepubliseer in VivA;

bokbekGedurig is iemand in ’n omgekrapte bui. So voel dit deesdae. Nou ja, rede is daar seker genoeg. En woorde ook, te oordeel na die WAT se versameling. Van toeka op ons agterpote kry Afrikaanses skynbaar gereeld die die ritteltit(s) en papelellekoors; die aap-, apie-japie-, bobbejaan-, galop- en blouwildeboepensstuipe.

Vir omtrent elke soort woedebui is daar in die WAT ’n beskrywing: bedodderd, beduiweld, befoeterd, beklits. Trap in jou spoor; die baas is vanoggend weer beskuins. Watter by sou hom gesteek het? Waarom so brommerig; beghaits, bekaaits, begieks, bekieks? Vir wie is hy boos, dié brompot? Jy kan ’n aartappel in hom gaarmaak, ’n eier in hom kook.

In Heidelberg in die Wes-Kaap heet ’n kwaai, sterk vrou Klara Bedonnerd. Iemand met ’n lang lip, omdat hy kwaad is, is bokbek. Bokbek is die bliksem in; briesend, boos.

Soms vóél ’n mens soos doringdraad, ja. As jou draad die dag kort is, is jy kort van draad. Pasop dat jy nie dan iemand anders se draadwerk opwen nie, want dan ry die duiwel hom – en vir jou – bloots. 

Wie uitermate kwaad is, is dik die duiwel, draak, joos, josie, of sommer net de moer in. (Ja, emosie laat ons teruggryp na die ou Nederlandse lidwoord.) Figuurlik verwys dié moer na die afsaksel in ’n vloeistof, soos die moer in ’n asyn- of wynbottel, of koffiemoer. Vandaar ook die eufemistiese plaasvervanger “in die koffiesak klim”, uit Stellenbosch.

Van ’n omgekrapte word gesê haar moer is suur. Maak iemand jou die moer in, raak jou moer dik. Dan is jy moerig. So is dit. Ongelukkig, net, is party mense skynbaar heeltyd omgemoer: ontevrede, bytend, skerp, bitsig; met ’n voorkeur vir gepeperde uitdrukkings, gekrui- en gepeperde taal. Dié swartgalliges gaan kort-kort gal af. Die ou mense, wat opvlieëndheid aan die bitter, geelbruin vloeistof van die lewer gewyt het, sou gesê het hulle gal en bloed is deurmekaar: Daar het ’n spinnekop oor haar gal geloop. Sy gal stoot op, loop oor. Dit word ’n onplesierige gal(uit)braak. Oor alles en almal word gal gebraak. Sies.

“Ek het byna my happie verloor”, teken die WAT in Oudtshoorn op. “Koerang” in Vanrhynsdorp. Wie koerang voel, ook katjoerang, is ’n knorpot; gooi knopbek; is knorkwaad, kookwater; het die kriewelkrappers, of kriebelkrappers; ontstel hom oor elke bakatel. Elke klein dingetjie gee haar die piep of olel. En ek kan oor háár gesanik gerus die olel kry!

Kortgebakerdes, koppiges, nukkeriges is mensmoeilik; moeilik om mee oor die weg te kom; omgesukkel, omgekrap, omgeëllie, opstroppelis, opstandig. Patterjots, sou die ou mense ook gesê het; die herrie in; die herriederrie. Iemand trek hardekaiings; sy kam raak rooi; in die Kaap in werk haar kerrie. Sy is kittelorig; dungenerf. En daardeur laat hulle ander klippe kou en op húlle tande kners.

’n Duifie sonder gal, wat nooit kwaad word nie – omdat volgens ’n ou volksgeloof die duif glo geen gal sou hê nie? Nee, dit hoef niemand te wees nie. Maar gramstoriges wat vir alles grootoë maak; kort-kort hul hare opruk; vir elke nietige ding die hamer, harnas, heks en hoenders inraak; heeltyd op hul perdjies pruttel; dreig om oor te kook? Sulke pruttelpotte, pruttelkouse, se hempies is dalk net te kort.

“Ag, kyk, so ’n kruidjie-roer-my-nie, so ’n ou hempiegeraak, hempie-raak-my-nie, hempie-raak-my-gatjie-nie.”

“Vat jy aan dié geitjie val die stertjie af.”

In Beeld se rubriek “Woordwisseling” van 8 Februarie 2019, en op Netwerk24, kan jy ’n verkorte weergawe van hierdie blog lees.

Beeld logo
 

Lees 1333 tye Laaste modifikasie op Vrydag 08 Februarie 2019 09:13

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Adriaan Roux Saterdag 09 Februarie 2019 09:00 geplaas deur Adriaan Roux

    Goedgedoen en fyn aanmekaargesit sodat daar lekker humor deurslaan.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK