“Ken jy die see, Meneer?”

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 22 Februarie 2019
Gepubliseer in VivA;

skuit“Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?” Van die vervlietende wêreld van Uys Krige se vissers en Afrikaans as visserstaal bied die WAT kosbare glimpe:

Van skuite en bakkies – klein visserskuitjies wat onder meer gebruik word om van groot visskuite na die land te roei – word die afskortings binne-in die skuit “laaitjies” genoem. Elke laaitjie het sy eie naam. Die laaitjie se naam is ook die naam van die bemanningslid wat daar op die “dof” (die dwarsbank, roeibank) sit, sy vangs in sy laaitjie hou en die “rieme” (die skuit se roeispane) help werk.

Voor sit die “bootsman” (of “boosman”), dan die “ma(a)sstrop” of “ma(a)sdop”, waar die skuit se mas geleë is. In die middel is die “middelriem”. Die “middelriem”, wat gewoonlik aan die regterkant sit, sorg vir die ballas – die stabiliteit van die skuit – en vir die roeiers se vars water. Die diepste deel van die skuit is die “oosgat”. Die oosgat het die swaarste werk; hy het ’n emmer waarmee hy water uit die skuit moet skep. Agter hom sit die “agterriem”, dan die “skipper” by die stuur.

In die “dolboord”, ook die “ghonnel” of “ghonnelplank” genoem (die borand van die oop boot), is die “dofte” (halfronde uithollings of kepe, of houtblokkies) en die “dolstroppe” of “dolpenne” (ysterpenne soos stemvurke of met ’n oog daaraan) waarin of waarop die spane – die “rieme” – werk, wanneer die manne roei.

Die deksel of valdeur oor die ruim van die skuit is die “ketjie” (ook “kêtjie” gespel).

Wanneer die vissers vir die vangs gereedmaak, “sem” hulle hul (sleep)nette (“seëns”) “in” deur aan die “sem” en “bosem”, onderskeidelik die onderste en boonste deel van die net, stukkies lood en stukkies kurk te heg. Die lood sink terwyl die (kurk)proppe aan die kurklyn soos ’n string swart krale oor die blink water span.

’n Groot net waarmee vis uitgetrek word, word ’n “blaar” genoem. “Die vissers gaan uit in die bakkie en aan die fosfor kan jy duidelik sien hoe die vis hardloop; dan bring hulle die blaar om die skool en trek die punte na mekaar toe.”

In die oop see word dikwels ’n “beursnet” gebruik, ’n groot net of seën wat van onder af toegetrek word deur die twee verste punte bymekaar te bring. Die sakvormige gedeelte in die middel, waarin die vis versamel word, word die “kuil” genoem.

Die woorde “mas” en “maas” het elk twee betekenisse. Dit is visserstaal vir die “mas” van ’n skuit, die paal vir die takelwerk en seile, maar dit verwys ook na enigeen van die reëlmatige openinge in ’n net. “Vir harders het jy ’n net met kleiner massies nodig.” As ’n mas nie groot genoeg is sodat ’n vis kan deurgaan nie, steek die vis dikwels halflyf daarin vas. Wanneer vis so kop in die maste of mase van ’n net bly vassit, “mas” hulle. “Party nagte mas die klein ansjovis so erg dat die bote hulle nette moet opdomkrag en fabrieke toe moet gaan om dit skoon te maak sonder dat enige vangs gemaak is,” haal die WAT uit Die Burger van 21 Mei 1963 aan. Nette met kleiner maste, wat ook die klein vissies vasvang, is verbode.

Snoek daarenteen is eens met “angels” gevang, tot ses snoekhoeke aanmekaargebind: As die angel opgeruk word, word maklik drie, soms meer visse deur die maag, kieue of bek gevang. Nou is dit verbode. Só word te veel visse gekwes. Agter die skuit word ’n werklyn met aas – “dollies”, “klossies” of “velletjies” – vinnig deur die water getrek; klosvormige stukkies kunsaas of stukkies vis- of haaivel. Die snoek gryp na die klossies en sluk dit in saam met die hoek. Om snoek te lok, word ook “bandjies” gebruik, rooi en blou, geel en groen vlegseltjies wol. Twee visse wat gelyktydig aan ’n enkele lyn met meer as een hoek gevang word, is ’n “koppelos”.

 

 

As die vissers op die see uitgaan, “loop” hulle.

Soms hoef die skuit net “voor die deur te parra” (stil naby die kus te lê en wag). “Parra!” is ook ’n bevel vir die roeiers om stadiger te roei, om op te hou roei.

Soms is die see “dood”, of weens terugstroming van die water “droëbek” – by George en Mosselbaai ’n volksetimologiese vorm van die Engelse “draw back”. Dan byt die vis nie. Die teenoorgestelde van ’n “droëbeksee” is ’n “dol spring” (’n buitengewoon hoë springgety). Veral na die “donkermaanspring” sien die vissers uit (springgety wanneer dit donkermaan is).

Maar die weer is onvoorspelbaar.

As daar ’n “joppelwind” waai, is daar “joppels” (ook “jobbels”), klein brandertjies, skuimbranders, op die water; ’n sterk deining. Die “joppelsee” van “joppelweer” heet ook ’n “tjoppelsee”. Waar sterk wind, of ’n ander skuit, die joppels teen mekaar druk, onstaan “kaplanke” – “kapwater”, “woelige water”, “kapperige water”. Dan is die see “kaplank”, “ry” die skuit op en af, “kaplank” dit. Vissers hou nie van ’n “kaplanksee” nie (ook “kaplangsee” genoem), opgeteken aan die Weskus.

As die suidoostewind waai en daar nie wolke op die berge is nie, word in Gordonsbaai gesê “die wind waai kaalkop”. Die “kaalkopsuidoos” heet ook die “blinde suidoos”. ’n Koue (noorde)wind(jie) is ’n “kenter(wind)”, opgeteken by Piketberg en Stellenbosch. As die wind “op ’n kentertjie waai”, waai dit net liggies, maar “kenterweer” is slegte weer, onegalige weersomstandighede met die moontlikheid van storms, opgeteken by Velddrif, Aurora, Elandsbaai. ’n Sterk wind oor die see laat ’n massa klein golfies – “kappers”, “kappertjies” – ontstaan. As die wind sterk waai, raak die see kwaad. ’n Onstuimige, gevaarlike see is ’n “kwaai see”. “Kwaaiwater” hou die vissers soms dae op land. In so ’n “kwaaite” kan ’n man nie “see vat” nie.

As die wind bedaar, “skraal dit in”. Maar die vis kan ook “inskraal”. As die bemanning hulle eerste vangs gemaak het, is hulle “los”, maar soms loop die vis yl.

As die vissers ongelukkig is by die vangs, is hulle “laitjûr”, of “sieal” (uit Maleis “sijal”). “Daardie manne was vandag laitjûr, hulle het niks gevang nie” (opgeteken aan die Weskus). Met die implikasie dat dié toestand dalk aan die werking van die een of ander bose mag te wyte kan wees; dan vang hulle “klip-in-die-pot”, moet die mense by die huis maar “klipsop eet”. Soms moet die skuite “(d)jalamallang” (heelnag op die see bly). Vis wat op so ’n deurnagtog gevang word, is “(d)jalamallang se vis”.

’n “Ontong”, die visserswoord vir ’n inkvis, is dan dalk net die ding om dié onheil te besweer. Van die Maleise woord “untang”. Iets wat “ontong” is, bring op ’n onverklaarbare, geheimsinnige manier voorspoed, so word daar gesê. Vir die vissers is ’n inkvis ’n gelukbringer.

As (’n skool) visse van ’n dieper na ’n vlakker posisie in die see beweeg, “rys” die vis. “Daar in die diep kom hy aan!” As die vis tussen die oppervlak en die bodem vlak onder die skuit verbybeweeg, “loop hulle halfwater”. “Ons het die doppies vandag halfwater gevang,” teken die WAT in die Strand op. Soms is daar ’n “kol”, ’n onderskeibare plek in die see wat vanweë die aanwesigheid van vis blinkerig of skadurig vertoon. “Fijado!” word uitgeroep as die blink lywe in die net vasgekeer word, as die vis “gemaas het”.

Die swaar gelaaide skuit “loop diep”. Dan word daar “ingeriem”, land of hawe toe geroei. “Die motor het gebreek en hulle moes inriem” (ogeteken in die Strand). As ’n skuit aan wal gebring word, word dit “gelans” (by Stilbaai en Jeffreysbaai). Dan krioel die kaai van “langane” (of “langanas”), vissmouse, vishandelaars, wat dikwels die hele vangs net daar van die visser koop.

visSoms is daar “boeties”, by Gansbaai die naam vir ’n steenbras.

’n “Pil” is ’n silwervis van 23 cm of kleiner, wat nog nie sy wettig vangbare lengte bereik het nie.

In die Kaap in heet groter silwervissies “doppies”, by Knysna langs “rooitjies”, by Port Elizabeth “karp” en van Oos-Londen af tot in KwaZulu-Natal word hulle “kapenaars” genoem.

’n Onvolgroeide silwervis, effens groter as ’n doppie, is ’n “oulyf” – doppies en oulywe maak glo lekker visfrikkadelle. (As kind het ek vir Alba Bouwer dus heeltemal verkeerd verstaan waar sy in Stories van Bergplaas skryf: “Dit ruik na twak en skaapvel en oulyf onder in die kis ...”!)

’n Groot, uitgegroeide silwervis is ’n “gelopene” (ook “lopende” genoem).

’n “Koptel” of “eentel” is ’n kabeljou wat groot genoeg is om afsonderlik verkoop te word; nie in ’n bos – in ’n “kwatjie” – saam met ander nie. By Mosselbaai word kabeljoue in drie klasse verdeel: die heel grotes heet “boerkabeljoue”; die middelslagkabeljoue word “kwaggas” genoem; en die heel kleintjies, wat in ’n bossies (in “kwatjies”) “ingesnoer”, saamgebind en saam verkoop word, hulle is “melkkabbeljoutjies”, vanweë hulle sappige vleis, of “kortholletjies”, volksetimologies van die Engelse “short haul”.

Van die vis word net daar skoongemaak. Op ’n “kaparrangblok” met ’n “kaparrangbyl” in mootjies gekap.

Aan die eienaar van die skuit moet elke gewone visser “bakspart”, kommissie, afgee. Terwyl, soos oral maar, die beste stuurlui aan wal staan en toekyk: die “duinhere”, wat heeldag op die duine rondstaan, en die “slapslingers” wat in die hawe rondhang.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 22 Februarie 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in  Beeld logo

Lees 2152 tye Laaste modifikasie op Vrydag 22 Februarie 2019 09:08

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK