Joodse Afrikaans

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 07 Maart 2019
Gepubliseer in Nuus;

Tale is almal gemoedelike diewe. Hulle is soos jou vriendelike buurman wat elke Saterdag jou grassnyer leen, tot julle naderhand albei vergeet het wie oorspronklik die grassnyer aangekoop het. Ná jare begin jy selfs jou buurman vra of jy asseblief jou eie grassnyer kan gebruik.

Net so leen tale oor en weer by mekaar, tot niemand naderhand meer weet watter taal oorspronklik met ʼn woord vorendag gekom het nie. Afrikaans se etimologie loop dikwels via Nederlands en Frans terug na Latyn, maar daar het ʼn paar bydraes gekom uit tale wat nie hierdie netjiese roete gevolg het nie. Ons het byvoorbeeld woorde uit Afrikatale geleen (soos foendi wat terugslaan op umfundisi, die Zoeloewoord vir ʼn onderwyser), ʼn hele klomp uit Oosterse tale (blatjang uit Maleis, soesji uit Japannees en lietsjie uit Kantonees), en dan ʼn paar uit die Nuwe Wêreld (avokado uit die Asteekse taal Nahuatl, parka uit Inuit, moose uit Oos-Abenaki en basketbal, wat ons van die taal kry wat deesdae in die VSA gepraat word en so hier en daar ooreenkomste met Engels toon).

Ek het onlangs in ʼn stuk navorsing te doen gekry met die verband tussen Afrikaans en sy Joodse sprekers. Die geskiedenis van die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika is fassinerend en kompleks. Dit blyk dat baie Jode via Engeland hierheen gekom het en dan eers verengels het. Maar ʼn groot deel van Suid-Afrika se Joodse gemeenskap is Litouse Jode wat destyds vir die pogroms en opkomende Nazisme gevlug het, en baie van hulle het in die Afrikaanse gemeenskap geassimileer geraak.

Uit die aard van die saak is die Joodse kultuur, gebruike, geloof en dieet vrugbare bronne vir leenwoorde. Sulke woorde sluit in:

  • Pesach (die Joodse Paasfees)
  • Purim (die fees waartydens Ester se ingryping in die lotgevalle van die Jode herdenk word)
  • matso (ongesuurde brood wat tydens Paasfees geëet word)
  • kosjer (volgens Joodse voorskrifte voorberei; en in die informele sin "aanvaarbaar" of "bo verdenking")
  • halleluja (wat beteken "loof die Here")
  • amen (wat beteken "dit staan vas")
  • sjalom (ʼn groet)
  • rabbi (ʼn Joodse geestelike)
  • seraf (ʼn engel met ʼn bepaalde rang)

Maar daar is ander woorde wat ons ook uit Hebreeus gekry het wat meer algemene gebruike het, bv.:

  • schwa (ʼn taalkundeterm waarmee ons na die neutrale vokaal verwys – soos die klank wat deur die e in verwys voorgestel word)
  • saffier (wat dalk moontlik nog verder terug te trek is na Sanskrit)
  • jubileum (van yobhel, wat "ram" beteken en na die ramshoring verwys het waarmee die vrystelling van die slawe elke 50 jaar gevier is)
  • deltoïed (die spier wat die skouergewrig bedek)
  • makaber (wat beteken "soos die dood"; die woord is streng gesproke nie van die Hebreeuse woord afgelei nie, maar verwys na die Makkabeërs, die leiers van ʼn Joodse opstand teen Hellenistiese Jode wat afvallig van die tradisies geraak het)

Maar die lekkerste en bruikbaarste woord in my versamelinkie Joodse Afrikaans is chutzpah. Dit is ʼn unieke woord met ʼn unieke betekenis, en so onvertaalbaar dat die Taalkommissie die woord vir opname in die 2017-AWS goedgekeur het. Pharos se tweetalige woordeboek vertaal dit as "koele/skaamtelose vermetelheid", maar die vertaling doen die woord onreg aan.

Ja, daar is ʼn element van skaamteloosheid en ja, ook so ʼn bietjie vermetelheid daarby ingemeng. Maar dit is meer dapper as vermetel; meer ongebreidel as skaamteloos. Dis die vermoë om te waag as niemand anders dink daar is iets te wen nie, om te vra vir ʼn ding waarop ʼn mens nie eintlik geregtig is nie, maar nietemin so graag wil hê dat ʼn mens in elk geval maar vra. Dis waagmoed wat bo redelikheid uitstyg, dis deursettingsvermoë wat aanhou lank nadat ʼn mens al moes tou opgegooi het.

En ja, as jy aan die ontvangkant van iemand anders se chutzpah is, kan dit sekerlik voel asof ʼn mens deur ʼn vermetelaar bedinges is. Maar dit is ook chutzpah wat grense skuif, wat poorte oopgooi, wat berge aandurf, wat brûe oor klowe bou – werklikes en die soort wat mense tussen hulle en ander mense maak – wat dans in ʼn stad wat deur oorlog verwoes is, wat skoonheid skep waar daar dood was.

As ʼn mens oud en sinies is, is dit maklik om te glo dat die Amerikaners reg is as hulle sê geld laat die wêreld draai. Maar aan die ander kant van hierdie sinisme is daar hierdie ding, wat die wêreld, teen alle hoop en verwagting in, laat verander. Die soort verandering wat ons wêreld nodig het, koop jy nie met geld nie, daarvoor het jy chutzpah nodig.

VivA-groete

Sophia

Lees 2316 tye Laaste modifikasie op Vrydag 08 Maart 2019 00:02

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK