Mens sonder taal soos slimfoon sonder apps

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 22 Maart 2019
Gepubliseer in VivA;

Sadilar IYIL2019Deur taal kommunikeer ons met die wêreld. Deur taal definieer ons identiteit. Deur taal druk ons geskiedenis en kultuur uit. Deur taal verdedig ons menseregte. Deur taal neem ons deel aan alle aspekte van die samelewing ... Deur taal bewaar mense die geskiedenis van hul gemeenskap, gebruike, tradisies, hul geheue, unieke denkwyses, betekenis en uitdrukking. Ons gebruik taal om ons toekoms te konstrueer. Vir die beskerming van menseregte, goeie bestuur, vrede, versoening en volhoubare ontwikkeling is taal deurslaggewend.

So word die Internasionale Jaar van Inheemse Tale (#IYIL2019) op die amptelike webblad van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) ingelei.

Hoe vier ons #IYIL2019 in Suid-Afrika? 

Kersopsteek by SADiLaR lyk vir my na ’n goeie begin.

SADiLaR is die Engelse afkorting wat ook in Afrikaans gebruik word vir die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (South African Centre for Digital Language Resources), ’n nasionale sentrum, gehuisves op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie ondersteun word as deel van ’n nuwe Suid-Afrikaanse Navorsingsinfrastruktuurroete (South African Research Infrastructure Roadmap, SARIR). SADiLaR, wat vanjaar in sy tweede ontwikkelingsjaar is, is die eerste spilpunt van sy soort in Afrika en bevorder bestaande bande met soortgelyke entiteite wêreldwyd, veral met die gemeenskaplike taalhulpbroninfrastruktuur CLARIN in Europa. Sy hoofdoelstelling is die byeenbring van taalhulpbronne en elektroniese hulpmiddels om Suid-Afrika se inheemse tale in die digitale era te ontwikkel.

As deel van Unesco se viering van dié Internasionale Jaar van Inheemse Tale het SADiLaR vanjaar aan elk van Suid-Afrika se amptelike tale ’n maand van 2019 toegeken. Vir elke taal word daar gedurende sy maand, by verskillende universiteite in Suid-Afrika, gesamentlike werkswinkels en kollokwiums georganiseer en idees uitgeruil om bewustheid van die taal, bestaande hulpbronne en die ontwikkeling van nuwes te verhoog.

In Februarie is Zoeloe gedenk. In Maart Suid-Sotho. Van Mei tot November kom Tswana, Tsonga, Noord-Sotho, Venda, Xhosa, Swazi en Ndebele aan die beurt. Desember sal aan Engels gewy word. Die A van April staan vir Afrikaans.

In April word Afrikaans as een van Suid-Afrika se amptelike tale gevier.

“Om bewusmaking te skep oor waar Afrikaans oral sy stempels afdruk en kán afdruk”, word op Woensdag 17 April in Potchefstroom ’n werkwinkel aangebied. Die tema: “Die ewewêrelde van Afrikaans”.

Deelnemers aan die program is Bennito Trollip, Afrikaansnavorser by SADiLaR; die digter-skrywer Charl-Pierre Naudé; dr. Quentin Williams van UWK se Departement Linguistiek; Karien Brits van die ATKV; prof. Ernst Kotzé, emeritus professor van die Nelson Mandela Universiteit; die Taalkommissievoorsitter, professor Gerhard van Huyssteen van die NWU; en Allison Geduld van die NWU se regsfakulteit.

Die gratis werkwinkel het plek vir 70 deelnemers. Registrasie is oop tot 5 April. Klik hier vir besonderhede.

Maar maak seker dat jy dié Internasionale Jaar van Inheemse Tale ook vier daar waar jy is.

Doen jou ding in en vir Afrikaans, as Afrikaans jou moedertaal is, maar stel jou in die ander maande ook oop vir die ander tale van jou streek. Hou taalpartytjies. Ruil stories uit.

Want sonder taal, skryf die taalkundige Marc van Oostendorp dié week in De Nederlandse Boekengids, is die mens soos ’n slimfoon sonder toepassings. 

Dit wat ’n mens op jou eentjie kan bedink, is min, sê Van Oostendorp. Daarom is dit gelukkig dat ons “draadloos” van ander allerlei idees kan “aflaai”. Idees wat ons tot nuwe idees verwerk en weer met ander deel. Die mens is ’n dier wat nie net die moontlikheid van self dink ontdek het nie, maar ook hoe om ander se breine te tap. Dié moontlikheid noem ons taal.

Met taal, skryf Van Oostendorp, skep ons ons wêreld. Ons sosiale lewe, ons fantasieë. Elke produk wat ons kan koop, het ons aan taal te danke. Sonder taal sou ons geen enkele ding kon benoem nie. Verhale, steeds al manier wat ons het om uit ons wêreld sin te maak, sou ons nie aan mekaar kon oorvertel nie. Daar is ook geen enkele rede om te vermoed, sê Van Oostendorp, dat taal ooit sal verdwyn of deur iets anders vervang sal word nie. Inteendeel. In ons ingewikkelde samelewing is taal vandag belangriker as ooit. Daar word meer gelees, geskryf, oor langer afstande geluister, gepraat. In ons komplekse samelewing met ál meer, ál beter kommunikasiemiddels bly die oudste tegnologie, die menslike taal, steeds die belangrikste.

Globalisering bring mee dat Engels ’n ál dominanter rol speel, want Engels skep vir ons die ruimte om dinge te doen wat ons nie in ons eie tale kan nie. In Engels kan jy met mense in China, in Skandinawië, in Japan oor hulle probleme praat. In Engels kan jy besoekers uit Suid-Amerika ontvang. Die misverstand wat uit die weg geruim moet word, sê Van Oostendorp, is dat mense ééntalige wesens is.

Uit die taalwetenskap is dit duidelik dat niemand ’n genie hoef te wees om meer as een taal te verstaan, meer as een taal te praat nie. Tale ontwikkel in kontak met mekaar. Nederlands het ontwikkel uit kontak met ander tale. Afrikaans het ’n soortgelyke pad geloop.

In ’n land waar meertaligheid die norm is, beweeg mense gemaklik in nasionale én internasionale kringe en word die idee dat die behoud van een taal verset verg teen ’n ander, onsinnig.

Laat ons in 2019 ons taleverskeidenheid vier en deur belangstelling in en betrokkenheid by mekaar self nuwe deure tot meertaligheid open.

’n Verkorte weergawe van hierdie artikel verskyn op 22 Maart 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in Beeld logo.

Lees 1532 tye Laaste modifikasie op Vrydag 22 Maart 2019 09:18

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK