As die skoen pas ...

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 05 April 2019
Gepubliseer in VivA;

skoeneEk wou my net uit die voete maak, toe beland ek tussen die skoene.

Dagskoene, aandskoene, skerppuntskoene, stompneusskoene, hoëhakskoene, plathakskoene, knypskoene, kraakskoene, om van al die stewels en sandale nie te praat nie. Wat nog van babers en doodskiste, douskeppers, florsies, kalkoesies, kaparrangs ...

Kyk, die WAT ken sy skoeisel.

 

’n Baber, ook ’n baberbekskoen, is ’n groot, plat, stukkende skoen wat ’n mens aan die vis laat dink.

’n Boerskoen is dienlik en sterk. Ruwe, harde skoene is doodtrappers. Groot skoene, doodskiste.

Douskeppers (opgeteken by Robertson) het omkrulpunte wat as ’t ware die dou opskep waar die draer deur die nat gras stap.

Florsies is gemaklik, soos pantoffels. Ook klapklappies, of klappertjies genoem.

Klompers, verwant aan die Nederlandse klompe, is sandale of blokskoene met sole van hout.

Muiltjies bedek die voorste deel van die voet en laat die hakskeen kaal.

Kaparrangs of kaparrings, verkleinwoord: kaparrinkies, is houtsandale van plankies met ’n tolletjie wat ’n mens tussen jou groot- en tweede toon vasknyp, soos in Java en vroeër ook in die Kaap gedra; of ’n plat leer- of rubbersandaal met twee gekruiste bandjies wat tussen jou tone pas; of ’n sandaal met dwarsbandjies waaronder ’n mens jou voet insteek. Soortgelyke sandale met bandjies oor die voet word ook dissipelsandale of mosesskoene genoem.

In KwaZulu-Natal word kaboelas met ’n riempie tussen die tone en ’n riempie om die hak uit rou beesvel gesny. Deesdae ook uit ou motorbande, nes rampatsjaans, of rampetjannas, of rampetsjanies ook, van die Sothowoord “ramphašane” vir ‘sandaal’. In die Gamtoosvallei word sulke skoene kalkoesies genoem.

’n Fransvelskoen is ’n skoen sonder naat. Dié word gemaak van die ongebreide, pas afgeslagte hakskeenvel van ’n bees, net daar om die voet toegewerk. By Middelburg in die Oos-Kaap heet sulke leerskoene glo skertsend “oorlebees”.

Penskoene is velskoene waarvan die sool met houtpennetjies aan die bodeel vaskom.

Mokassins, die tradisionele skoen van die oorspronklike bewoners van Amerika, bestaan volledig uit sagte leer.

Kamike, of kamiks, volgens die WAT, is robbevelstewels met die hare na binne, met daarbinne nog ’n harige stewel met gras tussen die lae om dit sag en warm te maak. Dié stewels word gedra deur die bewoners van die ysgebiede in Noord-Amerika en Groenland, die Innuïete. Hulle dra ook moekloeks, lang, sagte stewels van rendier-, kariboe-, beer- of robbevel.

’n Kaplaars is ’n kapstewel, ’n stewel met ’n kap of beenstuk wat tot onder of tot bokant die knie reik. Die beenstuk of kap bestaan gewoonlik uit ’n ander materiaal as die res van die stewel, dikwels met ’n leerband van ’n ligter kleur om die borand. Kapstewels word ook laarse genoem, soos dié van die reus wat vir Klein Duimpie in die sprokie met sy sewemyllaarse agternasit.

As ’n mens langs jou skoene loop, is hulle skeef getrap. ’n Skeef getrapte skoen is horrel geloop.

’n Laspos is soos ’n klippie in ’n mens se skoen, ’n duwweltjie, ’n dubbeltjie, ’n dubbeltjiedoring.

As die skoen druk, knyp of knel, is daar moeilikheid, dikwels van ’n geldelike aard.

Party dae beur ’n mens vooruit; op ander dae voel dit of jy lood in jou skoene het.

Soms word iemand iets in die skoene geskuif, word iemand onskuldig vir iets geblameer.

Soms probeer ’n mens jou in ’n ander se plek indink: As ek in haar skoene, in joune was ...

Soms word die rolle omgeruil en verskuif die voordeel na ’n voorheen benadeelde party. Dan is die skoen aan die ander voet.

Staan jou skoene vol en doen wat van jou verwag word. Maar beoordeel en interpreteer altyd ook self: As die skoen jou pas, trek die riempie vas. As die skoen jou knyp, trek hom uit.

So gaan dit tussen die skoen en die veter, elke dag ’n bietjie beter.

’n Verkorte weergawe van die hierdie artikel verskyn op 5 April 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in Beeld logo.

Lees 7941 tye Laaste modifikasie op Vrydag 05 April 2019 11:56

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK