11 stappe om ʼn woord te verstaan

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Donderdag 11 April 2019
Gepubliseer in VivA;

Taalgebruikers – en veral ook deelnemers aan debatskompetisies – trap dikwels my en my kollegas se e-poskosyne deur om te vra: “Hoe moet ek woord X interpreteer?” Juig al wat leef, want ons wêreld kan daarby baat as meer mense net ʼn bietjie woordnavorsing doen oor wat hulle eintlik besig is om te sê.

Maar so graag soos wat ons wil help, so ʼn onbegonne taak is dit om vir elke navraer ʼn omvattende en unieke antwoord te gee. Om taalgebruikers, leketaalkundiges en slaapkamerwoordeboekmakers te bemagtig om self hand aan die ploeg te slaan, het ek 11 stappe geïdentifiseer wat gebruik kan word in woordnavorsing. Ek verdeel die stappe in twee groepe: Die eerste klomp is vir 'n basissoektog; die laaste klomp is opsioneel en vir meer gevorderde soektogte.

(Een van die ATKV se debatsonderwerpe in 2019 is: “Suid-Afrika behoort sy kulturele erfenis te verwyder om nasiebou te bevorder.” Ek gebruik behoort in hierdie stelling om die stappe te illustreer.)

Die basiese stappe

  1. Gebruik jou gesonde verstand om na die woord in die konteks van die sin te kyk. Moenie dadelik induik en elke woord in ʼn woordeboek gaan opsoek nie, maar probeer liewer verstaan wat die spreker bedoel met die sin en die spesifieke woord. Ek het al na skooltoesprake geluister waar die spreker elke liewe woord in die onderwerp definieer. Is dit werklik nodig? Slegs as jy ʼn argument daarop wil bou.
    • In ʼn stelling soos hier bo sou ek dalk net met kulturele erfenis, verwyder en miskien nasiebou gebodder het. Suid-Afrika, behoort en bevorder is nou nie juis kontensieus nie – behalwe as jy dan nou uitvangplekkies sóék, wat natuurlik nie die doel van ope gesprekvoering en ʼn beter verstaan van die wêreld is nie.
    • In hierdie geval word die woord behoort myns insiens gebruik om te sê dat ons eintlik liewer van ons monumente, standbeelde en ander erfgoed ontslae moet raak ter wille van ʼn gevoel van eensgesindheid onder Suid-Afrikaners. Dis eintlik nie veel ingewikkelder as dit nie ...
  1. Gebruik ʼn verskeidenheid resente, gesaghebbende verklarende woordeboeke. Daar is nie net een woordeboek in Afrikaans wat “reg” is nie. Woordeboeke verskil omdat hulle samestellers verskil, of omdat hulle op verskillende tye saamgestel is, of omdat hulle verskillende doelwitte het. Probeer dus die gemene grond tussen betroubare, bekende woordeboeke te vind. En kyk altyd eerste in die mees resente woordeboeke, wat dikwels intyds aanlyn bygewerk word.
    • Ek het in drie bekende woordeboeke gaan kyk:
      1. HAT6 (2015) definieer behoort as “verplig wees; na reg moet”.
      2. WAT (die deel wat reeds in 1951 uitgegee is) sê behoor (sonder die slot-t) beteken “verskuldig (verplig) wees; moet”, maar ook “nodig wees, vereis word”.
      3. VAW (2010) sê “nodig wees; moet”.
    • Ons sien dus uit die definisies van hierdie woordeboeke iets van ʼn verpligting of vereiste, van dit wat jy móét doen. Maar moenie vergeet van daardie “na reg moet” in HAT nie – ek kom flussies daarop terug.
  1. Vertaal in ʼn ander taal en kyk dan in daardie taal se gesaghebbende verklarende woordeboeke. Een van die vele voordele van veeltaligheid is dat jy begrippe in verskillende tale kan begryp. Op dié manier ontdek ʼn mens dalk subtiele betekenisnuanses.
    • In die debatstelling kan ons behoort in Engels vertaal met has to, of is supposed to, of ought to. As ons nou hierdie drie terug vertaal na Afrikaans, dan sou ons kon sê has to word moet; is supposed to word is veronderstel om te; en ought to word behoort te.
    • Nou kan jy in betroubare Engelse woordeboeke gaan kyk wat ought to beteken. In die American Heritage Dictionary (2016) sien ek dadelik dat daar hier sprake van ʼn tipe skaal is: vanaf “obligation or duty” (jy móét dit doen) tot “advisability or prudence” (ek raai jou aan om dit te doen) tot “desirability” (dit sal gaaf wees as jy dit doen, maar jy hoef nie). ʼn Mens kry dus in die Engelse woordeboek nog addisionele inligting waarop ʼn mens jou uiteindelike interpretasie kan baseer.
  1. Ondersoek die woord se familie. Kyk na sinonieme, antonieme, hiperoniem, hiponieme, en paronieme. Dit help veral om te kyk waarmee jy die woord kan vervang om presies dieselfde betekenis te behou. Word jy iets daaruit wys? ʼn Tesourus (soos die ene wat gratis ingesluit is in VivA se versameling woordeboeke) is veral nuttig in die verband.
    • Ek maak byvoorbeeld die afleiding dat behoort in verskillende kontekste vervang kan word met moet, beter (soos in “Suid-Afrika beter sy kulturele erfenis te verwyder, anders gaan X, Y of Z gebeur.”), of mag. Dié ondersoek lewer dus ʼn nuwe dimensie op, naamlik dat daar aan behoort ook gevolge gekoppel kan wees: As jy nie doen wat jy behoort te doen nie, gaan iets slegs gebeur.
    • Let ook op dat hierdie drie alternatiewe woorde eintlik dieselfde skaal uitdruk as wat ons in Engels gesien het: moet = “obligation or duty” > behoort/beter = “advisability or prudence” > mag = “desirability”.
  1. Reflekteer en interpreteer. As jy klaar al die navorsing gedoen het, is dit tyd om skoene uit te skop en ʼn bietjie oor alles te sit en dink. Gaan stort of swem, speel met die honde, gaan stap. Laat al die inligting in die biljoene sinapse van jou brein gis en verryp. Gaan slaap selfs. En as jy môreoggend opstaan, is jy gereed om al die inligting te integreer en daaruit jou eie, unieke interpretasie en insig te formuleer.

Ek was op hierdie stadium van die ondersoek nog nie tevrede met my insigte nie - dis dalk maar net omdat ek sulke ondersoeke grensloos geniet. Ek het daarom ook die addisionele stappe gevolg. 

Die addisionele stappe

Dis nie noodsaaklik om jou perd op te saal om hierdie stappe ook te volg nie - hulle is eintlik daar vir meer diepgaande ontledings. Al hierdie addisionele stappe is ook nie noodsaaklik nie en hoef ook nie in hierdie volgorde uitgevoer te word nie. Jy beleef dalk 'n Eureka!-oomblik sodra jy na die woord se herkoms gekyk het, en klaar is Kees. Vertrou jou eie oordeel om te weet wanneer jy waardevolle insigte gekry het.  

  1. [GEVORDERD:] Kyk na die woord se herkoms. Soms raak ʼn mens allerhande dinge wys uit ʼn woord se herkoms. Kyk in iets soos die Etimologiewoordeboek van Afrikaans, op etymologiebank.nl (Nederlands), etymonline.com (Engels) of Wiktionary of daar iets is wat jou op interessante en nuttige spore kan plaas.
    • Ons sien byvoorbeeld dat hoor die stam van behoort is en dus verbandhou met luister; as jy iets behoort te doen, dan moet jy gehoorsaam wees aan iets of iemand – jy moet dus luister en eintlik doen wat hulle sê.
  1. [GEVORDERD:] Soek in ander taalgidse en -bronne. Woordeboeke is lank nie die enigste hulp wat taalgebruikers kan raadpleeg nie. Ons beskik in Afrikaans oor ʼn ryke verskeidenheid (dan wel verouderde) taalgidse, soos HAT Taal- en Feitegids, Skryf Afrikaans van A tot Z, Norme vir Afrikaans, Afrikaans op sy beste: hulp met moderne taalkwessies, en so meer. Waar toepaslik kan ʼn mens selfs na verhandelings, proefskrifte en akademiese artikels kyk; hulle is dikwels meer toeganklik as wat ʼn mens dalk verwag. Gebruik o.a. die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (beskikbaar via VivA se webblad) om soektogte te doen.
    • Oor behoort kon ek nie iets interessants of sinnigs in van die taalgidse kry nie, ook nie in Afrikaanse navorsing nie. Ek het wel ontsettend interessante Engelse taalkundeartikels gelees wat my gehelp het om behoort beter te verstaan, soos hierdie ene en hierdie ene. Maar goed, dis nie ligte musiek nie; sorg maar dat jy jou spirulina gedrink het voor jy die bul by die horings pak.
  1. [GEVORDERD:] Kom meer te wete oor die woord se woordsoort. ʼn Mens het dikwels ʼn bietjie meer taalkundige kennis nodig om ʼn woord se regte-egte betekenis te kan uitpluis. Dis nie altyd maklik (maar nie onmoontlik nie!) vir iemand wat nie taalkunde studeer het nie.
    • Uit die woordeboeke wat ek tot en met hierdie stap geraadpleeg het, leer ek dat behoort/ought ʼn sogenaamde deontiese modale hulpwerkwoord is. #eeeeeeek Voor jy jou doodskrik, onthou dat Wikipedia dikwels jou vriend is. As jy <deontic modal auxiliary verb> google, beland jy vinnig-vinnig op die Engelse Wikipediablad oor Modal verb. (Daar is ongelukkig nog nie ʼn Afrikaanse bladsy nie, maar jy kan ook gaan lees wat staan op die Nederlandse blad!) Van hier af klik jy deur na Deontic modality, en daar kry jy nou eintlik al die inligting wat jy benodig.
    • Hierdie soort hulpwerkwoorde druk die verpligting wat ʼn spreker op jou plaas op ʼn skaal uit.
      • Aan die een kant van die skaal is jy absoluut verplig om iets te doen, jy móét dit doen (dink aan wette).
      • Aan die ander kant van die skaal word ʼn voorstel of moontlikheid aan die hand gedoen, jy mag of kan dit doen, maar die keuse is joune (dink aan voorstelle of toestemming).
      • Iewers tussen dié twee uiterstes lê behoort en sy maatjie beter (soos in: “Jy beter vinnig maak, of anders gaan ek vir jou wegry!”). Jy word aangeraai met behoort en gewaarsku met beter.
    • Saam met behoort hoort ʼn hoofwerkwoord: ʼn voorgestelde aksie wat jy moet uitvoer om by ʼn plek uit te kom wat aan die verwagtinge van die spreker voldoen. Die wêreld (Suid-Afrika, in hierdie geval) is in ʼn toestand wat nie aan ʼn bepaalde standaard of ideaal voldoen nie (d.i. waar daar ʼn eensgesinde gevoel onder Suid-Afrikaners heers). Die voorgestelde aksie? Raak ontslae van monumente, standbeelde en ander erfgoed.
    • ʼn Woord soos behoort sê dus eintlik hoe die wêreld na regte (onthou HAT6 se definisie!) moet wees. Wat vir die een persoon reg is, is natuurlik nie vir die ander persoon reg nie – en daaroor kan dan flink gedebatteer word.
  1. [GEVORDERD:] Kyk hoe ander (betroubare) mense die woord gebruik. Nog ʼn manier om afleidings oor ʼn woord en sy betekenis te maak, is om te kyk hoe skrywers, joernaliste en ander teksplegers die woord gebruik. Ook dié is ʼn taak wat ʼn mens met omsigtigheid moet aanpak. Meestal wil ʼn mens kyk wat in geredigeerde, gepubliseerde bronne (soos in koerante, tydskrifte en boeke) staan, want dan weet jy ten minste dat iemand al gedink het oor hoe die woord effektief gebruik kan word. (As ons taalkundenavorsing doen wil ons dikwels juis kyk hoe Jan en San Allepersoon die woord op sosiale media gebruik – maar dis ʼn onderwerp vir ʼn ander dag.). Die eenvoudigste manier om dit te doen, is maar om die woord te google. Soek dan in die resultate na bekende skrywers of uitgewers om te sien hoe hulle die woord aanwend.
    • My gegooglery met behoort het in hierdie geval niks interessants opgelewer nie. Behalwe die lirieke van Francois van Coke se Behoort aan niemand nie, maar dit het niks met ons behoort uit te waai nie.
  2. [GEVORDERD:] Omskryf self die woord. As stap 7 hier bo dalk ʼn bietjie moeilik is, kan jy eintlik self daarby uitkom deur die woord se betekenis of implikasie self in eenvoudige stellings op te breek. Dis maar eintlik in wese wat woordeboekmakers en taalkundiges ook doen as hulle die betekenisse van woorde uitmekaar moet haal. Ek ontrafel “behoort” soos volg:
    • Ek is tans in ʼn bepaalde toestand (staat A).
    • Daar is ʼn ander toestand wat dikwels/meestal deur ander mense gesien word as die ideale toestand (staat B, d.i. ʼn plek waar daar byvoorbeeld ʼn eenheidsgees in die land heers).
    • Iemand kan:

my verplig om van staat A na staat B te beweeg; dan is ek onder ʼn verpligting, ek moet dit doen.

OF

my waarsku om van staat A na staat B te beweeg; dan beter ek dit doen, anders gaan daar nare gevolge wees.

OF

my aanraai om van staat A na staat B te beweeg; dan is ek veronderstel om dit te doen, ek behoort dit doen, dit is die regte ding om te doen.

OF

voorstel dat ek van staat A na staat B beweeg; dit is gewoon ʼn moontlikheid om dit te doen, ek kan of mag dit doen, maar die keuse is myne.

    • Om van staat A na staat B te beweeg is daar voorwaardes of ʼn voorgestelde aksie wat ons by die gewenste toestand kan uitbring (byvoorbeeld om kulturele erfgoed te verwyder, wat dit ook mag beteken).

As jy self ʼn bietjie oor ʼn woord dink en hoe jy en jou vriende die woord gebruik, kan ʼn mens sommer self al baie insigte kry.

  1. [GEVORDERD:] Teken ʼn prentjie. Party mense (en ek is een van hulle) dink makliker en beter as hulle prentjies teken. ʼn Mens kan dit op gesofistikeerde (taalkundige) maniere doen, maar ʼn eenvoudige voorstelling is dikwels meer as genoeg om helderheid te kry.Illustrasie van die Katalaanse woord vir “moet”
    • Kyk sommer net ter illustrasie na die prentjie van die Katalaanse konstruksie <deure + INF> (wat ‘moet’ beteken); die prentjie is oorgeneem uit ʼn artikel van Andreu Sentí i Pons. Hoewel daar baie detail in die prentjie is waarop ons nie nou hoef in te gaan nie, sien ʼn mens sommer met een oogopslag dat die “krag” wat verandering veroorsaak (die IMPOSER) nie net ʼn persoon of instelling hoef te wees nie, maar ook byvoorbeeld sosiale norme, verwagtinge, ensovoorts kan wees. Die een wat die verandering teweeg moet bring (die DOER) moet doelgerigte aksie (purposeful action) onderneem. Van hierdie beginsels geld eintlik net so ook vir behoort in Afrikaans.
  1. Reflekteer en interpreteer (weer). Soos aan die einde van die basiese stappe, is dit ook nodig dat jy 'n bietjie moet ontspan om al die inligting eers te laat insink. Gun jou kop die kans tot rypwording.
    • Ek interpreteer behoort as dat iets of iemand aangeraai of geadviseer word om ʼn doelgerigte aksie uit te voer wat na regte aan bepaalde sosiale norme, verwagtinge, ensovoorts voldoen.

Tot slot ... Waak daarteen om in onnodige muggiesiftery te verval. Die boodskap is dikwels veel en veel belangriker as die kolletjie op die i.

Lees 1686 tye Laaste modifikasie op Vrydag 12 April 2019 06:40

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK