Veels geluk, WAT, met die verskyning van Deel 15!

Geplaas deur Jana Luther Donderdag 18 April 2019
Gepubliseer in VivA;

WATredOp Woensdagmiddag 17 April 2019, in die Sasol-kunsmuseum op Stellenbosch, is Deel 15 van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) bekend gestel, die tweede deel van die letter S (wat uiteindelik uit drie dele sal bestaan), van skool tot by Sri Lanka (724 bladsye, plus 22 inleidende bladsye).

S tot by skooi het op 29 Oktober 2013 verskyn. Aan die nuutste deel van die WAT het die sewe redaksielede en hul medewerkers dus vyf jaar gewerk.

Klink vyf jaar lank? Onthou dan ’n bietjie dat Afrikaans in al sy verskyningsvorme in die WAT neerslag vind. Reeds van 1926 af word daar aan dié omvattende woordeboek geskryf – tot die laat jare tagtig van die vorige eeu met die hand op kaartjies en op tikmasjiene!

WATstel

In sy verwelkomingstoespraak haal prof. Arnold Schoonwinkel, voorsitter van die WAT se direksie, nie verniet uit die commendatio aan nie van die ATKV se Woordwystoekenning in 2014 aan Deel 14 van die WAT: “As woordeboek wat die Afrikaanse woordeskat so omvattend as moontlik boekstaaf, is die WAT monumentaal in die lewe van Afrikaans.”

So bedank dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van WAT, sy span vir hulle werk aan Deel 15:

Dr. Frikkie Lombard“Iemand het op ’n kol gesê taal is waarskynlik die grootste kenmerk van ons menswees. ’n Ander persoon het gesê taal is daardie anonieme kollektiewe kuns wat die resultaat is van kreatiwiteit en vindingrykheid van duisende geslagte. As woordeboekmakers is dit ons taak en reuseuitdaging om aan daardie anonieme en kollektiewe kuns gestalte te gee. Woordeboekmaak is ’n uitdagende werk. Uitdagend wat die kognisie betref en op vele ander terreine. Ek wil amper sê dis ’n soort Sisiphosarbeid. Sisiphos was die man in die Griekse mitologie wat deur die gode aangesê is om ’n groot klip teen ’n berg uit te rol en as hy bo kom, neuk die klip weer af tot onder. Dan moet hy van voor af begin en die ding boontoe vat. Dit is min of meer wat leksikografiese werk ook is. Omdat ons gestalte gee aan woorde, is ons in ’n sekere sin kuratore van taal. Dis ’n groot en moeilike taak en verantwoordelike werk. Woordeboekmaak self is werklikwaar ’n veeleisende soort monnikewerk. ’n Mens moet gaan sit en jy moet maar ploeter en werk. Daarby is die skryf van ’n woordeboek min of meer soos om liefde te maak: Jy weet nie altyd of jou vreugde gedeel word en of jou insette waardeer word nie. Woordeboekmakers verwag nie dat hulle werk geprys sal word nie; hulle hoop maar net dat hulle nie te veel verwyte toegeslinger sal word nie.

“Vandag bedank ek baie graag my kollegas wat reusewerk verrig het om hierdie tweede deel van S – daar gaan drie dele wees – te laat verskyn. Ek noem hulle graag by naam [...]

Ook die kantoorbestuur, vyf nuwe redakteurs wat met onverdrote ywer aan die proewe help lees het, en die WAT se medewerkers word bedank: “Kollegas,” sê Frikkie, “ons het op die Prokrustesbed gelê, ons het bokerf getrek, ons het noustrop getrek, ons het dit hotagter gehad, maar ons het op die tredmeule bly loop, skouer aan die wiel gesit en die wa deur die drif gesleep. Daarvoor my hartlike dank. 

 WATred1  WAT-redaksie  Dr. Willem Botha (hoofredakteur van die WAT)

By die saamstel van enige woordeboek speel vakkundige raadgewers ’n onontbeerlike rol. “Vir leksikograwe is dit dikwels die geval dat jy voel jy weet ’n bietjie van alles maar die heel meeste van niks nie en des te meer wanneer jy met vakterminologie werk en jy deskundige hulp nodig het om jou te help om ’n geloofwaardige definisie daar te stel.” So sê Alet Cloete, een van die WAT se twee senior mederedakteurs. Danksy die historiese verbintenis tussen die woordeboek en die Universiteit van Stellenbosch was die WAT-redaksie nog altyd in die gelukkige posisie dat hulle op baie bekwame kenners kon staatmaak. By die bekendstelling van Deel 15 is vyf van dié medewerkers vir hulle uitmuntende werk oor verskeie jare vereer.

Alet CloeteOor prof. Jan Giliomee sê Alet: “Prof. Giliomee is vanaf Deel 8, die tweede deel van die letter K, wat in 1991 verskyn het, as medewerker by die WAT betrokke en lewer veral op die terrein van die insektekunde, die entomologie, gewaardeerde werk. Hy word in die voorteks van Deel 7 al vermeld omdat hy een van die mense was wat in daardie stadium reeds meer as 50 indekskaarte tot die WAT se materiaalversameling bygedra het. Prof. Giliomee verstaan die kuns om die gaping tussen die vakman en die leek te oorbrug. Dit is vir hom glad nie ’n probleem om baie ingewikkelde, moeilike terme op ’n verstaanbare wyse by ons tuis te bring nie. Die meeste van ons weet wat die verskil tussen ’n ruspe en ’n wurm is, maar wanneer dit kom by ’n snuit of ’n proboskis, of wanneer ons wil weet wat die verskil onderling is tussen spinnekoppe aan die een kant en myte aan die ander kant, dan het ons deskundige hulp nodig. Dit is op hierdie terreine waar prof. Giliomee soveel gewaardeerde insigte kon bied. Baie dankie dat u vir ons die grillerigheid uit die goggas haal en ons help om met wetenskaplike oë na insekte te kyk.”

Prof Izak Grové, die vakkundige medewerker vir musiek, is sedert Deel 9, wat in 1994 verskyn het en die letter L beslaan, by die WAT betrokke. Die leksikografie is vir hom nie ’n onbekende terrein nie; hy het ook bygedra tot die samestelling van die Suid-Afrikaanse Musiekwoordeboek. Professor Grové lewer altyd vir die WAT definisies wat van erns en presisie getuig, sê Alet. “Dankie dat u ons help om harmonieuse definisies te maak wat die regte snaar aanroer wat musiek in ons ore is.”

Prof. Jan Lochner is die WAT se vakkundige medewerker vir geneeskunde sedert Deel 10, wat die letter M beslaan. Hy is ook ’n gesoute leksikograaf wat met die Woordboek vir die Gesondheidswetenskappe ’n wesenlike bydrae daartoe gelewer het om mediese terminologie te vestig en uit te brei. “Prof. Lochner begryp baie goed hoe moeilik dit vir ons is om akkurate definisies daar te stel en daarom is sy definisies altyd helder, logies, op die man af, klinies, soos ’n mens dit van ’n geneeskundige verwag,” sê Alet in haar bedanking aan hom. “Verder is dit altyd vir hom belangrik om ’n geneeskundeterm te dissekteer sodat hy in die proses by die Latynse en Griekse wortels daarvan uitkom. Hy sny tot die been. Baie dankie, prof. Lochner, dat u ons definisies vir ons reg dokter, dat u help dat hulle kerngesond is en in die proses ook bydra tot ’n goeie prognose vir die gesaghebbendheid van die WAT.

Dr. Gerda Odendaal

  Charléne de Kock André du Plessis en Gerhard van Wyk Dané Claassen

 

Gerhard van WykGerhard van Wyk, die ander senior mederedakteur, bedank vir prof. Sakkie Rust, vakkundige medewerker vir geologie en mineralogie, al van Deel 4 af, die letter H en I wat in 1961 verskyn het. “Sy antwoorde is gestroop van enige hoogdrawende akademiese taal ... Prof. Rust, baie dankie dat u al soveel klippe uit die WAT-redaksie se pad gerol het.”

Die vyfde medewerker vir wie dankie gesê word, laaste maar nie die minste nie, is prof. Christo Viljoen. Prof. Viljoen, sê Gerhard, is waarskynlik die veelsydigste medewerker in die WAT se geskiedenis. Hy is die woordeboek se vakkundige medewerker vir ’n hele paar vakgebiede: elektriese en elektroniese ingenieurswese, radar, radio en televisie en telefonie. Prof. Christo is reeds van Deel 5 van die WAT, die letter J en die eerste deel van K, ’n medewerker. Dus van voor 1968 af al.

“Prof. Viljoen het die kuns bemeester om die ingewikkelde kwessies waarmee die WAT-redaksie te doen kry op ’n verstaanbare manier uiteen te sit. Wanneer ’n mense sy antwoord op jou taalnavraag kry, gaan ’n helder elektriese lig vir jou op en is daar geen steuring meer in die seine wat tevore maar net een groot geruis was nie.”

Sedert die verskyning van Deel I op 7 Mei 1951 het dit 68 jaar geduur vir die WAT om van A tot by die letter S te kom. Nou is 18 en twee derdes van die alfabetletters klaar. Nog sewe van die 26 letters lê voor.

Prof. Arnold SchoonwinkelDie direksievoorsitter, prof. Schoonwinkel, is optimisties. Hy vertel: “Die WAT se bestuur, direksie en trust het in 2018 die besluit geneem om die produksie van die WAT te versnel en ’n waagmoedige maar vasberade tienjaarplan daargestel om die WAT te voltooi tot by Z. Dit gaan ’n paar ekstra rand kos, R32 miljoen om die waarheid te sê, om dit oor ’n tydperk van 10 jaar reg te kry, maar vandat daar met die kampanje begin is, weer na ou vriende en ondersteuners gegaan is, is daar byna voldoende fondse om die versnelde trajek voort te sit.”

Verlede jaar is daar by die WAT se bekwame, hardwerkende span nog vyf addisionele redakteurs aangestel. In Banghoekweg in Stellenbosch is dié span volstoom aan die werk om reeds volgende jaar die derde en laaste boekdeel van S die lig te laat sien.

Terwyl dié werk voortgaan, sê prof. Schoonwinkel, word daar ook na nuwe formate en aanbiedingswyses, aanlyn, gekyk – in die belang van produktiwiteit, maar ook in belang van die gebruiker.

Deon Meyer en Coenie de Villiers in gesprekTerwyl Coenie de Villiers en Deon Meyer ons met onder meer uittreksels uit hul Karoo-suite vermaak het, kon ek die eerste stapeltjie leergebonde eksemplare van WAT 15 net van ’n afstand bewonder. Sodra die drukker die res van die oplaag by die WAT aflewer, val ek dus weer in die pad om my eksemplaar te gaan afhaal.

Dan kom vertel ek hoe dit binne lyk!

Die slegte nuus is dat die nuwe deel nie ook op CD-ROM gaan verskyn nie. Maar onthou dat jy die WAT – binnekort ook die nuutste deel! – in VivA se Woordeboekportaal kan raadpleeg.

**Tesame met ons eie Woordeboek van Eietydse Afrikaans (AWEA) waarin ons op nuwe inskrywings van A tot Z fokus, terwyl die Stellenbosse span voortbeur na Z.

WATleer

Lees 1466 tye Laaste modifikasie op Donderdag 18 April 2019 16:13

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK