Hoeveel woorde van Afrika tot Sri Lanka?

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 03 Mei 2019
Gepubliseer in VivA;

“Iemand het op ’n kol gesê taal is waarskynlik die grootste kenmerk van ons menswees. ’n Ander persoon het gesê taal is daardie anonieme, kollektiewe kuns wat die resultaat is van die kreatiwiteit en vindingrykheid van duisende geslagte.

“As woordeboekmakers is dit ons taak en reuseuitdaging om aan daardie anonieme en kollektiewe kuns gestalte te gee. Woordeboekmaak is ’n uitdagende werk, wat die kognisie betref en op vele ander terreine. Ek wil amper sê dis ’n soort Sisufoswerk. Sisufos was die man in die Griekse mitologie wat deur die gode aangesê is om ’n groot klip teen ’n berg uit te rol en as hy bo kom, neuk die klip weer af tot onder. Dan moet hy van voor af begin en die ding boontoe vat.

“Dit is min of meer wat leksikografiese werk ook is. Omdat ons gestalte gee aan woorde, is ons in ’n sekere sin kuratore van taal. Dit is ’n groot en moeilike taak en verantwoordelike werk. Daarby is die skryf van ’n woordeboek min of meer soos om liefde te maak: Jy weet nie altyd of jou vreugde gedeel word en of jou insette waardeer word nie. Woordeboekmakers verwag nie dat hulle werk geprys sal word nie; hulle kan maar net hoop hulle word nie te veel verwyte toegeslinger nie.”

So sê dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaans Taal, op 17 April 2019 op Stellenbosch by die bekendstelling van Deel 15 van die WAT – die tweede deel van die letter S wat uiteindelik uit drie dele gaan bestaan, want S is natuurlik die langste letter van die Afrikaanse alfabet en die letter, dus, waarmee die meeste woorde in Afrikaans begin.

Hoe weet ons dit? Wel, ons kan die lengte van ’n letter natuurlik meet deur te kyk na woordelyste, alfabetiese en frekwensielyste wat ons uit groot korpusse van Afrikaans onttrek. Met behulp van verskillende rekenaar- en korpusontledingsprogramme kan ons al hierdie woorde in hulle verskillende vorme (meervoude, verkleinwoorde, verledetydsvorme, ens.) tel, en ons kan die lemmas tel, die trefwoorde wat ons in ons woordeboeke opneem en in lang of kort artikels bewerk. Maar vir elke taal het leksikograwe vandag gelukkig ook nog ’n leksikografiese liniaal. ’n Liniaal wat ons kan gebruik om die makro- en die mikrostruktuur van ons woordeboeke te meet.

Wat is die mikrostruktuur van ’n woordeboek? Die mikrostruktuur is die interne struktuur van die artikel by ’n elke lemma. Die artikels waarin bepaalde soorte inligting in verband met die lemma/trefwoord aangebied word, byvoorbeeld grammatiese inligting; leiding oor hoe om die woord uit te spreek; inligting omtrent die verskillende betekenisse – die betekenisonderskeidings – waarin die woord gebruik (kan) word; betekenisverklarings in die vorm van definisies; gebruiksvoorbeelde: sinne, frases, kollokasies waarin die woord voorkom; uitdrukkings/idiome waarin die soekwoord aangetref word; etimologiese inligting, dit is inligting oor die oorsprong, die herkoms van die woord, hoe oud dit is, uit watter taal dit kom; inligting oor die gebruiksregister van die woord. Is dit formeel, informeel, sleng? Is dit ’n vakterm? In watter vak of vakgebiede word die woord dan gebruik? Ensovoorts.

Wel, om die makro- en die mikrostruktuur van ons woordeboeke te meet, gebruik ons dan die leksikografiese liniaal vir Afrikaans.

Dié meetinstrument is ontwikkel en verfyn deur prof. Danie Prinsloo van die Universiteit van Pretoria en prof. Maurice de Schryver van die Universiteit van Gent in België. Hulle het leksikografiese liniale vir al Suid-Afrika se inheemse tale en ook een vir Engels ontwerp. (Lees meer hieroor in Prinsloo, D.J. 2010 . Lexikos 20 (AFRILEX-reeks 20: 2010): 390-409.)

Elke taal se leksikografiese liniaal is uniek. “Geeneen van die 11 landstale se inherente balans in alfabetiese kategorieë kom ooreen met dié van ’n ander taal nie, selfs nie eers vir nouverwante tale soos Sepedi, Setswana en Sesotho nie,” het prof. Prinsloo bevind.

So lyk die leksikografiese liniaal vir Afrikaans (Prinsloo 2010).

Afrikaansliniaal

Dié liniaal is geïntegreer in TLex, die gesofistikeerde rekenaarprogram wat leksikograwe in Suid-Afrika en ook baie leksikograwe in baie ander lande in die wêreld vir die samestelling van hulle woordeboeke gebruik. As ’n mens, terwyl jy aan jou woordeboek werk, hierdie liniaal dophou, help dit jou om ’n goeie balans te handhaaf ten opsigte van die getal lemmas en die getal bladsye per letter van jou woordeboek, want met behulp van die grafiek identifiseer ’n mens maklik inkonsekwenthede op die makro- en/of die mikrostrukturele vlak.

In die verlede was woordeboekkenners, byvoorbeeld, bekommerd oor die oormaat ensiklopediese inligting wat hulle vermoed het veral in die laaste dele van die letter K, spesifiek die dele KLA-KOL, KOM-KOR- en KOS-KYW- van die WAT ingesluip het. Vandag wys die leksikografiese liniaal vir ons dat hulle reg was om te waarsku: Lys die betekenisonderskeidings, definieer hulle, moenie oorverduidelik nie ...

Want kyk ’n bietjie hoe lyk dié meting in prof. Prinsloo se Lexikos 20-artikel (2010) van die WAT se struktuur by K:

WATliniaal

Die WAT se redaksie het hiervan kennis geneem en gereageer. Die wanbelans wat daar was, is reggestel. Nou lê daar nog net die afdraandedeel van S en die laaste skof voor, van T tot by Z.

As die huidige plan hou, moet Afrikaans se groot, omvattende woordeboek oor tien jaar klaar wees.

Die voltooiing van Deel 15 vanjaar, van skool tot by Sri Lanka, bring die hooftrefwoorde waarvan die betekenisse in die WAT verklaar en beskryf word, op meer as 200 000 lemmas te staan en die totale woordtelling van die 15 voltooide boekdele op altesaam 14,2 miljoen woorde tot dusver.

Wat is die verskil tussen die omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) en die standaard- Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT)? Die vraag word dikwels gestel. Vergelyk teenoor die WAT se meer as 200 000 lemmas die HAT se raps meer as 60 000, en teenoor die WAT se woordtelling van 14,2 miljoen die HAT se 240 000 woorde, dan raak dit duidelik.

Dié week het ek my eksemplaar van die WAT se Deel 15 ontvang en Frikkie hoef hom geen sorge te maak nie. Wie Afrikaans is en deur dié boekdeel blaai, kan nie anders as bly en dankbaar wees nie.

Noem maar op:

Woorde uit die planteryk: soetamandel, soetemaling, sooibrand- en sosatiebossie, smutsvingergras, sonrosie, soutganna, sparreboom ...

Woorde uit die diereryk: smaragakkedis, snawelkrokodil, sneesvark, snoekgaljoen, songolôlo, sonbesie, sonroepertjie ...

Woorde vir eet en woorde vir drink: van sojaboonkoek tot sojavleis, sopbone en sopgroente; Italiaanse skulppasta en skroefnoedels; Griekse souvlaki en spanakopita; Franse soufflé, Japannese soesji en soekijaki; Afrikaanse soesies en soetkoekies, sousboontjies en souskluitjies; ’n smoortjie uit die Bo-Kaap; smoothies en smolletjies (uit Engels “small” vir ’n sopie of alkoholiese drankie) ...

Woorde vir aantrek: sonrok en sombrero, spanbroek, spantop en soldatebaadjie, sokkieophouers en spataarkouse ...

Woorde vir vandag: skottelbraaier, skrummasjien, skrapknoppie, skuilskrywer, skuimkanon, smeulroman, snikstorie. Sokkerweduwee. Sommelier. Sosiogeniëring, oftewel sosiale manipulasie. Spioenware ...

Woorde van gister. Woorde uit elke streek. Woorde uit elke Afrikaanse variëteit: sneesvraggie, skoplamaai, skubbejakke, soetrandjiesdoos, skuitjiegooi, soppang, spookhandjie, spaza ...

As Afrikaans jou moedertaal is, is ál dié woorde (7 394 in Deel 15) joue.

Bestel die papieruitgawe by die Woordeboek op Stellenbosch en teken vir ’n appel en ’n ei op dié hele skatkis in. In VivA se Woordeboekportaal by viva-afrikaans.org.

Jy kan ook na ’n podsending van dié blog luister:

’n Uittreksel uit hierdie artikel verskyn op 3 Mei 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in Beeld logo 

Lees 360 tye Laaste modifikasie op Vrydag 03 Mei 2019 08:50

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK