Iemand kan daar staan en jou dom-verleë aangrinnik met ’n gesig wat tot ’n lag vertrek, soms met ’n gromgeluid uit die keel daarby, terwyl nóg hy nóg jy lus het vir grappies. ’n Mens kan grinnik van pret, maar ook van senuagtigheid of spot. As boosaardigheid teenwoordig is, word grinnik ’n grynslag, ’n hoonlag: spottend, haatlik, bitter, satiries.
Jy kan jou teleurstelling oor iets verberg deur dit af te lag. ’n Mens kán deur jou trane lag.
’n Lag kan wissel van ’n ingetoë glimlag tot ’n beheerste, ironiese, meerderwaardige grimlag. ’n Flou laggie kan aangroei tot ’n breë lag wat die mond van oor tot oor laat rek. Lag kan vrolik, sorgvry wees, of ’n onderdrukte geproes, ’n kinderagtige gegiggel, ’n giggellag, slu en nydig, of ’n geklike geggellag, kekkellag, koggellag.
Partykeer is ’n mens dik van die lag, partymaal sukkel jy om jou lag te bedwing. As jy dit nie regkry nie, as jy jou lag nie kan hou nie, proes jy, uiter jy ’n blaaslag wat die druppels laat spat.
Iemand wat uitbars van die lag, lag bulderend, agter uit die keel, agter uit die kiewe, kraai van plesier. Ander word oorval deur skielike lagbuie wat kan oorgaan tot lagstuipe, huilstuipe selfs, ’n onbedaarlike lagbui wat mense laat skrik.
Net so kan storiekarakters brul, gier, die maag vashou, lag of hulle betaal word, dermate dat hulle nie kan praat nie. Hiklag. Hoeslag. Huillag. Skater.
Ek lag my ’n apie, ’n boggeltjie ... ’n boggeltjie met ’n stompstertjie, met ’n skuifraampie, ’n ertjie, ’n papie. Ek lag my gô uit. Ek lag my gedaan, krom, siek, slap ... slap katjie, katswink. ’n Mens kan stik, kruip, rol, krul, lê van die lag. Iemand wat só onbedaarlik lag, kan ’n mens maar sê, se lagsakkie het gebars. ’n Duisendpoot het hom gebyt, word soms gesê – ’n herinnering aan die ou volksgeloof dat iemand wat deur ’n duisendpoot gebyt word, lag tot hy daarvan sterf.
Om laggeluide te beskryf, bied die WAT onder meer die tussenwerpsels “ha”, ‘hè’ en “hi” wat twee of drie maal herhaal of in reekse verbind kan word. “Hè” vir ’n huil-lag, “hi” vir ’n hoë laggeluid, “ha” vir lag uit die maag: Ha-ha-ha! Hè-hè! Hi-hi-hi! Hi! Vir ’n harde keellag is daar “ka” en “kê”.
In korpusse van geskrewe taal vind ek by vernuftige skrywers wat klaarblyklik oor ’n goeie gehoor, ruim mensekennis en ’n fyn waarnemingsvermoë beskik, ook nog “hie” en “gie” en ander klanknabootsende vorme. Soms gekoppel, soms vas aanmekaar. Ek vind geen fout daarmee nie. Vergelyk, byvoorbeeld:
Kê-kê-kê! Hy het ’n skelle, sketterende skaterlag waarmee hy jou tart.
(F.A. Venter, Die keer toe ek my naam vergeet het)
“Ernst,” het dr. Con dikwels met ’n raaiselagtige glimlag aan my gesê, “is ’n uitstekende toneelspeler.” En wanneer ek hom gevra het om dié stelling toe te lig, het hy op Coniaanse wyse “hiehiehie” gelag en van onderwerp verander.
(Hennie Aucamp, Allersiele)
Hy vra my uit oor alles wat gebeur het, en tussendeur lag hy gie-gie-gie en ga-ga-ga en ek dink nie dis ’n grap nie.
(George Weideman, Draaijakkals)
En wat gebeur toe? Die donker wolk oor Hugo se gesig verdwyn voor een groot volmaanglimlag. Toe skaterlag hy dat jy hom in Kerkstraat kan hoor. “Tja, tja! gie-gie . . . hegge . . . hêê . . .” Alles aan hom skommel. [...] Tja, tja! Hegge-hegge. Gie-gie.”
(P.H. Nortjé, Wellington se suiker)
Maar hierteenoor is daar natuurlik ook die pruimmonde wat g’n duisendpoot hoef te vrees nie; diegene waarvan skynbaar niks ooit die lagspiere prikkel of kielie nie, wat selde ’n lagspier trek, en selfs dan lag of hulle kiespyn het.
Van so iemand het Eugène Marais geskryf: “Elke keer dat hy glimlag, skeur sy broek.”
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op Vrydag 17 Mei 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in