Reëls vir "hul" in donker gehul

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 30 Mei 2019
Gepubliseer in Nuus;

Daar is, soos wat ek uit die navrae oor die kwessie kan aflei, uiteenlopende menings oor die aanvaarbaarheid van hul en hulle in skryftaal. Sommige gebruikers wil hul met wortel en tak uitroei, want hulle beskou dit nie meer as Afrikaans nie; ander wil dit met mag en mening behou, want hulle beskou dit as ʼn anker en ʼn verbintenis met Nederlands.

Albei groepe is natuurlik verkeerd. Hul is ʼn geldige woord – dit is opgeteken in moderne woordeboeke – en ons kry hul nie uit Nederlands nie – dit is in der waarheid eg Afrikaans; die ooreenstemmende Nederlandse voornaamwoord is hun. Volgens die taalkundige prof GS Nienaber (aangehaal in die WAT) het hulle en hul in die negentiende eeu hier in Suid-Afrika uit die Nederlandse hun-liede of hun-lui ontwikkel.

Dit is alles goed en wel, maar dit help navraers nie. Wanneer mag hul en wanneer mag hul nie?

Ek kry die volgende in HAT se Taalgids, altyd ʼn nuttige bron as ʼn mens oor sulke klitsgrasse wonder:

hul x hulle

In sommige kringe word geglo dat hulle die persoonlike voornaamwoord is en hul die besitlike voornaamwoord. Hiervolgens moet ’n mens dus sê Hulle eet hul kos. Daar is egter geen ware grond vir dié siening nie … Albei kan as sowel persoonlike as besitlike voornaamwoord gebruik word.

Waarteen die Taalgids hier waarsku, is ʼn dogmatiese voorskriftelikheid oor hulle en hul, wat wil bepaal dat die besitlike voornaamwoord slegs hul en nie hulle mag wees nie. ('n Mens sou dus nie kon skryf Hulle eet hulle kos nie.) Dit is nie korrek nie. Die bron sê trouens dat "daar niks fout mee is om hulle as besitlike voornaamwoord te gebruik nie".

Die WAT en die HAT ondersteun hierdie standpunt. In albei bronne word hul naas hulle by die inskrywing gegee. Dit beteken die leksikograwe beskou hulle en hul as uitruilbaar. Daar word ook nie in enige van die twee bronne enige beperking op die gebruik van dié voornaamwoorde gelê nie. Dit beteken die onderstaande sinne is almal korrek:

  • Hulle [persoonlike voornaamwoord] lê op hulle [besitlike voornaamwoord] beddens en slaap.
  • Hulle [persoonlike voornaamwoord] lê op hul [besitlike voornaamwoord] beddens en slaap.
  • Hul [persoonlike voornaamwoord] lê op hulle [besitlike voornaamwoord] beddens en slaap.
  • Hul [persoonlike voornaamwoord] lê op hul [besitlike voornaamwoord] beddens en slaap.

Ek vermoed egter baie sterk dat daardie laaste twee voorbeeldsinne met hul as persoonlike voornaamwoord vir die meeste gebruikers effens ongemaklik op die oor val.

Die HAT se skoolwoordeboek ondersteun hierdie standpunt, want daarin word daar wel aangedui dat hul ʼn besitlike voornaamwoord is. Die inskrywing lyk so:

hul·le vnw.

  1. (dui die ander mense aan waarna verwys word): Hulle woon in Kimberley.Ek het hulle lank laas gesien. 
  2. Ook hul. (dui aan dat waarna verwys word, aan ander behoort): Dit is hulle boeke.Het jy hul motor gesien?

Met die aanbreek van die digitale era het taalnavorsers en taalnuuskieriges nou ook ʼn ander, baie nuttige hulpbron tot hulle beskikking om hulle aanvoeling in verband met taalgebruik te bevestig. VivA beskik oor 'n korpus van honderdduisende geredigeerde tekste waarin ʼn mens soektogte na woord- en taalgebruik kan uitvoer. In dié korpus word my vermoede bevestig: Hul word gebruik, en baie gebruik, maar dit word as besitlike voornaamwoord aangewend. In moderne geskrewe Afrikaans is hul as persoonlike voornaamwoord feitlik onbekend. In skryftaal, veral in ouderwetse skryftaal soos in vroeëre Bybelvertalings, is dit nog algemeen, maar daar is min van ons wat hul as ons praat. Werklike voorbeelde van taalgebruik waarin hul as persoonlike voornaamwoord optree, is in die WAT opgeteken: En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak (Hand. 16:23).

Nota: Dit is so in die 1933/53-vertaling. In die 1983-vertaling het die Bybelvertalers die kwessie met die passief omseil.

Ek mag dus op hierdie punt (versigtig) voorstel dat ʼn mens vir aanleerders van Afrikaans kan sê: Gebruik hulle as persoonlike of besitlike voornaamwoord; gebruik hul liefs net as besitlike voornaamwoord.

Wanneer dan? hoor ek al leerders vra. Wanneer gebruik ek Hulle lê op hul beddens en wanneer is dit Hulle lê op hulle beddens?

Die leidraad hier is weer eens in die Taalgids: "Skrywers wissel soms tussen hul en hulle indien hulle in ’n bepaalde sin te veel (en te naby aan mekaar) voorkom, byvoorbeeld iets soos Hulle sê hulle kinders moet hulle kos eet as hulle hulle roomys wil hê."

Die WAT stel dit so: "Hulle en hul … word deur sprekers en veral skrywers, ook met die oog op eufonie, dikwels met mekaar afgewissel, veral wanneer die woord meer as eens in dieselfde sin voorkom, bv. hulle het vir hul osse gekoop; hulle trek hul neus vir alles op."

Over geset synde: Die gebruik van hul x hulle as besitlike voornaamwoord is ʼn stylkwessie. In sinne met ʼn klomp hulles is dit gemakliker vir die leser as ʼn mens elke nou en dan hul gebruik. Maar hou dan in gedagte dat hul ʼn skryftaalwoord is en dat dit geneig is om ʼn teks effe meer formeel te laat klink. Vermy dit in dialoog, wat lewensgetrou moet klink, en vermy dit in baie informele tekste of in tekste waar ʼn mens byvoorbeeld vir vreemdetaalsprekers of baie jong taalgebruikers skryf.

VivA-groete

Sophia

Lees 837 tye Laaste modifikasie op Donderdag 30 Mei 2019 15:26

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK