Pampoen tot pampoesie

Geplaas deur Jana Luther Maandag 03 Junie 2019
Gepubliseer in VivA;

pampoen“Aanskou hierdie pampoen. Die helder, klewerige diamantdruppeltjies sit nog aan die stingel waar jy hom gesny het. Mooi woord, ‘pampoen’. Dis so pammerig en poenerig. Dit voel sommer swaar.” So begin Marthinus Versfeld se ode aan die pampoen in Borde, borde, boordevol, Hennie Aucamp se versameling essays en verhale oor kos.

Ligvaal, wit en donkergroen, goudgeel, oranjerooi. Gestoof, gekook, gebak, gebraai. Of kaboe gaargemaak – net so in die skil (nes kaboeaartappels of -patats).

Eet jou pampoen, dit laat jou hare krul, het die ou mense gesê.

In Beeld (toe dit nog Die Beeld was, op 23 Oktober 1991) skryf iemand van wie ek nie die naam kan vind nie: Die eerste stap is om jou pampoen deeglik te ondersoek voordat jy hom pluk. Jy voel met jou hand oor die rondinge, dan krap jy met ’n vingernael ’n stukkie skil af, bestudeer dit tydsaam om die tekstuur te bepaal, en dan klop jy met jou middelvinger al in die rondte om die stingel om die digtheid en kapasiteit vas te stel. ’n Dowwe klop dui daarop dat die pampoen nog te groen is. Jy moet ’n vaste klop kry. Amper soos ’n vaste kroephoes. Dit beteken jou pampoen is ryp en vlesig; wat daarop dui dat jy kan pluk.

Sondeurdrenkte boerpampoen. Hubbardskorsies of vroeëpampoen, ook “korrelkoppampoen” genoem. Botter-, lemoen- en murgpampoentjies. Kromnekpampoene, soos die “slonspampoen” (van “selonspampoen”, oorspronklik uit Ceylon) en die “gatruikerpampoen” (uit Tulbagh en Clanwilliam). Almal vrugte van die genus Cucurbita wat tussen 7 000 en 9 000 jaar voor die huidige jaartelling reeds in Amerika verbou is, maar wat eers in die 16de eeu na Europa en van daar na die suidpunt van Afrika gebring is.

Pampoen, uit Nederlands: pompoen, kom (nes Engels se pumpkin ook) uit Ou Frans: pompon, via Latyn: peponem, uit Grieks: pépōn, met die betekenis: ‘rypgemaak deur die son’.

Vanweë sy vorm en kleur word die pampoen dikwels met die maan en ander rondhede in verband gebring: In Die duiwe van Botala (Engela van Rooyen) hang die volmaan “soos ’n geel pampoen bo die dakkies”. In Breyten se “Fascistiese pampoen” word die pampoenmaan ’n “groot rooi rollende grommende bal”.

“Die liewe goeie Frau Vogel” in Draaijakkals (George Weideman), “het rondinge soos boerpampoene”.

’n Knewel van ’n pampoen – ’n bulpampoen – word in “Aspoestertjie” ’n koets, en middernag “pampoentyd”.

“Soos goue sakhorlosies tik snags die dakpampoene,” dig Charl-Pierre Naudé in “Ambience Afrikaans”.

Maar die pampoen word dikwels ook onbekwaam geag: Wie ’n pampoenbril dra, sien (doelbewus?) iets nie raak nie. Iemand wat akademies presteer, of uitgeslape is, is geen pampoen nie. Iemand wat sukkel, daarenteen, word skertsend-neerhalend maklik ’n “pampoen(kop)” genoem.

Op “All Hallows Eve”, Allerheiligeaand, vereer Rooms-Katolieke hul geheiligdes (“hallows”), maar in Amerika, waarheen Ierse immigrante dié gebruik gebring het, is die kenteken van Halloween vandag ’n pampoenspook: ’n uitgeholde pampoen met gate vir oë, neus en ’n mond waarin daar snags ’n kers of ander lig brand. Van dié kammabangmaakding kom die uitdrukking “vir pampoenspoke skrik”, as jy onbenullighede vrees. Of, as jy dapper is: “Ek skrik nie vir koue pampoen nie!”

Soms leen die pampoen sy naam aan ander dinge uit, onder meer aan die lieweheersbesie of ladybird, wat naas sy ander name (skilpadjie, skilpadkewer, bontrokkie, onselieweheersbesie, kaiing) soms ook “pampoenbesie” heet.

Die jeukpampoen is geen pampoen nie, maar ’n kruidgewas van die Karoo, ook bekend as wildepampoen, wildekalbas of pampoenbossie.

Met seepampoentjies speel dolfyne, want dié is seekastaiings. Terwyl “seepampoen” terselfdertyd ook die naam is van ’n stewige silwergrys plant met geel blomme wat langs die Suid-Afrikaanse kus, oral van Hondeklipbaai aan die Weskus tot by Mosambiek in diep sand op die kusduine en in riviermondings voorkom.

Pampoentjies by kinders is ’n aansteeklike virussiekte wat die speekselkliere (die parotiskliere) weerskante van die gesig ... wel, soos pampoentjies laat opswel. “Die seuns het altyd by die huis gebly as hulle pampoentjies het, want dit kon hulle kartjoenkels aantas,” onthou Girly in Skrikkelkind (Leon van Nierop).

Op “pampoen” in die WAT volg nog ’n pammerige woord: “pampoesie” – ’n sagte uitskoppantoffel, gewoonlik van leer.

 

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 31 Mei 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in Beeld logo

 

Lees 1028 tye Laaste modifikasie op Maandag 03 Junie 2019 10:36

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK