Deund, wrik, hekel en snert

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 14 Junie 2019
Gepubliseer in VivA;

fossielWat het die volgende woorde met mekaar gemeen? Ondeund. Onwrikbaar. Ontluik.

Wel, eerstens is al drie komplekse woorde. Dit is woorde wat uit meer as een woorddeel bestaan. (Morfoloë, wat die vorm en konstruksie van woorde bestudeer, noem sulke woorddele “morfeme”.)

Jy kan ook hierna luister.

Onder komplekse woorde tel afleidings en fleksievorme, samestellings, samestellende afleidings, samestellende samestellings en woordgroepsamestellings – die verskillende tipes woorde wat ’n mens kan vorm deur basisvorme (ook “stamme” genoem), en voorvoegsels en agtervoegsels op verskillende maniere saam te voeg.

Vergelyk, byvoorbeeld, skoene (’n fleksievorm met die woord skoen as basis waarby die agtervoegsel -e gevoeg is); onaktief (’n afleiding wat bestaan uit ’n basisvorm, aktief, en ’n voorvoegsel, on-); mosbeskuit (’n samestelling met twee basisvorme, mos en beskuit); en so meer. Onderbreking en seweweeksvaring is onderskeidelik ’n samestellende afleiding en samestellende samestelling; kruidjie-roer-my-nie ’n woordgroepsamestelling.

Vir die vorming van sulke komplekse woorde is die belangrikste beginsel dat elke lid – basisvorm, voor- en/of agtervoegsel – tot die geheel ’n spesifieke betekenis moet bydra. ’n Skoen is “iets wat ’n mens aan jou voet dra”; ’n -e daarby beteken “meer as een”. As ’n mens aktief is, is jy “besig met iets”. On- beteken “nie”. As ’n mens onaktief is, is jy nie aktief nie. On- dui in hierdie betekenis dus die teenoorgestelde aan van die woord wat daarop volg.

As ’n mens die dele van ’n komplekse woord verstaan, verstaan jy meestal ook die geheel.

Geld dit ook die inleidende voorbeelde hier bo, dus: ondeund, onwrikbaar, ontluik?

Die voorvoegsels by al drie is maklik genoeg: On- beteken “nie”. Ont- beteken dit wat daarop volg, word weggeneem: Uit vleis wat ontbeen word, word die been gehaal. Ont- kan ook die begin aandui van dit wat daarop volg: Iets wat ontvlam, begin brand. Die agtervoegsel -baar gee te kenne dat die voorafgaande ding die genoemde handeling kan ondergaan: Iets wat plooibaar is, kan plooie vorm of in plooie gevou word.

Neem ons dié voorvoegsels en die agtervoegsel weg, bly die basisvorme oor: Iemand wat nie deund is nie, nie kan wrik nie, en iets wat luik. Dié drie stamme, so op hulle eie, word omtrent nooit meer in Afrikaans gehoor nie. Daarom regverdig hulle ’n besoek aan die wonderlike Etymologiebank.nl. Dié plek op die internet waar enigiemand wat wil, maklik die herkoms van Afrikaanse erfgoed kan naspeur.

In al die bronne wat in die etimologiebank byeengebring is, kom ’n mens redelik maklik op die spoor van ’n woord se Europese verlede, soos byvoorbeeld dat die oorsprong van Afrikaans se ondeund die Nederlandse woord ondeugend was – om nie vir iets te deug nie. In die 17de eeu is dié woord vir dinge en vir diere gebruik. Wanneer dit van ’n mens gesê is, het dit “onsedelik” beteken, destyds ’n growwe belediging. In Afrikaans het dié beledigende betekenis, saam met die weglating van die middelste -ge-, egter mettertyd versag en verskuif. Wie ondeund is, sê die HAT vandag, is maar net ’n bietjie stout of tot kattekwaad geneig.

Wrik is oorspronklik ’n werkwoord. In Nederlands wrikken, wat beteken om iets heen en weer te wikkel, soos ’n spyker of ’n paal, byvoorbeeld, om dit uit ’n stuk hout of uit die grond los te kry. Iets of iemand wat ’n mens nie kan wrik nie, is dus onbeweegbaar. Onwankelbaar.

’n Luik is ’n houtklap of ’n deurtjie voor ’n venster, dié ken ons nog, maar in Nederlands is luik ook ’n werkwoord: om te sluit. As iets ontluik word, word die luike ontgrendel, weggeneem, gaan dit oop, by ons meestal figuurlik gebruik, soos van blomme of selfs die liefde gesê, wanneer mense se harte vir mekaar oopgaan.

Afrikaans het nog baie sulke voorbeelde: Verouderde, uitgediende woorde waarvan ons die oorspronklike betekenisse nie meer ken nie, maar wat nog versteen in komplekse woorde bewaar word. Voorbeelde van sulke woorde is veearts, tandarts, runderpes, treurmare, voorstewe, agterstewe ...

Is arts en rund nog lewende Afrikaanse woorde? Ek voel grieperig; ek dink ek moet arts toe gaan. My oupa boer met rundere, of runderen, soos in Nederland. Nee, ons gaan dokter toe; party boere boer met beeste. Maar as iemand tandpyn het, of as ’n dier siek is, word ’n afspraak by die tandarts, of by die veearts gemaak. Wanneer ons van ’n “dieredokter” of ’n “tandedokter” praat, word veral die laasgenoemde, meestal skertsend gebruik.

’n Soektog in Netwerk24 se argief lewer vandag 69 onlangse trefslae op van runderpes, ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat beeste, en ook wild, aantas. Tog praat niemand in Afrikaans meer van ’n bees as ’n rund, soos in Nederlands, nie.

Ons sien hierdie verskynsel ook in vaste uitdrukkings: Taalfossiele wat versteen geraak het in uitdrukkings wat ons nog algemeen gebruik, maar wat ’n mens andersins in Afrikaans nooit meer as alleenstaande woorde aantref nie. Vergelyk, byvoorbeeld: ’n hoë dunk van iemand hê, goedkoop is duurkoop, herwaarts en derwaarts, van heinde en ver, op heter daad betrap, hiet en gebied, en dies meer.

Die snert wat sommige mense praat en as soetkoek verkoop was in Nederland, oorspronklik, ’n waterige ertjiesop. Dus: met min voedingswaarde; iets van weinig belang.

Die herkoms van die hekel wat ’n mens dikwels kry aan sulke snertpraters, is minder duidelik, maar dit lyk asof dié oorspronklik verwant kon gewees het aan ’n woord uit Hoogduits – ekel – wat afkeer beteken. As ’n mens ’n hekel aan iets het, het jy dus ’n afkeer daarvan, of ’n renons daarin. ’n Gevoel van weersin.

’n Snars, in Nederland van die 17de en 18de eeu, was ’n vinnige teug. Byvoorbeeld ’n haastige sluk uit ’n bottel. Hoe dié woord egter in die uitdrukking “geen snars van iets verstaan nie” beland het, begryp ek self nog g’n snars van nie.

’n Verkorte weergawe hiervan verskyn op 14 Junie 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in Beeld logo

Lees 543 tye Laaste modifikasie op Vrydag 14 Junie 2019 07:33

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK