Van poetoe gepraat

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 19 Junie 2019
Gepubliseer in Nuus;

Ek kry in die week ʼn navraag van ʼn gebruiker: Beteken die woord poetoe in Afrikaans 'stywepap' of 'krummelpap'? Dit lyk na ʼn onbenullige vragie, maar ek weet sommer in my Afrikaanse gebeente hierdie een moet ek nie ligtelik opneem nie. Pappraatjies, het ek al geleer, is ʼn ding wat óf oorkook óf aanbrand.

Ek wend my dus na die bronne waarmee ek altyd wegspring as ek betekenis moet verifieer: As ek ʼn woordeboek kan aanhaal, kan ek die blaam vir die definisie op die leksikograwe verplaas en my hande in onskuld was, maar ek loop daar ʼn bloutjie. Dis vaag en dit verskil.

So lyk die WAT se inskrywing: poetoepap s.nw. Selde ook putupap. (poetoe: wsk. ‹Z. phuthu, "dik pap'') Pap (PAP I 1 a), gew. mieliepap, dikw. met bygevoegde meel, wat gekook word totdat dit droog en fyn is en 'n krummelrige tekstuur het, en wat tradisioneel in Afrika as ontbytkos en ook as bykos by enige maaltyd wat vleis bevat, geëet word; sin. poetoe; putu (ongewoon), en dikw. sin. met krummelpap: My vroegste herinneringe is van die growwe, heerlike ... geur van poetoepap ... Ons (het) almal om die pappot gesit (Boerd. S.A., Des. 1967, 59). Die ... gasvrou (het) soms nie die vaagste benul gehad hoe om stywe pap, krummelpap of selfs poetoepap te maak nie (Huisg., 12 Febr. 1981, 22).

Die HAT se inskrywing lyk so: poe·toe·pap s.nw. [dikwels verkort tot poetoe] (Zoeloe) drooggekookte krummelpap, gewoonlik met die hand geëet.
[Zoeloe uphuthu]

Die Etimologiewoordeboek sê die volgende: poetoepap s.nw.
1. Dik en styf gekookte mieliepap. 2. Drooggekookte, krummelrige mieliepap.
Samestelling van poetoe en pap, met die eerste lid uit Zoeloe phuthu 'pap'. Zoeloe phuthu beteken eintlik 'korrel', dus lett. 'korrelpap'.

Pharos se tweetalige woordeboek gee vir die Engelse putu (pap) die vertaling as "poetoe(pap), krummelpap", maar die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (ook in Pharos se stal, wel effe verouder) sê dit is "stywe, droë en krummelrige mieliepap, krummelpap; pap". Draadsittend, as jy nou nog nooit draadsittend gesien het nie.

Die AWS help nie met betekenis nie (dis nie die doel van die bron nie), maar help ons wel met uitsluitsel oor die spelling: poetoe of poetoepap. Die vorm met u (putu pap) is Engels.

Wat ek wel uit die inskrywings kan wys word, is dat Afrikaans die woord uit Zoeloe geleen het. Die verskillende Afrikaanse woordeboeke is dit nie eens oor die spelling van die Zoeloewoord nie, maar ek vertrou in hierdie geval Suid-Afrika se glanssjef Zola Nene, gereelde aanbieder op Expresso, kookboekskrywer en boorling van Durban. Sy sê dit is uphuthu. (Sy gee ook ʼn resep daarvoor hier.)

Die oorspronklike betekenis in Zoeloe help ons egter ook nie. Al wat ek kon aflei, is dat uphuthu 'dik pap' beteken. Dit sê nog nie hoe dik of hoe droog nie, wat beteken dat dit enigiets van taai tot kort duskant mieliemeel kan wees. Zola se resep en die foto daarnaas is dalk die beste leidraad wat ons tot dusver het: Dis krummelpap.

Wat dit ook al in die oorspronklike Zoeloe beteken het, is natuurlik nie ter sake nie. Afrikaans het die woord geleen en verafrikaans, en daarmee saam die reg gekry om self betekenis daaraan toe te dig. Wat dié betekenis is, word deur die Afrikaanse taalgemeenskap bepaal. (Die hele taalgemeenskap, of hulle nou pap eet of nie.)

Ten einde uit te vind wat die taalgemeenskap daaronder verstaan, het ons ʼn meningsopname op VivA en die Taalkommissie se Facebook-blad gehou. Die vraag het gewoon gelui: Wat verstaan jy onder die term poetoe of poetoepap? Is dit krummelpap of stywepap?

Die uitslag is uiteraard nie iets wat ʼn mens vir ʼn wetenskaplike gaan aanbied as bindend nie, maar dit gee ons tog ʼn idee van wat in die volksmond met die term gebeur. Meer as 1 300 mense het deelgeneem. 56% van die respondente het gesê dis krummelpap en 46% het gesê dis stywepap.

In ʼn opvolgvraag het ek probeer vasstel of die betekenis streeksgebonde is. Sou die Vaal die Stywepapgordyn wees, soos wat van die respondente beweer het? Die opvolgvraag het gelui: Indien jy gestem het vir stywepap, dui aan of jy ʼn Noorderling is of die woord by ʼn Noorderling aangeleer het. Uit 740 respondente het 388 (52%) gesê hulle het dit in die Noorde of by ʼn Noorderling geleer. 352 (48%) het gesê hulle het dit elders so geleer.

Die statisties verantwoorde antwoord op die oorspronklike vraag van die gebruiker is dus: Ek weet nie. Die werklike aanwending van die term deur die taalgemeenskap is so eweredig versprei dat dit nie vir my as taalkundige moontlik is om te sê dis meer die een as die ander, of dis in ʼn bepaalde streek meer die een as die ander nie. Dit is inderdaad, in die volksmond, volledig krummelpap of stywepap.

Wat ek wel uit die kommentare kon aflei, is:

  • Die krummelpappers en die stywepappers is ewe verbete oor hulle interpretasie van die woord. Dit is inderdaad ʼn aanbrandsaak.
  • Die styfheid of die krummelrigheid van die pap het waarskynlik meer te make met die individuele lede van die huishouding se voorkeure as met betekenis of ʼn resepvoorskrif. As jou ma lief was vir krummelpap, was julle poetoe krummels. As sy ʼn stywepapper was, was julle poetoe taai. (As sy suinig was met die meel, soos my ma, was julle slappappers.)
  • Daar is ʼn soort tussenpap, wat krummelrig in jou bord lyk, maar met die hande tot ʼn bolletjie gerol kan word. Ek vermoed dis die poetoe waaroor Alba Bouwer in Stories van Rivierplaas geskryf het. Dis ook die poetoe wat ek by my Vrystaatse ouma leer eet het.
  • Pap is deurweek van herinnering en nostalgie. Dis so deel van ons kinderdae as pienk ouderlingswiets en frikadelle op pad see toe. Jy peuter daaraan op eie risiko.
  • Wanneer gebruikers begin stry oor hoe groot poetoe se krummels nou werklik moet wees, is dit tyd vir taalkundiges om uit die kryt te klim en te loop spelreëls skryf.

Wanneer die hoofstuk oor die pap uiteindelik die dag klaar geskryf is, is daar natuurlik ʼn hele nuwe hoofstuk by te voeg: Wat eet ʼn mens saam met poetoe? Want tannie Hettie van Huyssteen, prof Gerhard van Huyssteen se ma, het laat weet ʼn mens eet dit saam met karringmelk. Jabulani, my linker- en regterhand, eet dit met damme melk en sonder suiker, en hy sê sy pa eet dit net saam met maas. My pa eet dit meeldroog met botter en suiker, en ʼn Vrystaatse universiteitskêrel van my het my elke oggend van die vakansie naar gemaak met sy ontbyt van fyn biltong en melk oor sy taai krummelpap. (As vergelding het ek langs hom gesit en rou piesang op my roosterbrood geëet.) Soos die pap, is die bykos ʼn bespreking wat kan brand.

Ek sluit sommer net vir die lekker, en vir almal wat nou lus gekry het vir poetoe, af met ʼn vinnige mikrogolfresep wat ek op ʼn agtermiddag langs ʼn braaivleisvuur by ʼn Engelssprekende Griek gekry het:

Bestanddele:
1 koppie mieliemeel
1 koppie kookwater
1 teelepel sout

Metode:
Mikrogolf die meel 1 minuut lank oop op hoog (ja, net so droog). Roer met ʼn vurk.
Mikrogolf weer 1 minuut op hoog. Roer weer.
Gooi die sout in die koppie kookwater en roer dit by die meel met ʼn vurk.
Mikrogolf dit 1 minuut lank oop op hoog. Roer.
Mikrogolf nog 1 minuut op hoog. Roer weer.
Plaas die deksel op die bak en laat staan vir 1 minuut.
Bedien met jou gunstelingtoevoeging. Die pap is genoeg vir 2 eters.

Nee, dit brand nie aan nie, maar dit kan ook nie flop nie. Vir ʼn moderne stadspapkoker wat nie tyd het om potte te skrop nie, is dit ʼn lekker resep om byderhand te hou.

O ja, die resep lewer krummelpap.

VivA-groete

Sophia












Lees 940 tye Laaste modifikasie op Woensdag 19 Junie 2019 13:08

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK