Generaal, generaal, wie kom jou dogter haal?

Geplaas deur Gerhard van Huyssteen Woensdag 26 Junie 2019
Gepubliseer in VivA;

Die generaal in ampstitels soos prokureur-generaal, landmeter-generaal, direkteur-generaal, ens. is nié 'n militêre rang nie, maar eintlik 'n adjektief wat 'algemeen' beteken. (Kyk hier by betekenis 3 onder Adjective). In Engels kry ons byvoorbeeld onderskeidelik 'n general manager en 'n director-general: by die eerste ene staan die adjektief voor die naamwoord, by die ander ene ná die naamwoord.

In sulke ampstitels het die betekenis van generaal verskuif vanaf 'algemeen' na 'hoogste': Die landmeter-generaal is die hoogste landmeter (!!), oftewel die hooflandmeter – die landmeter met die hoogste staatsamp. (Kyk ook in die WAT onder -generaal (met 'n koppelteken vooraan).)

Omdat generaal in sulke gevalle 'n adjektief is, kan ons nie die meervoud daarop vorm nie. Ons praat dus van landmeters-generaal, prokureurs-generaal en direkteurs-generaal.

Die militêre rang van generaal hou histories ook met hierdie betekenis verband. In die laaste deel van die 16e eeu het die kaptein-generaal (die hoogste kaptein) begin bekend staan slegs as generaal, en dit raak toe só gevestig as 'n naamwoord wat na 'n militêre rang verwys. (Kyk onder andere in Etymonline.) Die meervoud van luitenant‑generaal is dus luitenant‑generaals, soos ook brigadier-generaals, ensovoorts.

Tot slot, emeritus is 'n vergelykbare geval. Dit is 'n adjektief en beteken 'afgetrede'. In emeritus professor (só geskryf; kyk in die AWS) kan ons dus emeritus met afgetrede vervang. In Engels verkies hulle dikwels om dit ook ná die naamwoord te skryf, soos Professor Emeritus. (Kyk o.a. wat in die Engelse Wikipedia staan.) Net soos wat die naamwoord generaal uit die adjektief ontwikkel het, so het die naamwoord emeritus ook uit hierdie byvoeglike naamwoord ontstaan; die naamwoord word egter weinig in Afrikaans gebruik.

Lees 749 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK