Die klappertandkoue van ’n klappertandseisoen

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 28 Junie 2019
Gepubliseer in VivA;

O koud is kouddie windjie en skraal. Geslierte wolke teen die berghang – ’n koue front, oornag aangekom. Dit sny die vel soos vlae vuur.

Eugène Marais, Louis Esterhuizen, S.J. Pretorius. Hulle het geweet, ja.

Hoe beskryf ’n mens die weer as dit so is?

Nie bloot koel, koelerig, middelmatig, net effens koud nie. Nee.

Onbeskof koud, sou ’n mens kon sê.

Hoe sê jy dis koud-koud, daar waar jy is?

Braaf koud, sê die WAT, toe “braaf” nog “goed” was. Maar dapper moet ’n mens ook wees, meer as net ’n brawe Hendrik, want heidentjie, dis ysig hier.

Hondskoud. Helskoud. Gedug koud. Giftig koud.

Snerpend.

Bitterlik.

Bar.

As ’n mens die dag só ’n kraakkoue aan jou lyf voel – koud asof iemand jou in ’n kelder gestop het – raak jy gaandeweg blou. Die blouheid kleef aan jou, asof dit die suurstof uit jou bloed suig.

Ek is darem nou kaal so koud, sal die Piketbergers sê. Tot in die murg in.

Koue hande, ore, voete; koud gaan lê, opstaan, slaap. Jy bewe soos ’n biesie, soos ’n riet. Die klappertandkoue van die klappertandweer van dié klappertandseisoen sny deur jou gebeente, laat jou brr en bibber, rittel tot fyn knoppies op jou lyf uitslaan en jy lyk – en voel – soos ’n geplukte hoender.

Koud, koud my hart en hoendervel my siel.

Ja, Leipoldt het geweet.

Jy probeer die vingers van jou hand bymekaarbring, maar jy kan nie eens katpootjie maak nie, so koud is dit. Knypkoud. Bytend. Geniepsig.

Soeba, maar dis koud!

Vanaand gaan ons kam lê – vas, styf teen mekaar, teken die WAT by Kakamas op: Lepellê. Knipmeslê. Ons klipkoue voete ten spyt, want soe! Liewer klipvoete, selfs kleivoete, tog, as ’n klipsteenkoue hart?

Afkoel bied lafenis, koelte is braaf, maar teen die onbehaaglike kilte van een wat kombers afgooi en die ander in ysige stilte laat ... Klipkoud. Koud soos ’n grafsteen. Marmerkoud. Doods. Teen só ’n kilheid het die hart maar min verweer.

Afwesigheid lê koud aan.

Langsaam groei ons monde toe.

Hoeveel blou dae nog?

Hoeveel koue dae nog?

Barend Toerien, Breyten Breytenbach, Pirow Bekker. Hulle het verstaan.

Hier bydrae verskyn op 28 Junie 2019 in die rubriek Woordwisseling in Beeld logo

Lees 106 tye Laaste modifikasie op Vrydag 28 Junie 2019 10:28

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK