Oor is en was

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag 11 Julie 2019
Gepubliseer in Nuus;

Een van die groot kwessies in skryftaal is die gebruik van was en is om die verlede tyd aan te dui. Dit is vir leerders ʼn nagmerrie, vir onderwysers ʼn kopseer, en vir taalgebruikers onthutsend om te verneem dat hulle blykbaar nie hulle moedertaal behoorlik beheers nie, want elke kort-kort is daar een of ander taalnazi wat hulle kritiseer oor die verledetydsaanduiding in hulle skryfwerk. Hierdie blog is ʼn poging om so ʼn bietjie lig in die duister te bring.

Eintlik is die reël vir die verlede tyd in Afrikaans baie eenvoudig. Voeg die hulpwerkwoord van tyd in die sin in, voeg ʼn ge- by die werkwoord en skuif die deelwoord na die einde van die sin. Siedaar, verlede tyd:
Hy eet elke oggend papaja vir ontbyt. -> Hy het elke oggend papaja vir ontbyt geëet.

Maar soos met alles wat taal aangaan, is daar mos altyd ʼn paar uitskieters wat die netjiese reël deurmekaarkrap. Een so 'n uitskieter is die liewe is. Dié oënskynlik onbenullige woordjie is verantwoordelik vir ʼn klomp rooi kringe in opstelle, en dit kos soms kophou om die ding mooi netjies uit te pluis. Eintlik is daar net twee beginsels om te onthou:

1. As is ʼn hoofwerkwoord is, is die verledetydsvorm daarvan was.
2. As is ʼn medewerkwoord is, is dit reeds die verledetydsvorm.

Goed, een stap terug. As is ʼn hoofwerkwoord is, is dit ʼn koppelwerkwoord (dit koppel die onderwerp en ʼn eienskap van die onderwerp). Die verledetydsvorm van die koppelwerkwoord is is was. So lyk dit in ʼn sin:
Hy is moeg. -> Hy was moeg.
Hy is sy ma se oogappel -> Hy was sy ma se oogappel.
Hy is die eerste man op die maan. -> Hy was die eerste man op die maan.

Maar hier kom die vangplek: Is hoef nie ʼn hoofwerkwoord te wees nie, dit kan ʼn medewerkwoord wees. In so ʼn geval is daar ʼn ander hoofwerkwoord in die sin en is is net daar om die tyd aan te dui. Dit kry ons in passiefkonstruksies (ander naam: lydende vorm). Dit lyk so:
Hy word om die bos gelei. -> Hy is om die bos gelei.
Hy word van diefstal beskuldig. -> Hy is van diefstal beskuldig.
Hy word afgedank. -> Hy is afgedank.

In die laaste stel voorbeelde is daar telkens ʼn ander hoofwerkwoord (gelei, beskuldig en afgedank) en die is is in elke sin die passiefhulpwerkwoord.

Die fout wat baie taalgebruikers hier begaan, is om daardie is soos ʼn koppelwerkwoord te hanteer en dit dan ʼn was te wil maak:
Hy was om die bos gelei.
Hy was van diefstal beskuldig.
Hy was afgedank.

Die probleem wat vir die leser van ʼn teks ontstaan, is dat so ʼn konstruksie nie grammatikaal verkeerd is nie, maar dat dit iets anders beteken as wat jy bedoel. As jy so skryf, lei jy met ander woorde jou leser op ʼn dwaalspoor, want wat jy eintlik hier te kenne gee, is dat daar 'n ding gebeur het, maar dat hierdie ding nie meer so is nie:
Hy was om die bos gelei (maar hy weet nou wat die waarheid is).
Hy was van diefstal beskuldig (maar die klagte is teen hom teruggetrek).
Hy was afgedank (maar hy is weer in diens geneem).

Onderwysers en teksredakteurs wat oor die korrekte gebruik van was en is neul, is dus nie maar sommer net ʼn pyn in die oor nie, hulle beskerm die arme leser teen verdwaling in ʼn betekenisdoolhof.

Onthou dus jou twee beginsels:
• As is alleen in die sin optree (ʼn hoofwerkwoord is), is die verlede tyd tien teen een was.
• As is saam met ʼn ander hoofwerkwoord in ʼn sin optree, is dit tien teen een reeds in die verlede tyd, en gaan was ʼn ander betekenis aan die sin gee.

Mag dit vir jou, jou leser en jou redakteur tot stigting wees!

VivA-groete

Sophia

Lees 1781 tye Laaste modifikasie op Donderdag 11 Julie 2019 10:35

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Marinda Kolev Vrydag 19 Julie 2019 07:09 geplaas deur Marinda Kolev

    Hallo Sophia,

    Johnny Clegg se ma het in Engeland aan hom geboorte geskenk. Hy is nou oorlede. Is of was hy in Engeland gebore?

    Groete,
    Marinda

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK