Bord, bordeel, van tafel tot bed

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 19 Julie 2019
Gepubliseer in VivA;

plankeWaar kom die woord bordeel vandaan? vra ’n Hollander dié week op Twitter terwyl ’n klub vir volwasse vermaak terselfdertyd in Suid-Afrika in die nuus is.

Nou ja toe dan: Hier is ’n prima voorbeeld van hoe die betekenis van ’n eenvoudige leksikale item kan gedy wanneer sprekers van verskillende tale sonder “-isme”-benoudheid en puristegepruttel dieselfde woord oor en weer vir mekaar laat werk.

Kap ’n boom, saag planke, en jy het van die oudste boumateriaal aan die mens bekend.

Die woord “plank” kry Afrikaans – én Nederlands én Engels en ’n klomp ander tale – via Ou Frans uit Latyn. ’n Latynse “planca” was ’n blad of plaat, nes ons hedendaagse plank: ’n plat stuk hout, of iets wat ’n mens daaraan laat dink, soos ’n strykplankmaag of iemand wat hande langs die sye, gesig na onder, doodstil op haar maag lê. “Plancus.” Plat. Einde van dié storie.

Maar uit Proto-Indo-Europees, Afrikaans se oermoedertaal, kry Germaans en sy dogtertale ook die sinoniem “bord”. En gelukkig tog, want wat ’n veelsydige woord is dit nie! Betekenisgewys het dié “bord” die bordjies netjies verhang.

Van ’n plank, ’n bord, kan ’n mens ’n tafel maak, waarby jy kan sit, waarop jy kan eet. In die Middeleeue is kos voorgesit op planke wat op stutte geplaas is. Tussen maaltye het dié bokkietafels se blaaie, uit die pad, teen die muur gehang, soos skryf- en advertensieborde vandag. In Ou Nederlands was ’n “bord” dus ook ’n “tafel”.

In Engels word iemand ge-“board” wanneer hy of sy siek is en nie langer kan werk nie. Die raad wat oor sulke sake beslis, is in Engels ewe-eens ’n “board”. Genoem na dieselfde “bord” vir eet, waarom mense ook kan tafelsit. Ons kry dié betekenis ook in “board and lodging”, ’n “tafel” (met kos) en “blyplek”, byvoorbeeld. Informeel praat ons maklik van ’n “bôrdienghuis”.

Oor dié Engelse “board” skryf Johan Combrink in 1995: “Dié werkwoord is ongetwyfeld ook in die Afrikaanse omgangstaal ingemessel. Die vraag is net: Hoe skryf ’n mens dit? Board, bord of bôrd?”

’n Bord word, wel, ook as bord gebruik. Op ’n plankie kan ’n mens vir jou kos uitskep. As jy nie wil mors nie, help dit as jy die hout so ’n bietjie uithol. En dié voorwerp, waaruit ’n mens eet, bly ’n bord, al word dit later nie meer net van hout nie, maar ook in allerhande vorms van klei, blik, porselein, plastiek gemaak: eetborde, broodborde, diepborde, koekborde, sopborde ...

Planke timmer ’n mens ook aanmekaar. Die Franse, Italianers, Spanjaarde (sprekers van Romaanse tale wat oor germanismes klaarblyklik véél minder begaan was as Facebook en die media se anglisismebeswaardes) gryp die Germane se “bord” en pas die betekenis, uitspraak en spelling na hartelus aan om by hulle gebruike te pas. Die Franse bou plankskuilings en gee aan hul “borde” die betekenis “hut”. Vir volwasse vermaak neem die Romane op hul krygstogte vroue saam. Vir hulle harems en seksklubs rig die soldate plankhutjies op wat maklik van kamp tot kamp verskuif kan word. So ’n hut noem die Franse ’n “bordel” (“plankie”) en die Italianers ’n “bordello” en siedaar: Nederlands vat “bordel” van die Franse terug, maak daarvan “bordeel”, en Engels vat die Italianers se “bordello” vir hul “brothels”.

“Bord” gebruik ons vandag ook in verskeie Afrikaanse uitdrukkings: As die borde, of die bordjies, verhang word, is die situasie of toestand heeltemal anders as tevore. As ’n mens op die bord is, maak jy ’n goeie indruk, dan is jy gewild, is jy in tel. Skrap twee mense iets van die bord, dan is dit uitgewis, dan is ou geskille en verskille vergewe en vergete. As iemand ’n ander van ’n bord voor die kop beskuldig, gee die spreker daarmee te kenne dat hy of sy die ander persoon as skaamteloos beskou.

Ten slotte het ’n plank ook sy gesegdes: As jy die dag teen die planke is, is jy platgeslaan. Iemand wat planke saag, snork. Wie hard snork, saag balke.“Dankie op ’n plankie,” kan iemand dalk sê wat ’n ander se “dankie” nie verlang nie. Ja, dankie sit op ’n plankie.

** En ’n mens kan jou naam ook met ’n plank slaan. Soos wat ek in die verkorte weergawe doen van hierdie blog wat op 19 Julie 2019 in die rubriek Woordwisseling in Beeld verskyn. Daar skryf ek: Die meervoud van “bordel”, in Frans “bordeaux”, word die naam van ’n stad, ’n streek en toe sommer ook die wyn. Die rooie wat sy naam van plankies kry.” Dié brokkie vind ek in ’n betroubare bron van ’n betroubare skrywer, maar by die herlees kry ek, met my gebrekkige Frans, snuf in die neus. ’n Regstelling dus (met apologie aan Beeld en sy lesers!) Nie “bordeaux” nie, maar bourdeau” is die korrekte verkleinwoord hier. En Bourdeau die plek, die ware jakob, wat sy naam kry van ’n borde(e)l aan die rivier!

Die les (nota aan die self): belt en kruisbande. Maak altyd dubbelseker van jou feite! 

Beeld logo

Lees 717 tye Laaste modifikasie op Vrydag 19 Julie 2019 08:55

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK