Oor "word" en "raak", en "sal" en "gaan"

Geplaas deur Sophia Kapp Vrydag 02 Augustus 2019
Gepubliseer in Nuus;

Ek kry heelwat navrae oor die uitruilbaarheid al dan nie van sal x gaan en word x raak. Is dit sinonieme, of is die een verkieslik bo die ander?

Sulke vrae beantwoord ʼn mens uit ʼn verklarende woordeboek, omdat die woordeboekmakers baie tyd en aandag bestee het aan die optekening van hierdie woorde in werklike taalgebruiksituasies. Die twee wat ek graag raadpleeg, is die HAT en die WAT. In hierdie geval verlaat ek my grootliks op die HAT, want die WAT is ʼn grootse projek wat nog aan die gebeur is – die leksikograwe trek nou hier iewers in die middel van S rond; die beplanning is dat die hele ding oor vyf jaar klaar geskryf sal wees.

Ieder geval, word x raak. Dit gaan hier spesifiek oor kontekste soos die volgende:
Hy word/raak nou te groot vir sy skoene.
Dit word/raak vroeg lig deesdae.
Afwesigheid word/raak ʼn probleem.
Wyn word/raak suur as dit eers oopgemaak is.

Die HAT se inskrywing vir die twee woorde lyk so:
raak: een of ander toestand betree
word: oorgaan in ’n ander toestand

Op grond hiervan is word en raak volledig sinonieme as ons bedoel 'van een toestand na ʼn ander oorgaan'. Let wel, dit is nie korrek op te sê die twee woorde is sinonieme nie, want daar is betekenisonderskeidings waarin ons die twee nie kan uitruil nie. In ʼn konteks waar ʼn mens byvoorbeeld bedoel 'kwalifiseer vir ʼn beroep', is raak nie so gemaklik as word nie:
?Wat wil jy raak as jy klaar is met skool?
?Haar oudste seun is universiteit toe omdat hy ʼn dokter wou raak.

Selfs al lyk dit uit die definisie in die HAT dat word en raak dieselfde beteken, weet ons instinktief dat ons in sekere situasies eerder die een as die ander sal gebruik. Byvoorbeeld:
Die veld raak aan die brand.
Ek wil van my verstand af raak.
Hy het aan ʼn ander meisie verloof geraak.
Hoewel die sinne steeds beteken 'gaan van een toestand oor na ʼn ander', is raak hier deel van vasterige uitdrukkings en gaan word nie sommer in die sinne inpas nie. In ʼn konteks soos die volgende gaan ek eweneens eerder word as raak gebruik:
Ná ʼn eindelose gekarring het die melk uiteindelik botter geword.

Die ongemaklike antwoord is dus dat word en raak sinonieme is in ons heel eerste stel voorbeeldsinne hier bo, maar dat ʼn mens wel in sommige kontekste eerder die een as die ander gaan kies.

Wat van sal en gaan?

Die HAT dui by beide sal en gaan aan dat dit 'n modale hulpwerkwoord is wat gebruik word om die toekomende tyd aan te dui. (Let wel: Nie een van die twee word meer as ʼn hulpwerkwoord van tyd beskou nie, want enigiets wat so in die toekoms gaan/sal gebeur, is ʼn moontlikheid of waarskynlikheid.) In die voorbeeldsinne is gaan en sal uitruilbaar:
Ek gaan/sal dit doen; al sê julle ook wat.
Julle gaan/sal eers julle huiswerk doen voordat julle gaan speel.
Ons gaan/sal nie hierdie onregverdige belasting betaal nie.

Maar selfs in hierdie konteks is daar soms subtiele betekenisverskille:
Ek gaan môre leer. (Ek kan nie saam met jou gaan fliek nie, want ek wil leer.)
Ek sal môre leer. (Ek is nie nou lus om te leer nie, ek sal môre.)
Dit is dus ook nie hier moontlik om die twee woorde volledig sinonimies te verklaar en dit volledig uitruilbaar te gebruik nie.

Ek weet dit is ʼn ongemaklike antwoord, veral vir onderwysers van tweedetaalsprekers. Dit maak dit ook moeilik om ʼn memorandum op te stel, want ʼn mens moet so ʼn bietjie op taalinstink vertrou, en dit lyk my nie almal se taalinstink is ewe betroubaar nie. Hoe dit ook al sy, daar is nie ʼn reël wat voorskryf dat die een reg is en die ander verkeerd nie. Jy mag moeg word of moeg raak, en die son gaan of sal môreoggend in die ooste opkom. Wys dalk maar net in die taalklas op die uitsonderings en die betekenisverskille. Dit is per slot van rekening nie ʼn swakheid in die taal as dit nie netjies in ʼn blik pas nie, dis juis ʼn teken van sy seggingskrag en uitdrukkingsvermoë.

VivA-groete

Sophia

Lees 989 tye Laaste modifikasie op Vrydag 02 Augustus 2019 08:06

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK